DEUR MILANIE VOSLOO
Ons het dit nodig om welkom te voel, om skromeloos by iemand tuis te voel.
Ons het ’n behoefte aan ’n mens of mense wat ons onvoorwaardelik liefhet sodat ons maar kaalvoet en sonder grimering, gestroop van enige pretensie, net onsself by hulle kan wees.
Mense is tuis by mense waar hulle aanvaar word en geliefd voel. By diegene waar hulle hul hart kan oopmaak, en waar hulle weet hul woorde met begrip en liefde ontvang word en altyd vertroulik bly.
LUISTER
As jy ’n lewensmaat, ’n vriendin of ’n vriend het by wie jy kan tuis wees, is jy baie bevoorreg. Dan verstaan jy iets van jou Vader se onvoorwaardelike omgee-liefde. As jy iemand is by wie ander mense veilig in hul gestrooptheid kan wees, verstaan jy iets van die aangee-liefde waarvan God ons leer. Dan leef jy iets uit van Paulus se opdrag in Romeine 12:15 wat só lui: “Lag en vier fees saam met elkeen wat bly is en huil saam met elkeen wat hartseer is.”
Die één plek waar ons altyd welkom is, is by ons Vader se huis. Ek skryf in een van my boeke: “Twee mense ken mekaar so ’n bietjie as hulle by die voordeur staan en mekaar vriendelik groet. Twee mense ken mekaar goed wanneer hulle deur die voorportaal geloop het en dan uit koppies saam tee drink. Twee mense ken mekaar régtig goed en voel tuis by mekaar wanneer hulle verby die voorportaal en sitkamer geloop het tot in die kombuis, en sommer daar uit af-oor-bekers saam tee drink. Twee mense ken mekaar baie goed en ontvang mekaar met liefde wanneer hulle tot in die waskamer van mekaar se hart geloop het – daar waar gister se skottelgoed nog onder ’n lappie toegegooi staan – en mekaar dan steeds liefhet.”
LEES EN LUISTER OOK: Leef ligter-luisterreeks: Kyk met God se oë
GEBED
Here, ek kruip so dikwels vir U weg omdat ek skaam is vir myself. Omdat ek bang is dat U my sal veroordeel, en omdat ek soms twyfel aan u onvoorwaardelike liefde. Baiekeer, Here, maak ek eenvoudig nie tyd om by U tuis te kom nie. Ek laat toe dat die wêreld met my weghardloop. En vanaand, as ek uitgeput op die bed neerval, onthou ek dat ek weer nie vandag met U gesels het nie. Vandag besef ek weer dat U my elke dag nooi om tuis te kom, omdat U my onvoorwaardelik liefhet. Omdat U my met u vrede, u vreugde, u goedheid bederf. Ja, Here, U bederf my met oorloop-koppies vol liefde. Ek wil dit nie misloop nie. Vandag stap ek sonder huiwering in u omhelsende liefde in. Ontvang my, Vader, net soos ek is. En maak my ’n mens met ’n verwelkomende hart. Iemand wie se hart vir ’n ander sê: ‘Jy, mens, is welkom in my lewe, net soos jy is.’” AMEN
- In dié nuwe luisterreeks wil Milanie Vosloo gelowiges aanmoedig om in 2022 ligter te leef.