Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

Jy mag maar huil … 

Huil en trane is die taal van pyn, van seer en van algehele weerloosheid. Dis ook die taal wat ons praat wanneer ons iets beleef wat so groots, roerend, stresvol of snaaks is dat dit ons emosioneel oorweldig. 

Trane is ons primitiefste taal. Dis die eerste taal van elke nuweling op aarde, en dis die taal waarin ons elke ander mens oor alle grense heen verstaan. 

Trane is die taal van pyn, van seer en van algehele weerloosheid. Dis ook die taal wat ons praat wanneer ons iets beleef wat so groots, roerend, stresvol of snaaks is dat dit ons emosioneel oorweldig. 

Tog is ons geleer om ons trane te onderdruk. 

Dis baie jammer, want dis onnodig om nié te wil huil nie. Dis dalk ook skadelik, want trane, veral hartseertrane, is fisiologies en psigies goed vir ons. 

Ja, jy mag maar huil. Dis helend, selfs heilig. 

Huil kom van ver af 

Alle babadiere en -voëltjies skree as hulle in die nood is, wat aandui dat huil ’n baie primitiewe breinrespons is. 

Maar het jy al opgelet dat babas in die eerste vier weke van hul lewe traanloos huil? 

Die vermoë om trane te huil ontwikkel eers ná vier weke, en teen agt weke kan die meeste babas huil dat die water spat. 

Trane is uniek aan die mens. Diere het, na ons beste wete, nie die vermoë om trane te huil nie. Die enigste uitsondering is die mens se beste vriend. Ja, navorsing het uitgewys honde se oë word vol trane as hulle ná ’n lang skeiding baie bly is om hul eienaar te sien. 

Hoekom huil ons? 

Tot op tien jaar vertel ons trane iets van ons liggaamlike ongemak. Jy kry koud, jy is moeg of honger, of jy het seer. 

As jong kinders emosioneel is, sal hulle eerder ween, skree, snik, of ’n vloermoer gooi. 

Die vermoë om te huil omdat ons baie diep ontroer is – soos by die geboorte van ’n baba, die luister na besonder mooi musiek, groot dankbaarheid of oorweldi-gende plesier – ontwikkel eers van ons tienerjare af. Terselfdertyd verminder ons vermoë om hardop te ween. Dit kan selfs heeltemal weggaan. 

Gewoonlik verskil kleintjies en volwassenes se trane. Grootmense stort klanklose trane weens intense emosie, terwyl kleintjies se trane meestal loop weens liggaamlike ongemak. 

Dis ook interessant, en eintlik heel logies, dat mense wat verwag dat iemand hulle sal help of troos se trane meer dikwels en makliker sal vloei as dié wat kritiek verwag. Laasgenoemde sal eerder hul trane wegsluk. 

Navorsers sê die vermoë om trane te huil hou ook psigiese voordele in. Huilers kry baie makliker sosiale ondersteuning en baie meer fisieke hulp. Hulle word makliker in die gemeenskap ingesluit. Terwyl die niehuilers geen hulp, simpatie of vriende kry nie, ook al verdien hulle ondersteuning. 

Nie alle trane is gelykwaardig nie 

Trane is nie maar net trane nie. Die wonder is dat verskillende “soorte” trane, weens die unieke situasie waarin hulle gestort word, jou telkens op ’n unieke manier help. 

  • Daar vloei emosionele trane wanneer jy intense emosies ervaar: vreugde, genot en blydskap, maar ook woede, droefheid, magteloosheid, frustrasie, vrees en diepe berou. Dié soort trane bevat alles wat jy nodig het om beter te voel: prolaktien, wat angs en depressiereaksies teenwerk; adrenalien-tipe hormone wat jou krag gee; en selfs ’n natuurlike pynstiller, leuenkefalien. 
  • Die trane wat jou oë nat hou word basale trane genoem. Die kliertjies in die boonste ooglid stel deurentyd oogvog vry – tussen 60 en 120 liter per jaar – om jou oog te voed met die lipiede, glukose, sout en kalium daarin. Dit beskerm ook die oog teen infeksies, deur middel van die ensieme en immunoglobuliene wat bakterieë vernietig. 
  • Reflekstrane is die trane wat vorm as jy uie sny. Hierdie skielike oormaat trane spoel letterlik onwelkome partikels uit jou oog uit, van stof tot uiesap. 

Laat dus gerus die trane loop! Dis ons natuurlike en genesende respons op skade en stres. 

Heilige trane 

Baie mense onderdruk hul emosionele trane, want hulle is so geleer. Juffrou en Mamma voel skuldig of ongemaklik as hulle huil. Mettertyd steek veral mans en beroepsvroue hul trane so goed weg dat mense dink hulle is sterk, dalk ook ongevoelig. 

