DEUR MILANIE VOSLOO
Drie jong bome staan eendag in die woud en gesels met mekaar oor wie hulle is en wat hulle eendag wil word.
Die eerste boom sê: “My grootste droom is om ’n juweelkis te word wat deur die konings en koninginne van die wêreld gebruik word. ’n Juweelkis wat só besonders is dat hulle hul duurste en kosbaarste juwele daarin bêre.
Die tweede boom het so bietjie staan ek dink en toe sê hy: “Ek wil graag ’n groot skip word waarin konings en koninginne oor die hele wêreld heen vervoer word. Waarin hulle voel dat hulle veilig is.
LUISTER:
Die derde boom het lank gestaan en dink en toe gesê: “Weet julle wat ouens, ek wil nêrens heen gaan nie. Ek wil eintlik net hier in hierdie woud bly en hoër en verder groei totdat ek die boom is wat die naaste aan God is.”
Die jare het verby gegaan en op ’n dag het daar houtkappers gekom.
Hulle het die eerste boom afgekap en besluit om hom na ’n skrynwerker te neem sodat hy iets van hom kan maak.
Die tweede boom is ook afgekap en hy is na ’n skeepswerf geneem waar hulle bote en skepe maak. Opgewonde het hierdie twee bome gedink hulle drome kan dalk waar word.
Die derde boom, wat nie afgekap wou word nie, is ook afgekap. En sonder dat hulle geweet het wat hulle regtig met hom wil doen het hulle hom ook na die dorp geneem waar hy agter in ’n erf gegooi is.
Die skrynwerker het die hout van die eerste boom geneem en toe van hom ’n voerbak gemaak.
Teleurgesteld omdat hy nie ’n juweelkis kan word nie was hy die res van sy lewe eintlik baie ongelukkig.
By die skeepswerf het hulle die hout van die tweede boom geneem en toe van hom ’n klein bootjie gemaak. “Ag nee,” het hy gedink. Hy wou dan ’n groot skip word.
Die derde boom het agter in die agterplaas bly lê. Ongelukkig omdat hy nie hoër en verder kon groei in die woud om naby aan God te wees nie.
Al die bome teleurgesteld in hulle lot.
Op ’n dag word daar ’n kind in ’n stal gebore.
Daar waar die eerste boom as voerbak staan. Daardie aand word die kind in doeke toegedraai en binne-in die voerbak neergesit. Dit is toe dat die eerste boom besef die grootste juweel van alle tye lê binne-in hom.
Dertig jaar later klim daar op ’n dag \’n klompie mans in die visserskuit. Die skuit wat gemaak is uit die hout van die tweede boom.
Daardie nag is daar ’n hewige storm op die see, en toe toe almal bang is en begin skree en benoud is en die water uitgooi … Toe staan een van die mans rustig op en beveel die storm, see en die wind om stil te raak.
Dit was tóé wat die tweede boom besef het dat hy die grootste koning van alle tye oor die waters geneem het.
Omtrent drie jaar later kom daar op ’n dag ’n paar mans in die agterplaas, waar die derde boom gelê het. Hulle het hom toe geneem en van hom ’n kruis gemaak. Die kruis is op die rug van ’n man gegooi wat toe reeds stukkend gemartel en geslaan is.
Toe hy later knak onder die gewig van die kruis, het iemand anders hom gehelp om die kruis op te dra na die koppie Golgota.
Daar het hulle die man geneem en hom aan die kruis vasgespyker.
Die kruis is opgelig.
Later daardie dag het die man aan die kruis gesterf en dit het pikdonker geword.
Dit was op daardie oomblik wat die derde boom besef het dat hy toe wél die een was wat die naaste aan God was in sy uur van nood.
Het jy ook al gewonder waarom jy hier is? Wat het God vir jou beplan en hoekom is jy hier op aarde?
Die waarheid is jy is juis gebore om vir God te leef. Soos Stephan Joubert sê: “Jy is hier vir God se plesier en nie hier om ’n sekere take af te handel nie.” Jy is hier om God lief te hê en deur sy liefde en genade sy wil te leef.
Mag jy vandag in die stilte van jou hart God se stem hoor wat sê:“Wie jy in my is, is soveel meer belangrik as wat jy doen. Sien my, jou verlosser wat alles reeds vir jou gedoen het. Hoor my stem in jou hart. En gaan leef dan deur my genade en my liefde.
Dan is jy vir my ’n vreugde.”
GEBED
Here, ek wonder baie keer oor my hier-wees. Oor waarom U my geskep het en waarom ek eintlik hier op aarde is. Vandag ervaar ek ’n stuk vryheid in die besef dat die lewe nie oor my gaan nie, maar oor U. Dat ek nie hier is om ’n taaklys af te handel nie. Here, dankie dat ek nie iets hoef te wees nie, maar dat ek net in U hoef te wees. Vir U hoef te leef. Help my Here om dit te doen. Want dan is ek hier vir ’n rede. Amen.
- In dié nuwe luisterreeks wil Milanie Vosloo gelowiges aanmoedig om in 2022 ligter te leef.