DEUR SIMONE GAUCHE
Ons probeer ons kinders grootmaak op ’n manier wat hulle laat voel dat hulle ’n keuse het in alle sake wat hulle raak. Ons sal, byvoorbeeld, eerder as die bevel “kom borsel jou tande!” iets vra soos: “Wil jy eers jou speelgoed wegpak en daarna jou tande borsel? Of wil jy eers jou tande borsel en dan jou speelgoed wegpak?”
In plaas van “kom trek gou aan!” sal ons vra: “Wil jy die rooi T-hemp of die blou T-hemp aantrek?”
Deur ons kinders keuses te gee, voel hulle dat hulle meer in beheer van sake is. Gevolglik is daar minder van ’n magstryd wanneer dinge gedoen moet word. Hulle voel hulle het ’n “sê” – en dat hul mening saak maak.
My oudste het baie vinnig hierdie “sielkunde” begin verstaan; sy begrip was helaas slegs gedeeltelik. Hy rits graag saam rond wanneer ons in die bakkie ry. Nou sal hy vra: “Mamma, wil jy bakkie-tata? Of wil jy bakkie-tata?”
Hy besef nog nie dat hy my nie ’n keuse gee nie; hy het wel geleer dat almal van keuses hou.
En só het my kinders my laat besef dat ons almal gebore word met hierdie voorliefde vir keuses. Ons wil nie gesê word wat ons moet doen nie; ons wil voel ons neem ons eie besluite en het op ’n manier beheer oor ons lewe.
Toe kom die pandemie …
Met die koms van Covid-19 is ons keuses egter gesteel: Ons word gesê wat ons mag doen en nie mag doen nie; wie ons mag sien en wie nie; waar ons mag gaan en waar nie; selfs wat ons mag koop en wat nie.
En noudat die pandemie se vierde golf begin naderkom, is ons nie seker watter keuses ons weer ontneem gaan word nie.
Ons hou nie van hierdie verlies aan beheer nie, en ons eerste instink is om soos ’n kleuter te gil: “Nee!” En dalk is daar diegene wat sommer ook ’n vloermoer wil gooi …
Die waarheid is dat ons nie ’n keuse in die saak het nie.
Niemand is egter opgewonde oor nóg ’n feesseisoen met die Covid-19-virus wat oor ons skouer loer nie. Daar is egter wel lesse wat ons in dié onseker tye kan (en dalk moet) leer:
- Ons kan leer om op God te vertrou. Dis eers wanneer ons agterkom hoe nodig ons Hom werklik het dat ons in afhanklikheid na Hom toe gaan. En eers dan leer ons hoe om Hom in alles te vertrou.
Hoor dié besonderse gebed van die psalmdigter: “Julle moet die offers bring wat aan julle voorgeskryf is, en julle moet op die Here vertrou. Daar is baie wat sê: ‘Wie sal dit weer met ons goed laat gaan?’ Wees ons tog weer goedgesind, Here, help ons! U het my reeds groter vreugde laat belewe as wat daar is by mense wat koring en wyn in oorvloed het. Nou sal ek onbesorg gaan lê en dadelik aan die slaap raak, want, Here, U alleen laat my veilig woon” (Ps 4:6-9.)
- Ons kan leer om op ons medegelowiges te steun. Ons besef ons het mekaar in hierdie tye nodiger as ooit om veilig te wees. Ons weet ons kan en moet mekaar beskerm deur gereeld ons hande te was, ons masker te dra, ’n veilige afstand te handhaaf. En om ons te laat inent. Ons was nog nooit so bewus daarvan dat ons optrede teenoor mekaar ernstige gevolge kan hê nie.
Mag ons doen en late in hierdie onseker tye deur niks anders as liefde gemotiveer word nie.
Hoor dan wat sê Jesus: “As julle mekaar liefhet, sal almal weet dat julle dissipels van My is” (Joh 13:35).
- Ons kan leer om deernis te wys. Met al die seerkry en swaarkry om ons is daar soveel meer geleentheid om Jesus se liefde teenoor mekaar uit te leef. Ons kan inkopies vir mekaar doen; etes voorberei en aflewer vir iemand wat siek is; moeite doen met mense wat alleen is; mekaar doodgewoon ondersteun. Dis immers nie moeilik om te sien wie jou naaste is nie.
Paulus het gesê: “Deur my voorbeeld het ek in elke opsig vir julle gewys dat ons hard moet werk sodat ons die armes kan help. Onthou die woorde van die Here Jesus. Hy het self gesê: Om te gee, maak ’n mens gelukkiger as om te ontvang” (Hand 20:35).
Mag jy in hierdie feesseisoen nie toelaat dat jou ontneemde keuses jou ontstel nie. Mag jy opnuut leer om op God te vertrou en op jou medegelowiges te steun. En mag jy jou daarop toelê om vir ander ’n toevlug wees.
- Simone Gaucheis ’n mamma en ’n eggenote. Sy is ’n mediese dokter wat in die staatshospitaal op Mosselbaai werk.