Milan Murray is ’n storiemens. Dié aktrise, skrywer, entrepreneur en deesdae ook inhoudvervaardiger skep en vertel stories. Só is sy ’n stem wat lewe aan karakters gee, en ’n kanaal waardeur ander hul stories kan oorvertel. Hier deel sy ’n blaadjie uit haar boek, en sy vertel hoe sy haar eie storie skryf.
Met haar vyftigste verjaardag wat wink, is Milan Murray op ’n goeie en opwindende plek in haar storie. “Ek is op ’n punt waar ’n mens sou verwag dat my paadjie rustiger sou word, en smaller. Maar die teendeel is waar.
LEES OOK: 10 jaar van Joshua na die Reën: ‘God is groter as woorde’
“My paadjie as aktrise het al telkemale vertak; daar is sóveel nuwe moontlikhede. My belewenisse as aktrise en as mens, en my vertroue in wie ek is, skep toenemend nuwe geleenthede. En nuwe hoofstukke in my storie.
“Ek is gemaklik met wie ek is. Ek ken my beperkings, maar ek het ook genoeg selfvertroue om dit uit te daag.”
’n Splinternuwe storie
“In my twintigs was ek besonder ambisieus, en baie opgewonde om my lewensverhaal te skryf. ’n Mede-akteur en mentor het op ’n dag selfs vir my gesê dat my dryfkrag nog my einde gaan beteken …
“Ek weet nou dat ’n mens sekere dinge kan beplan en beheer, maar dat dit goed is om soms terug te staan en toe te laat dat jou storie self ontvou.
“My storie is uiteindelik baie meer as wat ek self kon beplan.”
Alhoewel die televisie- en filmbedryf altyd haar eerste liefde sal bly, is Milan baie opgewonde oor haar nuwe rol as inhoudvervaardiger van ’n realiteitsreeks. “Ek was baie dapper,” lag sy. “Dit was die begin van ’n nuwe jaar en ek was gereed vir ’n nuwe uitdaging.
“Toe stuur ek ’n e-pos aan ’n produksiemaatskappy en vra dat hulle ’n kans sal waag met my as inhoudvervaardiger, omdat ek glo ek sal dit kan doen.”
Die produksiemaatskappy het ingestem. En deesdae geniet Milan dit om ’n slag aan die ander kant van die kamera se lens te staan.
“Met ’n realiteitsreeks moet jy, anders as met ’n drama, ’n storie ontwikkel uit dit wat voor jou afspeel. Daar is geen teks nie. Jy moet dit wat jy het ook só verpak dat dit ’n getroue weergawe is van wat gebeur, én iets wat die kykers kan geniet.
“Ek was gereed vir hierdie rol. Dit wat ek van stories, draaiboeke en toneel weet, en my belangstelling in die emosionele ontwikkeling van mense, het my met belangrike vaardighede toegerus. Ek kon by die deelnemers betrokke raak, hulle bemoedig en só hul stories oorvertel.”
Om ’n ma te wees
’n Ander heerlike rol, en een wat vele geleenthede bied om te groei, is dié van ma vir die sestienjarige Steph en die vyftienjarige Lua. Milan sê: “My ma-hoed sit baie lekker! Dis heerlik om twee tieners in die huis te hê, dis ’n voorreg om te sien hoe hulle groei en ontwikkel.
“Ek is dankbaar dat ek juis húlle ma mag wees.”
Milan glo aan die waarde van bewuste ouerskap. “Vir my beteken dit dat jy gegrond is in jou eie situasie. Dat jy weet wie jou kind is, en wie jy is, en hoe dit jul gesinsdinamika beïnvloed.
“’n Vriendin het my eendag dié aanha-ling gegee: ‘Parent the child you’ve got.’ Dit beteken dat ek die ouer moet wees wat mý kind nodig het. Ek kan nie die ouer vir ’n ander soort kind wees nie.
“My kinders verskil baie van mekaar, en ek moet ingestel wees op elkeen se eie behoeftes. Ek moet weet waar presies hulle ondersteuning nodig het. Waar hulle ’n bietjie ‘gedruk’ moet word ten einde te kan groei.
“Ouerskap gaan oor verhoudings. Dis trouens die kruks van ouerskap, en dit is my fokus.
“Ek leer baie by my kinders. Ek leer oor my eie tekortkomings en waar ek nog kan groei.
“Dis belangrik om aan mekaar verbind te bly. Ons het byvoorbeeld ’n WhatsApp-groep, ons vier. En ’n kodewoord. Wanneer iemand dié woord whatsapp, moet jy dadelik ’n foto neem van wat jy op daardie oomblik besig is om te doen en dit vir die groep stuur. My man stuur dalk een van sy vergadering in die raadsaal; my seun een van die koshuis se studiesaal; my dogter een van die swembad waar sy en ’n vriendin waterpolo kyk. En ek een van die stel waarop ek werk.
“Die boodskap is deurgaans dieselfde: Ek sien jou. Ek weet waar jy is en ek dink aan jou.
“So ’n verbintenis hoef nie groot en gewigtig te wees nie. Ons moet net seker maak dat ons mekaar bly raaksien.”
Die My Story Tribe
Dis juis haar betrokkenheid by haar kinders wat drie jaar gelede tot die ontstaan van die My Story Tribe gelei het. Hierdie maatskappy, Milan se breinkind, vervaardig hulpmiddels wat kinders met hul emosionele groei en geestesgesondheid ondersteun.
Milan vertel hoe dit gebeur het: “Ek het altyd geweet dat die tienerjare ’n uitdagende tyd kan wees. Maar toe my kinders nog in die laerskool was, het ek besef dat hulle reeds baie uitdagings moes trotseer.
“Ek was, byvoorbeeld, verbaas om te sien hoeveel dinge hulle jonk-jonk moes verwerk. Ek wou hulle help. Ek het net nie geweet hoe nie.
“Stories was nog altyd ’n belangrike deel van my lewe; dis hoe ek sin maak uit wat met my gebeur. Ek het dus begin om stories te gebruik om my kinders te help sin maak uit hul eie stories.
“Ons het stories gebruik om hulle te help om oor die afgelope dag na te dink. Saans, voor slaaptyd, het ek hulle gevra wie op daardie dag die held in hul verhaal was, of die skurk. En hoe, sou hulle wou hê, moes die volgende dag anders verloop? Wat sou hulle aan môre se storie wou verander?”
Milan het uiteindelik met ’n klompie kenners saamgespan – onder andere spraakterapeute, arbeidsterapeute en opvoedkundige sielkundiges – en hulpmiddels ontwikkel wat jong kinders met hul uitdagings bystaan. Sy verduidelik: “Ek hou graag ’n joernaal by om oor die pas afgelope dag na te dink. Maar kinders kan dit nog nie doen nie; dis harde werk vir die jonges wat nog leer om behoorlik te lees en te skryf.
“Daarom is die My Story Tribe-joernaalboeke vol prente-idees, en lysies wat jy kan afmerk. En allerhande ander aktiwiteite wat kinders op ’n ouderdomstoepaslike manier help om sin te maak uit wat in hul lewe gebeur. Al dié hulpmiddels is op behoorlike navorsing en data gegrond.
“Ons kry baie positiewe terugvoer oor die verskil wat dit in die jong kinders se lewe maak, en in dié van hul ouers.”
Om ’n verskil te maak …
Milan is oortuig van die waarde van haar storie, en van die verskil wat dit maak. “Ek glo dat ek nie bloot op die aarde is om te bestaan nie. Ek wil ’n merk laat – in die lewe van kinders, in my gemeenskap, en ook in die groter wêreld.
“En ek moes ’n maatskappy stig wat kon help om dit ’n werklikheid te maak.
“Ek glo dat ek ’n bewustelike lewe moet lei. Dat ek gereeld moet stil word sodat die lewe se geraas nie bepaal wie ek is en waarheen ek op pad is nie. Ek wil bewus wees van waar ek nog kan groei, waar ek kan bydra, en waar ek ’n verskil kan maak.”
- Foto’s: Robert Cable