DEUR WILMIEN SWARTS
Terwyl ek op hierdie lewenspad stap, is ek gelukkig om die nodige lewenslesse by my ma te leer. Terwyl ek so stil sit, hoor ek al die dinge wat my ma my gereeld aan herinner …
- Moet nooit aan ander doen wat jy nie aan jouself gedoen wil hê nie.
- Respekteer mekaar.
- En jy gaan slaap nie met ’n vuil kombuis nie – enigiets kan in die nag gebeur!
- Dames moet gesien word en nie gehoor word nie.
- Gee áltyd jou beste.
- Onthou ook die lewe is soos ’n wiel – dit wat nou bo is gaan later weer onder wees.
- As die lewe jou druk – druk hom terug.
- En haar Bybelwyshede is altyd byderhand: Soek eers die koninkryk van God en die ander dinge sal bygevoeg word.
Ek dank die Hemelse Vader vir so ’n mamma. Sy wil net die beste vir my hê. Soms dink ek sy wil my in ’n blik druk omdat sy sommige goed nie wil toelaat nie. Maar, sy sê altyd ek sal eendag verstaan, en as ek luister, sal ek die vrugte pluk.
LEES OOK: #merkwaardigema: ‘Sy gee nie op nie, sy is geduldig en ek kan altyd op haar vertrou’
As ek die voorreg het om eendag ’n ma te wees, sal ek eerste vir my kinders respek en die woorde “asseblief” en “dankie” wil leer. Ek wil ook my kinders in die huis van die Here grootmaak en vir hulle leer hoe om mense reg te behandel. Niks sal my gelukkiger maak as die woorde “mamma, jy is my rolmodel” nie. Ek sal ook natuurlik sorg dat my kinders hulle skoolloopbaan voltooi en weet dat wat jy insit, sal jy uitkry. Woorde wat ek wil hê hulle moet bybly is “los altyd jou planne en toekoms in die Here se hande”.
As ek dogters het sal ek graag wil hê hulle mans moet sê: “Sjoe, my vrou, jou moeder het jou baie goed geleer.” Maar my grootste wens is net dat my kinders gelukkig sal wees.
- Wilmien Swarts is ’n graad 9-leerder aan die Hoërskool Wellington. Haar ma is Clorina Swarts, wat Wilmien as enkelouer grootmaak.