Die waarheid maak vry – maar hoe gemaak met daardie donker storie uit jou verlede? Daardie soort inligting wat jou maat gaan ontstel? Kan ’n ou geheim regtig ’n huwelik laat verbrokkel?
Jy swyg liefs oor daardie destydse aanlynvriendskap wat beslis nie deur jou maat goedgekeur sal word nie. Jy sê niks oor die ongelukkige voorval in jou universiteitsdae nie. My maat hoef nie “alles van die ou dae” te weet nie, sê jy vir jouself.
Maar sê nou jou maat vind op ’n manier tog daarvan uit?
Twee soorte geheime
“Daar is natuurlik twee soorte geheime,” sê Deon du Toit, ’n pastorale berader wat op huweliksverhoudings fokus. “Dis lekker om ’n spesiale aand of wegbreeknaweek vir eers vir jou maat geheim te hou. Sulke geheime versterk die band tussen julle en laat jou maat spesiaal en geliefd voel.
“Wanneer jy egter iets wat jy verkeerd gedoen het vir jou maat geheim hou omdat jy weet dat hy of sy daardeur ontstel sal word, het dit die potensiaal om baie skade aan te rig.
“Hierdie soort geheim kan nooit goed wees nie, ongeag hoe klein dit is. Dit vreet onbewustelik aan die draer daarvan se onderbewussyn en bring skaamte mee, en selfs vrees. Soms besluit die betrokke persoon uiteindelik om tóg maar met die sak patats vorendag te kom, al is dit bloot om van die skuldlas ontslae te raak.
“Dit bring dalk die gewenste verligting. Maar in baie gevalle bly sit die ander party dan met die gevoel van teleurstelling en selfs verraad.”
“Dit is juis om hierdie rede dat daar besluit word om eerder die geheim te bewaar,” sê Louis Venter, ’n kliniese verhoudingsterapeut. “Daardie een weet dat die maat nie die pyn en teleurstelling sal kan hanteer nie. Hy of sy is bang dat die maat selfs op ’n egskeiding sal aandring.”
Wat leer die Woord ons oor geheime?
“Die waarheid bring veiligheid en geborgenheid,” vervolg Louis. “’n Deel van die pyn van geheime is dat ’n paartjie dit nie altyd in dieselfde lig sien nie. Wat vir een ’n geringe sakie is, kan vir die maat baie ernstig wees en ’n vertrouensbreuk veroorsaak.”
Karin du Toit, Deon se kollega en ook sy vrou, sê: “Dis nie net die sogenaamde ‘groot’ geheime wat ’n huwelik negatief beïnvloed nie; klein jakkalsies kan baie daartoe bydra om ’n wingerd te vernietig.”
Karin wys op gedeeltes in die Bybel wat teen geheimhouding waarsku, byvoorbeeld die psalmdigter wat gesê het dat toe hy oor sy sonde geswyg het, sy liggaam uitgeteer het soos hy heeldag
om hulp geroep het (vgl Ps 32:3).
Daar is die Prediker wat waarsku dat God rekenskap sal eis oor alles wat ons gedoen het, ook dit wat in die geheim gedoen is (vgl Pred 12:14). En Jesus wat sy dissipels vermaan dat geheime aan die lig moet kom (vgl Mark 4:22).
Paulus skryf in sy brief aan ’n gemeente dat alles aan die kaak gestel gaan word wanneer die lig daarop val (Ef 5:13).
“Wanneer ons hierdie Bybelse beginsels in ons lewe toepas en oop en eerlik lewe, kan ons weet dat God in moeilike situasies vir ons sal intree,” sê Karin.
“Ongelukkig is die teendeel ook waar,” sê sy. “Wanneer ek ongehoorsaam is aan Goddelike opdragte, sal ek self die gevolge moet dra. God vergewe ons ons oortredings, maar Hy laat nie die negatiewe gevolge bloot verdwyn nie.”
Raad en riglyne
Louis moedig huweliksmaats aan om hard te werk aan ’n verhouding waarin hulle die vrymoedigheid het om oop en eerlik met mekaar te wees.
Deon voeg by: “Paartjies moenie onrealistiese verwagtinge van mekaar koester nie en eerlik wees oor hul onderskeie swakhede, vrese en behoeftes. Besluit sommer uit die staanspoor dat dit altyd ‘ons teen die wêreld’ gaan wees, en nie ‘ons teen mekaar’ nie.
“Paartjies kan net veilig wees as albei ’n sondebesef het, as hulle sonder veroordeling lewe en in nederigheid en afhanklikheid van Christus na mekaar kyk.
“Wanneer my identiteit in Christus gevestig is, sal ek en my maat hierdie uitdagings te bowe kan kom. Juis ook omdat ek dan besef dat die lewe nie oor mý gaan nie. Ek sal dieselfde genade wat ek ontvang het ook aan my maat kan gee.”
Hoe verklap ek my geheim?
Vir diegene wat al jare lank met ’n geheim rondloop en daaroor worstel, het Louis die volgende raad. “Dis in baie gevalle beter om nie met die deur in die huis te val nie; daar is beter maniere om dit te doen.
“Jou keuse hier gaan grootliks afhang van hoe diep die geheim lê, en hoe die emosies lyk wat daaraan gekoppel is. In sommige gevalle kan ’n paartjie in oomblikke van groot intimiteit sulke geheime met mekaar deel, terwyl dit vir ander geweldige teleurstelling en groot trauma sal meebring.
“Ek sou beslis voorstel dat iemand wat in hierdie situasie verkeer met ’n terapeut gaan praat. Soms moet jy gehelp word om eers deur ander prosesse te beweeg, byvoorbeeld om jouself te vergewe en om God se vergifnis te aanvaar.”
Deon sê: “As dit iets is wat jare gelede gebeur het, moet jy jouself afvra waarom jy nog nie oorwinning daaroor kon kry nie. Indien jy dit graag met jou maat wil deel, moet jy jou ook afvra of hy/sy die nuus sal kan hanteer.
Oorweeg die volgende stappe:
- Maak dit ’n saak van gebed, en vra die Heilige Gees se leiding. Praat verkieslik ook met ’n professionele persoon wat jou raad en perspektief kan gee.
- Waarsku jou maat dat jy ’n negatiewe gesprek met hom of haar gaan hê en vra vir ’n geleë tyd om dit te doen.
- Bid saam dat God in jul gesprek teenwoordig sal wees. Vra jou maat om nie dadelik te reageer nie en die gesprek ’n paar minute lank te oordink voordat hy of sy vir bykomende inligting vra.
- Jy moet begryp dat dit waarskynlik vir jou maat ’n groot skok sal wees. Maak seker dat jou berou opreg is. En gee jou maat die kans om hierdie trauma te verwerk.
Louis sê: “Soms, wanneer ons met die waarheid vorendag kom, wil ons graag hê ons maat moet ‘aanbeweeg’ sodat ons die saak as afgehandel kan beskou. Dis nie altyd moontlik nie.
“Vra jou maat wat hy of sy nodig het, en moedig hom/haar aan om saam met jou vir terapie te gaan. Herinner jou maat aan die geldigheid van sy/haar gevoelens. Wérk deur die trauma; moenie dit bloot toekrap nie.”
Besonderhede van ons kenners
- Louis Venter is ’n kliniese verhoudingsterapeut en stigter van Couples Help in
Johannesburg. - Deon en Karin du Toit is beraders by Huweliksfokus in Garsfontein, Pretoria.
Geskryf deur Susan Goosen.
Lees ook ons artikel oor hoe jy kan vergewe na ontrouheid.