Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

#merkwaardigema: ‘Sy gee nie op nie, sy is geduldig en ek kan altyd op haar vertrou’

DEUR LANA GOUWS

Dié skryfstuk gaan oor my wonderlike ma. Die een wat vir my help grootmaak het. Die een wat aan my geboorte geskenk het. Die een wat altyd daar vir my is as ek iets nodig het of net iemand om mee te gesels oor alles wat vandag gebeur het. Die een wat ek weet oneindig lief is vir my. Die ongelooflike vrou wat tussendeur haar werk ons grootmaak en altyd na almal omsien.

My mamma het so ’n paar dingetjies wat haar – en ons – uniek maak. Dit is dinge wat ons doen wat ek ook eendag graag in my huis sal wil implementeer. Dit is nou as ek so bevoorreg is om kinders te hê.

LEES OOK: #merkwaardigema: ‘Met die Here aan my sy, spring ek oor ’n muur’

Die eerste hiervan is dat ons elke aand saam huisgodsdiens hou. Dit help ons om in die aand net rustig te word en saam die dag so af te sluit. Nog iets wat my mamma ons ook altyd leer is om gesond te eet en nie te veel van iets te eet nie. Dit is iets wat vir my ook baie help en altyd by my sal bly.

Iets kleins soos broodjies vir skool inpak of soms ’n briefie in my kosblik om sterkte met my toets toe te wens. Of wanneer sy aandete maak, maar sy moet eintlik nog haar eie werk afhandel. Dis kosbaar. Sy stel ons altyd eerste!

Hoe sy altyd so gewillig is om my te help met skoolwerk en doele te oefen gaan my verstand te bowe. Nog iets wat mamma altyd doen is om al ons netbal-, hokkie- en selfs tenniswedstryde by te woon.

LEES OOK: Vou jou kinders toe in ’n gebede-kombers

My ma het my nog altyd geleer om almal gelyk en met respek te hanteer – maak nie saak watter vorm of kleur jy is of watter taal jy praat nie. My ma gee nie op in moeilike tye nie. Sy leer my die belangrikheid van familie en om goed te doen op skool. Ek sal ook altyd onthou hoe sy sê: “Dink voor jy doen” – ’n baie belangrike vaardigheid wat jy van kleins af moet leer. Om te dink voor jy doen is iets wat ek vir my kinders ook sal leer. ’n Mens moet ook nie iets van ander mense sê as jy nie iets moois of opbouend het om te sê nie.

My ma, die een wat altyd die musiek in die kar oorsit van my pa se foon na myne, omdat sy meer van myne hou. As ek eendag ’n ma is sal ek ook so baie herinneringe met my kinders en man wil skep soos my ma. Sy wil altyd hierdie klein, opwindende dinge doen wat almal nie dadelik dink so lekker is nie, maar as ons mekaar het, geniet ons dit.

Ek dink aan al die verjaarsdae wat ons elke oggend die persoon wakker gemaak het met ’n klein ontbyt en present én die verjaarsdae wat ons in Covid alleen was, maar tog saam gevier het op die stoep.

Dankie vir al die tye wat mamma vir my advies gegee het en die “ek het vir jou gesê”-oomblikke. Ek waardeer al mamma se moeite elke dag met ons en die geduld as ons nie elke dag so hanteerbaar is nie.

Sy is my ma, die een op wie ek trots is, die een wie se voorbeeld ek altyd volg en wat my rolmodel is. My ma, die sterk vrou op wie se stem ek altyd kan vertrou en wat my rustig maak in tye van twyfel. Gelukkige Moedersdag, mammas!

  • Lana Gouws is ’n Graad 10-leerder aan die Hoërskool Swellendam. Haar ma Monique Gouws is ’n onderwyseres.

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF