Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

Hoe leer jy jou kind van Jesus?

DEUR SIMONE GAUCHE

My seuntjies het die gewoonte aangekweek om vrugte te eet terwyl ons saans stories lees. Een aand, terwyl ons lees, eet my oudste ’n nartjie en my jongste ’n appel. Soos dit nou maar met twee boeties is, lyk die vrug wat nie joune is nie altyd aanlokliker. (Ons wil mos van die tuin van Eden se dae af vrugte eet wat nie vir ons bedoel is nie!)

Ek ontlont die situasie deur vir die jongste te sê: “Ouboet sal jou ’n skyfie van sy nartjie gee en jy sal mos vir hom ’n happie van jou appel gee – of hoe?”

Die twee deel toe ewe rustig hul onderskeie vrugte met mekaar, en almal is gelukkig.

My jongste kyk na my en sê met ’n breë glimlag: “Boetie is gaaf met my. Boetie deel met my.”

Solank jy na Jesus toe stap, maak dit nie saak as jy begin sink nie

Ek antwoord: “Ja, my seun, ons deel met mekaar, want ons is familie en ons is lief vir mekaar.”

Toe spring Ouboet ook in en vra: “Wat beteken ‘familie’, Mamma?”

Ek weet hy gaan nie tevrede wees met iets soos “ons deel in mekaar se genetika” of “ons is bloedverwante” nie. En, om eerlik te wees, dit is vir my ook nie beskrywend genoeg nie …

Ek dink toe so ’n bietjie, en toe sê ek: “Familie beteken dat Liewe Jesus ons vir mekaar gegee het – om mekaar lief te hê en vir mekaar om te gee.”

Dié antwoord stel Ouboet tevrede. Hy beaam die stelling en sê onmiddellik dat hy lief is vir sy boetie én vir my én vir Pappa. Daarop verklaar my jongste ook ewe trots sy liefde aan ons almal. En ons sluit die gesprek af met ’n lekker groot drukkie.

Dit alles het my laat dink aan die duisende klein oomblikke van onskatbare waarde wat ons het om ons kinders oor Jesus te leer. Dis tydens eenvoudige gesprekke soos hierdie, in oënskynlik onindrukwekkende oomblikke op doodgewone weeksaande op die kinders se bedjie, dat ons hulle oor Jesusliefde kan leer. Ons gesin is die eerste familie wat ons kinders ken, en met verloop van tyd sal hulle hopelik ook leer van ’n kerkfamilie waarin liefde verder vermenigvuldig word.

Toe Paulus ’n keer in die tronk was, het die tronkbewaarder hom en sy kerkfamilie gevra wat hy moet doen om gered te word. Hulle antwoord hom toe só: “Glo in die Here Jesus, en jy sal gered word, jy en jou huisgesin” (Hand 16:31).

Dis ’n eenvoudige belofte wat ek persoonlik aangryp, maar wat ek selfs yweriger vir my gesin toe-eien. ’n Belofte wat my laat wegdraai van myself en van wat ek alles moet doen om seker te maak my kinders ken Jesus; ek draai eerder na Jesus toe en vertrou dat Hý hulle sal red, ongeag wat ek doen of nie doen nie. Al wat ék moet doen, is om te glo. Eenvoudig te glo. Want as ek glo en uitleef wat ek glo, leer my kinders hoe familie is en hoe liefde is.

Wat kan ek doen om seker te maak my kinders ken Jesus?

Ek moet eenvoudig glo en vertrou. Die res kom van Bo.

Die Here sal my huisgesin red. Hy sal almal in my huisgesin red. Hy sal dié red wat naby is en diegene wat ver voel; almal wat nou onder my dak is én diegene wat eens onder my dak was.

Gryp tog hierdie Handelingebelofte vir jouself aan! Bid dit vir jou geliefdes. Vir jou broers en susters, ouers, kinders, vriende – almal wat God jou gegee het en wat jy “my familie” noem.

  • Simone Gauche is ’n ma en ’n mediese dokter wat in die staatshospitaal op Mosselbaai werk.

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF

Kry
LiG

Jou daaglikse inspirasievennoot.

Die LiG-app is nou beskikbaar vir jou selfoon. Installeer dit vandag nog.