Ek lees vanoggend in ’n Bybeldagboek van Stephan Joubert van ’n merkwaardige maatskaplike werker van New York. Ene Julio Diaz het vir die dief, wat sy beursie met ’n mes in die hand gesteel het, ook sy jas aangebied. En boonop nooi hy daarna sy jong aanvaller om saam met hom te gaan aandete eet.
Stephan noem dié verhaal ’n voorbeeld van ’n “lewende Bybelteks” wat deur “gewone mense” opgevoer word vir ander om “op straat” te lees.
Dit laat my baie dink aan die verhale, geskryf deur LiG-lesers, wat in ons “My getuienis”-spens beland.
Sedert LiG elke dag vars leesstof op ons webwerf laai stroom die stories in en is dit deurspek met hartseer en seerkry. Maar daar is altyd ook ’n tikkie hoop. Dis ook interessant hoe sommiges dadelik hulle stories deel. En ander eers nadat baie jare verloop het, gereed is om hulle verhaal te deel.
’n Onlangse verhaal van ’n ma van Langebaan is vol uitdagings: ’n Tehuis vir ongehude moeders op 18, ’n virus wat haar tweejarige se brein aantas en hom gestrem laat, ’n wiegiedood vir haar tweede seun en sodoende “’n oorlog” in haar hart met God. Maar haar woede het mettertyd liefde geword. En ook vreugde vir die sonskyn-kind wat God vir haar gegee het.
’n Ander leser skryf weer hoe sy haar pa en suster aan Covid-19 moes afstaan. Om te oorleef moes sy leer om alles aan God oor te gee en nou getuig sy van God se genade.
’n Overbergse boer vertel weer dat hy sy vrou net voor inperking aan kanker moes afstaan. Daarna moes hy alleen sy boerdery deur die drif trek en boonop sy seuns, wat Covid-19 opgedoen het, versorg. Maar ook hý getuig dat, wanneer die donker hom wou oorweldig, hy vasgehou het aan die “Lig” – sy geloof in God.
Sommige van die skrywers laat weet dat die neerpen van hulle verhaal vir hulle goed was, ’n groeiproses. Ander is weer dankbaar dat hulle verhaal ander kon help.
Soos Joanette Bezuidenhout wat laat weet het: “Dankie vir die platform wat julle daarstel vir mense om getuienisse te kan deel met die wêreld en dat ’n mens ook só ’n lig vir ander kan wees.”
Dankie aan elke “My getuienis”-skrywer wat hulle verhale van swaarkry wat uitloop op hoop met LiG-lesers deel. Só gaan lesers jou getuienis nie net in jou dorp se strate aanskou nie, maar kan hulle dit ook op hulle foon of rekenaar enige plek in die wêreld lees.
- Indien jy jou getuienis met LiG wil deel, stuur jou verhaal in sowat 800 woorde (met ’n foto) na lig@tydskrifte.co.za
- Conette le Roux is LiG se webredakteur.