Die waarheid is dat niehuilers hul emosies saam met hul trane onderdruk.

Trane het inderdaad ’n heilige funksie. Dis ook die sleutel tot jou onbewuste gevoelens. Emosionele gesondheid beteken juis dat jy veral jou negatiewe gevoelens “hoor” en dit verwerk. Emosionele trane verklap dat ’n bepaalde situasie of mens jou seermaak, en dat jy dit ter wille van jou eie emosionele gesondheid aanspreek. 

Maar hoe nou gemaak as jy gereeld in trane is? Is dit ook gesond? En is daar iets soos ’n normale hoeveelheid trane? 

Een ondersoek wat 7 000 mense in 37 verskillende lande betrek het, het aangetoon dat vroue 30 tot 64 keer per jaar huil, terwyl mans tussen 5 en 17 keer per jaar huil. 

“Normaal” is dus iewers tussen sowat een keer in vyf dae, tot een keer elke twee maande. 

Die regte vraag aan jouself is egter: Huil ek nou meer as tevore? 

Dis normaal om baie meer te huil as iemand na aan jou gesterf het. Of wanneer jy emosioneel moet aanpas by groot, traumatiese veranderings: As jy begin studeer; as jy jou werk of gesondheid verloor het; as jy deur ’n egskeiding gaan; as jy stry gekry het met iemand na aan jou; as jy posttraumatiese stres ervaar ná ’n ongeluk, ’n motorkaping, of iets dergeliks. 

Dié soort hartseer word gewoonlik binne ses maande minder. Maar as dit voortduur, en voortgaan om jou gemoed, jou gesin en jou werk te ontwrig, gaan vra hulp by ’n terapeut. 

Traanloosheid 

Voel jy soms jy wil huil, maar jy kry nie ’n enkele traan gestort nie? 

Sielkundiges verwys hierna as emosionele onttrekking, wat selfs in dissosiasie kan ontwikkel. Dit is die gevoel dat jy afwesig in jou eie lewe is. Dis dalk selfs ’n teken van ernstige depressie. 

Dit gebeur tipies met mense wat al te veel kere in hul lewe seergekry het sonder dat daar iemand was wat hulle ondersteun het of aan hulle liefde betoon het. Om jouself te beskerm het jy dus geleer dat dit veiliger is om jou emosies te onderdruk. 

Daarby reageer ons gewoonlik op stres deur te veg, te vlug of te vries. Die vries-reaksie lyk en voel net soos traanlose, emosionele doodsheid. 

Sê nou dis by jou die geval. Wat nou? 

  • Gee jouself toestemming om te huil, en gun jouself gereeld tyd en ruimte waarin jy maar mág huil. 
  • Oefen gereeld totdat jy sweet, want ook dit verwyder streshormone. 
  • Leef bewustelik. Leer om te voel en te ervaar deur jou doelbewus, deur die loop van die dag, af te vra wat jy deur jou sintuie beleef (met ander woorde: Wat sien, hoor, ruik, proe en voel jy?); hoe dit tans met jou energievlak gesteld is (is jy honger, moeg, vaak, energiek, uitgerus, vol moed?); watter druk ervaar jy (vanweë ander mense, die verkeer, tydsdruk?); wat maal deur jou kop (wat dink, onthou, beplan jy?). 
  • Mettertyd sal jy gemakliker raak met jou emosies, en jy sal hulle ook kan eien. Só kweek jy bewustheid van jou eie behoeftes, en jy leer verstaan wat jou gemaklik en gelukkig maak. Dis tog veel beter as om emosieloos voort te beur, of hoe? 
  • Moenie traanloosheid ignoreer nie. Dis een van die belangrikste tekens van depressie. As die gevoel nie binne ses tot tien weke spontaan opklaar nie, is dit tyd om met ’n sielkundige of ’n terapeut te gaan gesels. 

Sklerale lense vir droë oë 

Droë oë is nie dieselfde as traanloosheid nie. Eersgenoemde beteken dat jou liggaam nie meer genoeg basale trane vervaardig nie. Dis ’n sakie wat drie uit elke vier mense bo 40 pla. 

Die oplossing? 

Skerale kontaklense. Terwyl gewone kontaklense slegs die gekleurde deel van jou oog bedek, strek sklerale kontaklense ook oor die wit gedeelte. Sklerale lense word vir spesifieke oë gemaak. Jy gaan dus nie iewers indraf en gou ’n pakkie vir die maand koop nie. 

Dis daarom duur, maar dit hou sowat drie jaar. Dis ook besonder doeltreffend en die gebruikers daarvan sê dat hulle duidelik sien. Gesels gerus met jou oogkundige of oftalmoloog.

Loer gerus op ons gesondheidsblad vir nog artikels oor jou liggaam en goeie gesondheid.

No data was found

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF