LiG het net betyds vir die wintervakansie ’n nuwe YouTubekanaal vir kinders bekendgestel. Ligland – Leef met lig, lag en liefde bied Christelike vermaak vir kinders wat skermtyd vreugdevol en geestelik-waardevol kan maak.
Volgens Maryke Hansen, inhoudsvervaardiger van die kanaal, is sy as mamma soos ander ouers bekommerd oor skermtyd. “Nie net hoe baie nie, maar meer spesifiek, waarna gekyk word. Die ongesonde houvas van tegnologie op ons kinders is genoeg om enige iemand bang te maak! Maar wanneer ek luister na ander ma’s besef ek gou – almal voel tyd voor ’n skerm is onvermydelik. En die meeste van ons voel ewe skuldig. So waarom nie inhoud in Afrikaans met sterk Bybelse waardes skep waarna kinders, wanneer hulle dan nou wel skermtyd inkry, kan kyk nie?” verduidelik sy.
Die eerste reeks bestaan uit 12 kort Bybelverhale vir 0-3 jariges. Verhale van die Bybelkarakters Josef, Rut, Moses, Simson en meer word oorgedra.
In die volgende paar maande word beplan om nog drie reekse, gerig op ouer kinders, bekend te stel. Reeks 2 sal op 9 Julie begin. Dr Siegfried Louw, predikant, musikant en spelterapeut, se Ligland-boekreeks, wat oorspronklik uit vier boeke bestaan het, was die inspirasie. In die reeks word gepraat oor lewenskwessies soos verlies, angstigheid, boeliegedrag en eensaamheid. “Die kleurryke karakters neem kinders op ’n avontuur deur die lewe, waar ons gesels oor moeilike dinge, hoe om ons emosies te omhels en ons geloof. Ons hoop is dat hierdie reeks videos lig in die donker warboel van kinders se emosies sal bring en dat dit ouers sal bemagtig om met hul kinders te praat oor enige uitdagings en opwindende geleenthede,” vertel Maryke.
Op 6 Augustus volg die Ligdraer-reeks wat uit 16 video’s bestaan. In elke video wys klein Ligdraertjies vir jong kykers en hulle ouers hoe om kunsprojekte te voltooi. Terwyl kinders hierna kyk leer hulle ook meer oor wat dit beteken om ’n navolger van Jesus te wees. In elke episode hoor hulle iets uit God se Woord, kry antwoorde op praktiese vrae en hoor ’n gebed.
In Oktober volg Luminus die Flits, ’n reeks geskryf deur Sorika Greyling, ’n onderwyser, digter en ma. “Hierdie reeks van vier video’s handel oor Luminus die flits en hoe hy keer op keer besef hoe belangrik dit is om naby sy Kragbron te leef en sy batterye te herlaai. Hy help ook ander om weer hulle pad na die Kragbron te kry,” sê Maryke.
Volgens Maryke is dié reekse maar net die begin. Daarna volg ’n meer in-diepte-studie van die Bybel vir kinders vanaf Graad 3.