Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

Kouewaterterapie – goed vir jou gemoed, jou gewig, en meer …

5 Maart 2021


DEUR SALOMÉ DELPORT

Wim Hof is bekend vir sy eiesoortige raad: ’n yskoue stort of swemsessie elke oggend as die son opkom. Daardeur maak jy glo ’n oneindige klomp energie los, en jou gesondheid baat daarby. Maar presies wat is dié sogenaamde kouewaterterapie?

Die Ysman van Nederland. Dit is wat Wim Hof homself noem. Sy bekendste stelling lui só: Ons is só suksesvol met die skep van gemak dat ons gemak die vyand van ons sukses geword het. Anders gesê: Ons gerieflike lewe het ’n liggaam tot gevolg wat nie geprikkel word om op sy beste te funksioneer nie.

LEES OOK: Covid-19: Alles wat jy moet weet oor nuwe entstof

Hy kan met gesag praat. Dié sestigplusser is ’n spesialis in ekstreme sportsoorte en hy het reeds 26 keer die Guinness Records gehaal. In Maart 2000 het hy byvoorbeeld 57,5 meter onder ys geswem; in 2007 het hy ’n wêreldrekord opgestel vir die beste tyd in ’n kaalvoet-halfmaraton oor sneeu; in 2009 het hy Kilimanjaro oorwin, geklee in slegs ’n kortbroek en skoene.

En al is hy nie tans die rekordhouer nie, het hy vroeër reeds sestien keer die rekord gebreek vir die tyd wat hy, letterlik, op ys gesit het.

Hitte kry hom ook nie onder nie. Hy het reeds ’n maraton in die Namibwoestyn afgelê sonder om ’n druppel water te drink.

Wat is die Wim Hof-metode?

Wim se wenresep staan op drie pilare: asemhaling, blootstelling aan ekstreme toestande en gedagtebeheer. Die blootstelling aan ysige temperature “kul” jou liggaam en dwing dit in ’n oorlewingsaksie in. Dit stimuleer ook die vagussenuwee.

Foto\’s: Unsplash

Die vagussenuwee is eintlik ’n hele “afdeling” van jou senuweestelsel. Dit beheer die outonome funksies, dit wil sê daardie dinge wat jou liggaam doen sonder dat jy daaroor besluit, byvoorbeeld hartklop en asemhaling. Dit het ook ’n invloed op jou gemoed, met ’n groot uitwerking op breintoestande soos depressie, chroniese pyn, oorgewig, fibromialgie, migraine en epilepsie. En selfs op toestande wat op die outismespektrum geleë is.

Met soveel moontlikhede is daar geweldig baie belangstelling in tegnieke of middels wat die vagussenuwee stimuleer. Daar is egter min dinge wat wel ’n uitwerking daarop het. Tans kan jy ’n toestel laat inplant, iets wat soms vir sekere soorte epilepsie gedoen word.

Of jy kan met kouewaterterapie begin.

Is dié soort terapie wetenskaplik verantwoordbaar?

Moontlik wel. Die eerste aanduidings is belowend, al is die ondersoeke bloot voorlopig, en met min deelnemers. Ál meer ondersoeke bevestig egter die aansprake wat deur Hof en sy volgelinge gemaak word.

LEES OOK: Watter Covid-19-entstof sal jy kies (as jy ’n keuse het)?

Werklik siek mense moet dit egter nie op eie houtjie aanpak nie. Praat eers met jou dokter.

Dit lyk ook asof daaglikse kouewaterterapie jou liggaam stimuleer om meer en meer bruin vet te vervaardig, met allerlei potensiële voordele soos:

  • jou metabolisme versnel, wat tot gevolg het dat jy makliker gewig verloor;
  • jou liggaam vervaardig meer groeihormone, wat tot gevolg het dat daar voortdurend nuwe selle gemaak word en jou liggaam homself dus voortdurend vernuwe;
  • jou testosteroonvlak styg. Dis ook by vroue die geval, maar nie tot so ’n mate dat hulle vermanlik nie;
  • jou liggaam vervaardig minder sitokiene. Laasgenoemde hou verband met inflammasie. Inflammasie verminder dus, wat goeie nuus is vir mense met outo-immuuntoestande soos kolitis, artritis en Crohn se siekte;
  • jou brein skei meer endorfien af, wat jou op en wakker laat voel, reg vir die dag;
  • jou liggaam skei meer dopamien af, wat jou dryfkrag gee sodat jy jou doelwitte kan deurvoer.

Aanstaande Vrydag (12 Maart) word ons prakties en verduidelik stap vir stap hoe om die Wim Hof-tegniek toe te pas.

  • Salomé Delport is ’n bekroonde gesondheidsjoernalis wat sowat 15 jaar lank gesondheidsredakteur van die tydskrif rooi rose was. Sy is tans ’n vryskutjoernalis en -inhoudskepper.

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF