Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Search

Jou geld: Nou is die beste tyd om te begin

Ek onthou hoe ek as kind gedink het: “Eendag, as ek groot is, sal ek ryk wees.” Ek het toe reeds geweet dat ek dán aan beleggings en finansiële planne sal begin dink, en vol selfvertroue met grootmense oor geld sal praat.

Wat niemand vir my gesê het nie is hoe vinnig “eendag” aan my voordeur sou kom klop …

Want voor ek my oë kon uitvee, was ek uit die skool uit, reg om die wêreld aan te durf. En daar tref dit my: die grootmensvrees. Hoe op dees aarde sal ek vir myself kan sorg? Hoe gaan ek spaar? Hoe sal ek ooit kom waar ek wil wees?

Eendag is nou

’n Paar jaar later sit ek met ’n beker koffie in die hand en ek wonder: “Hoe lank moet ek nog wag voordat ek aan my geldsake kan begin dink?”

Moet ek nie eers op ’n sekere plek in my lewe wees nie – ’n groot genoeg salaris, ’n belangrik genoeg posisie, en oorgenoeg spaargeld, voordat ek aan ’n finansiële toekoms kan begin bou nie?

Is dit nie maar wat almal dink nie?

Maar hier is die kinkel in dié storie, die waarheid wat ons gereeld vergeet: Eendag is nou.

Jy hoef nie ryk te wees nie

Die wêreld het só verander dat jy nie meer ryk of slim of in die binnekring hoef te wees om finansieel slim te leef nie. Met die tegnologie tot ons beskikking, gemaklike toegang tot die finansiële wêreld en die regte ingesteldheid kan enigiemand vandag reeds die eerste tree gee.

Die finansiële wêreld het oopgebreek, vir almal. Daar was ’n tyd toe jy spoggerige klere en ’n slim finansiële adviseur moes hê om net te kon dink aan iets soos beleggings. Deesdae is alles sommer op jou slimfoon. Al die moontlikhede, alles wat vroeër ondenkbaar was, pas letterlik in jou sak. Ons het toegang tot die mees behulpsame en betroubare toepassings waar jy spaardoelwitte kan stel, geld kan oordra en jou eie digitale beursie kan bou. Sonder om op een of ander BBP-lys te wees. Selfs beleggings wat jy dalk gereken het slegs vir die elite ontwerp is, iets soos ’n belastingvrye spaarrekening, is nou maklik bereikbaar.

Die finansiële wêreld het inklusief geword. Jy bevind jou op dieselfde speelveld as die sogenaamde groot spelers. Die enigste vraag is: Is jy bereid om die eerste treetjie te gee?

Jy hoef lánkal nie meer met miljoene te begin nie. ’n Bietjie spaar hier, verantwoordelike besteding daar, en wysheid in hoe jy jou hulpbronne bestuur. En siedaar!

Ek dink aan ’n vriendin wat slegs R100 per maand in ’n eenvoudige spaarrekening gebêre het nadat sy, pas ná skool, begin werk het. Sy het gereken dis skaars die moeite werd, maar sy het na die wyse mense geluister en getrou daarmee volgehou. En wanneer sy kon, het sy die bedrag jaarliks verhoog.

Dis nou sowat 13 jaar later, en sy is verwonderd oor hoe daardie klein maar gereelde bedrae se totale waarde toegeneem het. En hoe die spaargewoonte by haar posgevat het. Dit het haar bemagtig en haar die vertroue gegee om nóg groter doelwitte te stel en na te jaag.

My enigste berou in mý spaarreis is dat ek nie ook so vroeg soos sy begin het nie.

Waarom wag jy?

Want die grootste struikelblok is selde die vraag of jy genoeg geld het; dis byna altyd vrees, en die “eendag”-mentaliteit.

Daar is die vrees dat jy nie slim genoeg is nie, die vrees dat jy foute sal maak, die vrees dat jy te min het om te begin.

Maar jy hoef nie alles te weet voor jy begin nie. Begin eenvoudig, leer terwyl jy die pad stap, en hou aan groei.

Drie wenke om jou geldsake nou reg te kry

Hier is my drie wenke. Dit kom uit my eie lewe, en uit Kastelo se praktiese omgewing:

  1. Stel ’n klein spaardoelwit. Begin met slegs R100 per maand. Dit gaan nie oor die bedrag nie, maar oor die gewoonte.
  2. Leer meer oor een nuwe finansiële hulpmiddel. Kies iets eenvoudigs, soos ’n digitale spaarrekening. Verken dit, lees daaroor, speel daarmee. Jou selfvertroue sal groei.
  3. Bid vir wysheid en weet dat God deel is daarvan. Ek weet dis nie altyd maklik om oor jou finansiële vrese te bid nie. Maar wanneer jy sê: “Here, help my om wys te wees met my finansies,” erken jy Hom as die beste vennoot denkbaar.

Nee, jy hoef nie op die “regte tyd” te wag nie. Jy hoef nie éérs alles uit te pluis nie. En jy hoef beslis nie op ’n Jannie of Sannie te wag om vir jou die pad na rykdom te kom beduie nie. Wat jy vandag het, selfs al is dit min, is genoeg om mee te begin.

Bou met moed. Bou met geloof. Bou met wysheid. Want met God se seën en jou dapperheid kan selfs die kleinste begin groot vrugte dra.

* Kastelo is ’n geregistreerde en gemagtigde finansiële diensverskaffer (FDV 51074), wat deur die finansiële sektor se gedragsowerheid en die Suid-Afrikaanse Reserwebank goedgekeur is. Vir meer inligting, kontak Kastelo by client-services@kastelo.co.za, of besoek www.kastelo.co.za.

Deur Tarene Jansen

No data was found

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF