Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide

Leef ligter-luisterreeks: Word jy deur gebrokenheid oorweldig? Kyk dan op …

DEUR MILANIE VOSLOO

Voel jy ook soms oorweldig deur al die dinge wat om ons gebeur? Die wêreldgebeure – ’n oorlog! – wat op ons TV afspeel? Die dinge wat in ons eie land plaasvind? Oral is daar tonele van gebrokenheid. Afgryse. Verwarring.

Waarheen is alles op pad? Waar gaan jý heen?

Dit help ons altyd om in sulke tye terug te kyk. Om te onthou hoe jy oor iets gebid het, maar hoe dit toe in ’n nagmerrie ontaard het. Hoe jy oor iets gebid het, en hoe God jou in ’n ander koers gestuur het.

LUISTER

Jy onthou die kere toe jy glad nie kon verstaan wat God vir jou in gedagte gehad het nie, en hoe jy eers lank daarna agtergekom het hoe Hy jou eintlik op ’n wonderlike manier beskerm het. Hoe Hy jou na beter plekke geneem het as waarvoor jy gevra het.

LEES EN LUISTER OOK: Leef ligter-luisterreeks: Jy ís goed genoeg – net soos jy is

God ken elke stukkie detail in die wêreld. Hy ken die fynste besonderhede van jou lewe, jou verwagtinge, jou denke, jou hart. Hy verstaan jou somtydse teleurstelling en Hy het deernis met jou onbegrip en verwarring. God weet wat in jou diepste wese afspeel, selfs op daardie plekke waarheen jy liefs nie wil gaan nie.

Een ding kan jy weet: God is in beheer, al voel die wêreld en jou lewe soms asof alles daarin buite beheer is. Ja, die lewe maak ons soms bang, maar jy kan by Hom skuil. Hy loop elke tree saam met jou; soos Hy dit gister gedoen het, sal Hy dit vandag ook doen.

LEES

Joël 3:16: “Die Here sal vir hulle wees soos ’n stad met hoë, breë mure wat hulle beskerm teen al hulle vyande.”

Soms moet ons minder om ons kyk en meer dikwels ópkyk. Dit is waar ons antwoorde en rus gaan kry. Ons kan maar ons lewe in God se hande laat.

GEBED

Here, wanneer ek om my kyk, word ek bang. Wanneer ek langs my kyk, word ek onseker en verward. Wanneer ek voor my kyk, weet ek nie waarop alles afstuur nie. Maar, Here, wanneer ek opkyk en u krag en u liefde sien, vind ek vrede en word ek rustig. Dan word ek stil-tevrede in u liefde vir my.

Here, help my om minder om my te kyk en meer op te kyk. Vandag, more, altyd. Amen

  • In dié nuwe luisterreeks wil Milanie Vosloo gelowiges aanmoedig om in 2022 ligter te leef.

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF

Kry
LiG

Jou daaglikse inspirasievennoot.

Die LiG-app is nou beskikbaar vir jou selfoon. Installeer dit vandag nog.