Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

Kouewaterterapie deel 2: Só bemeester jy dit

12 Maart 2021


Verlede week het ons met WIM HOF kennis gemaak. Dis die man wat daarvan oortuig is dat ’n yskoue stort of ’n swemsessie elke oggend as die son opkom ’n oneindige klomp energie in jou lyf loslaat. Met heelwat voordele vir jou gesondheid. Vandeesweek kyk ons of ons sy kouewaterterapie kan bemeester.

DEUR SALOMÉ DELPORT

Die eerste stap is om te weet wat jy nié moet doen nie: Moet nooit in yswater spring nie. Só ’n skok kan jou dood veroorsaak.

Die Wim Hof-metode is daarop gebaseer om jou liggaam se aanpassingsvermoë te prikkel. Dis die teenoorgestelde van skok. Die doel is bloot om ’n effek te bewerkstellig.

En dit gaan ook nie oor mededinging nie. Moet jou dus nie met iemand anders vergelyk nie. Jy wil bloot jou liggaam beter laat funksioneer.

Wim beveel ’n ontspanne, speelse benadering aan. Begin net. Jy sal mettertyd jou daaglikse koue stort vir niks op aarde wil verruil nie, en op die koop toe ál daardie gesondheidsvoordele inpalm. So belowe hy.

Wat om te weet voor jy kouewaterterapie aanpak

  • Dit duur so 20-30 minute. As jy kan, begin so tien minute voor sonop. Of tien minute nadat jy wakker geword het.
  • Hou ’n horlosie met ’n sekondewyser byderhand, of jou selfoon se horlosie, of jy kan self tel.
  • Daar moet ’n stort wees, of ’n swembad of ’n bad.
  • Hou warm klere gereed, ’n dik japon of ’n warm kombers.
  • Sorg by voorbaat vir ’n warm drankie ná die tyd.
  • Onthou om jou gedagtes te beheer, om kalm te bly tydens die asemhalingsessie en die erge koue.

Hoe koud moet die water wees?

Koud is ’n relatiewe begrip. Weer eens: Dit gaan nie daaroor om jou liggaam te straf of te skok nie. Jy moenie klappertand rondstaan of blou raak nie.

LEES OOK: Kouewaterterapie – goed vir jou gemoed, jou gewig, en meer …

Hier is drie maniere om jou daarmee te help:

’n Aanvanklike warm stort of bad. Voeg geleidelik koue water by totdat die koue water jou vel laat tintel. Dit moenie so koud wees dat jy die sogenaaamde “koueskade” opdoen nie.

OF

’n Kouer wordende bad. Hier verlaag jy die water se temperatuur in die loop van ’n aantal maande. Tap die bad vol water wat vir jou ’n aanvaarbare temperatuur het. Klim in. As jy ná ’n week of drie gemaklik is met hierdie temperatuur, maak die water ’n graad of wat kouer. Hou so vol totdat jy met gemak in ’n yskoue bad kan klim, somer én winter. Gebruik ’n termometer as jy wil.

OF

Begin in die somer en swem in ’n swembad of in die see. Soos die winter nader kom, word die water geleidelik kouer. Daar verloop genoeg tyd om jou liggaam die kans te gee om aan te pas.

Foto\’s: Unsplash

Asemhaling, die eerste stap van die Wim Hof-metode

Dit is wenslik dat jy jou dag met die Wim Hof-metode afskop. Jy staan op en begin strek.

Gaan sit iewers gemaklik en begin om doelbewus asem te haal. Jy kan Wim Hof se video hier luister:

Of maak só:

  • Asem twee minute lank (of dertig keer) diep in en uit, sonder ’n pouse tussen elke asemteug. Let wel: Dis die teenoorgestelde van joga-asemhaling.
  • Hou ná die laaste teug jou asem sestig sekondes lank op, terwyl jy ontspan. Nou is jy gereed vir gedagtebeheer. In hierdie minuut gaan jy jou emosionele stres onder beheer kry. In plaas daarvan om na jou asem te snak, fokus daarop om te kalmeer deur rustige, positiewe gedagtes deur jou kop te laat spoel. As jy kalm bly, sal jou hart stadiger begin klop en jy sal minder suurstof nodig hê.
  • Haal dan so diep asem as wat jy kan. Hou jou asem 15 sekondes lank op.
  • Doen dit nog twee keer, maar hou nou jou asem 90 sekondes lank op.

Neem waar hoe jy voel. Dalk voel jy warm. Dalk tintel jou vel. Of dalk is    jy effens lighoofdig. Jy behoort ontspanne te wees, en vol lewe. Bowenal   is jou liggaam nou geprikkel en gereed vir koue water.

Nou vir die kouewaterterapie!

Kom rustig aan die beweeg en trek aan (of uit).

Gebruik soveel tyd as wat jy nodig het om in die water te kom. Jy kan:

  • vinnig onder ’n warm stort inglip en dan die water stadig kouer maak, totdat jy slegs in koue water stort;
  • lekker wegsink in ’n bad warm water en stadig koue water daarby voeg;
  • as jy by die see of langs die swembad is, eers jou lyf nat maak, dan jou voete insit en stadig ál dieper beweeg totdat jy heeltemal onder die water is. Jy kan selfs ’n bietjie swem.

Hou vyf minute lank daarmee vol, of so lank as wat jy gemaklik is.

Onthou om op kalmte en genot te fokus.

Warm lekker op

Klim uit en maak jou dadelik warm met ’n kombers, ’n dik japon of warm klere.

Geniet ’n warm drankie, iets soos rooibostee of warm water met suurlemoensap. Begin jou dag!

Ek het die Wim Hof-metode probeer, en …

Dit was glad nie so erg nie.

LEES OOK: ’n Baba ná agt jaar – en ’n nuwe beproewing

Maar ek het ’n bietjie gekul. Ek het daardie eerste koue stort in die middel van ’n baie warm somersdag geneem. Noem dit maar ’n ysbreker . . .

Daarby is opstaan voor sonop nie vir my nie. Ek sien wel kans vir ’n koue stort ’n rukkie ná opstaantyd. Ek het dit nou reeds verskeie kere gedoen, ook na afloop van ’n gim-sessie en ’n ent op die fiets.

Ek het ook reeds twee keer reg voor slaaptyd ’n koue stort gehad. Ek het egter taamlik sleg geslaap, ek was rusteloos. Ek sal dit nie aanbeveel nie.

Is dit regtig lekker?

Ja, dit is. Dis verrassend lekker. Die gedagte aan koue water maak my glad nie meer bang nie. Ek kan selfs toegee dat ek dit nie sal wil opgee nie. Ek wonder wel hoe dit in die winter sal wees . . .

Die asemhalingsoefening is nogal ’n uitdaging. Om jou asem 90 sekondes lank op te hou, is nie speletjies nie. Ek haal dit nie, nie eens naastenby nie.

Maak ’n koue stort my meer energiek?

Ek dink so. Dié artikel is immers in die stoom van vanoggend se koue stort geskryf.

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF

Kry
LiG

Jou daaglikse inspirasievennoot.

Die LiG-app is nou beskikbaar vir jou selfoon. Installeer dit vandag nog.