Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

Hoe skakel ek die lig aan?

DEUR SIMONE GAUCHE; FOTO\’S:  EMILY BUNTING

Daar kom tye in ’n mens se lewe dat dit voel asof jy net nie uit die duisternis kan ontsnap nie. Jy voel vasgevang in ’n web van sonde – en hoe harder jy probeer om jou daaruit los te wikkel, hoe meer voel jy verstrengel.

Dis soms moeilik om weer die lig te vind. Dis soos wanneer jy op ’n vreemde plek oornag en jy moet in die middel van die nag opstaan. Jy tas in die donker rond op soek na ’n ligskakelaar. Jou hande voel dom, jy voel-voel op die plekke waar jou instink jou sê die skakelaar moet wees. Ongelukkig gebeur niks goeds in die donker nie. Dis juis dan dat jou kleintoontjie ’n tafeltjie se skerp rand tref.

Ons vind duidelike riglyne in die Bybel oor waar die lig vandaan kom. Dis nie verniet nie dat daar in Psalm 119:105 geskryf staan: “U woord is die lamp wat my die weg wys, die lig op my pad.”

LEES OOK: God se troue liefde agtervolg jou

En kyk na die Bybel se openingsreëls. Ons lees: “Die aarde was heeltemal onbewoonbaar, dit was donker op die diep waters, maar die Gees van God het oor die waters gesweef. Toe het God gesê: ‘Laat daar lig wees!’ En daar was lig” (Gen 1:2-3).

Dit is dus uit die staanspoor duidelik dat die lig van God kom. Hy het dit geskep. Hy het gepraat – en dit was so. En dit was goed.

Simone Gauche, mediese dokter en gewilde LiG-rubriekskrywer van Mosselbaai. Foto: Emily Bunting

Maar die mens het van altyd af gesukkel om in die lig te bly en keer op keer die donker gekies. Die mens het eeue lank na die skakelaar gesoek, maar kon dit nie vind nie. Tot vandag toe dompel ons onsself gereeld in die duisternis en strompel hulpeloos verder.

Maar ook hiervoor het God ’n oplossing gehad, ’n plan om ons te help om die lig weer aan te skakel. Hoor dan wat sê Jesus: “Ek het as die lig na die wêreld toe gekom, sodat dié wat in My glo, nie in die duisternis sou bly nie” (Joh 12:46). Reg gehoor: God ons Vader het sy Seun gestuur om ons uit die donker te ruk. Só help Hy ons in die lig leef. Nie uit eie krag nie, maar slegs deur die bloed van Jesus vind ons weer die lig.

Hoor wat skryf Johannes in sy eerste brief: “As ons beweer dat ons aan Hom deel het, en ons lewe in die duisternis, lieg ons en handel ons nie volgens die waarheid nie. Maar as ons in die lig lewe soos Hy in die lig is, het ons met mekaar deel aan dieselfde gemeenskap en reinig die bloed van Jesus, sy Seun, ons van elke sonde” (1 Joh 1:6-7).

Skielik vind jou hand die koelte van die skakelaar – en dit is lig om jou. Jou oë pyn eintlik van die helder lig; jy sukkel aanvanklik om te sien. Dan word alles duidelik.

GEBED

Dankie, Vader, dat dit nooit u bedoeling was dat ons in die duister moet leef nie. Dankie dat U die lig geskep het vir ons om in te leef, en dat u Seun ons help om in sy lig te bly.

  • Simone Gauche is ’n mamma en ’n mediese dokter wat in die staatshospitaal op Mosselbaai werk.

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF

Kry
LiG

Jou daaglikse inspirasievennoot.

Die LiG-app is nou beskikbaar vir jou selfoon. Installeer dit vandag nog.