Musiek breek mure af. En daar vind groei plaas nadat dit gereën het. Tussen dié twee waarhede het ’n merkwaardige musiekloopbaan tot stand gekom. Die land se musiekliefhebbers was gelukkig: Joshua na die Reën kon net sowel ’n wildbewaarder geword het.
Vanjaar is ’n gróót jaar vir die dinamiese sanger en musikant Jacques de Villiers (37), dalk beter bekend as Joshua na die Reën. Hy vier vanjaar tien jaar in die musiekbedryf.
Jacques vertel my dat Joshua na die Reën eintlik ’n simboliese naam is. “Toe ek nog klein was, het mense vir my gesê ek moet Josua se storie in die Bybel gaan lees. Dit was byna soos ’n profetiese woord wat mense met mekaar deel. Maar ek het dit nooit ernstig opgeneem nie.
“Op ’n dag – ek was in my tweede jaar op universiteit – loop ek op die kampus rond en ek tel ’n naamkaartjie op waarop staan: ‘Life, like living Joshua.’
“Ek beskou dit toe as ’n soort teken, en ek móés daarna luister. Almal ken tog die storie van Josua en Jerigo, en musiek is vir my ook iets wat mure afbreek.”
Hy is bowendien behep met die natuur, sê Jacques, spesifiek met reën. “Groei is ’n belangrike tema in my lewe. En Jesus het gesê dat die koringkorrel eers in die grond moet val en sterf voordat dit groei. Groei vind slegs plaas nadat dit gereën het.
“En siedaar – Joshua na die reën! Dis waar die naam vandaan kom.”
‘Dit het tyd geword’
Jacques gesels gemaklik, sonder om te soek na woorde, gedagtes of die gepaste emosie. Ons lag lekker oor die verwarring wat soms ontstaan as mense hom “Joshua” noem en boonop dink dat sy van “na die Reën” is. Sy humorsin en die spontaneïteit in sy vertellings is aansteeklik.
Ons gesprek maak ’n draai na wat belangrik is in die lewe.
“Ek het ’n gesin. Ek is getroud met Danél, en ons het twee dogtertjies en ’n seuntjie – Anán (10), Elgin (6) en Lonan (4). Danél is ’n spraakterapeut en oudioloog. Ons het mekaar ontmoet toe ons in Pretoria geswot het.”
Jacques het ’n graad in jazz aan die Tshwane Universiteit vir Tegnologie verwerf.
Sy oë blink wanneer hy oor sy gesin praat. “Ons huis is bésig! Dis deels die rede waarom ek eers onlangs, ná vyf jaar, ’n nuwe album vrygestel het. Ek wou nie my vrou alleen los met alles nie.
“So ’n jaar gelede het dit begin makliker word by die huis. Ons werk toe reeds drie jaar aan die nuwe album, maar verlede jaar kon ek eers intensief begin aandag gee aan die nuwe musiek, en kon ek die album voltooi.”
Wanneer ons gesels, het Jacques pas ’n radio-onderhoud agter die blad. ’n Fotosessie vir ’n publikasie wag teen laatmiddag. Maar die energie en lewenslus bruis behoorlik.
Ons praat oor sy reusetreffer “Lig op die horison”. Etlike sangers en groepe het dit al uitgevoer.
Jacques noem die name van bekende kore wat dit opgeneem het: Tuks Camerata, die Stellenbosch Universiteitskoor, die Libertaskoor, Hoërskool Rustenburg se koor.
Hoe het die liedjie ontstaan?
“Ons was by ’n musiekkonsert, laat in 2012, en my pa het ná die tyd vir my gesê dit het tyd geword dat ek my eie musiek begin opneem. In daardie stadium het ek vir ander musikante klavier gespeel.
“Maar toe hy dit vir my sê, kom dit by my op dat ek ’n ateljee moet bespreek. ’n Week later word ek een oggend wakker met ‘Lig op die horison’ se koorgedeelte in my kop.
“As my pa nie hieroor met my gepraat het nie, sou ek waarskynlik nie vandag hier gesit het nie. Dit laat my steeds, elke dag, dink aan die waarde van ouers se woorde in hul kinders se lewe.”
’n Baie spesifieke gevoel
Ek vra uit oor die nuwe album en die musiek daarop.
Jacques vertel: “Met elke nuwe album leer ek om beter te skryf. Die jongste een het die spektrum van my vorige musiek verbreed. Met baie meer eksperimentele musiek daarop, en dis ook baie meer kommersieel. Daar is 19 liedjies op die album.
“Die album het ’n baie spesifieke gevoel. Dis asof jy ’n staproete aandurf – jy begin aan die vallei se bokant, en dan daal jy skerp. Dis asof jy van jou besige lewe af kom, jy voel die gejaagdheid. Dan begin jy met die afdraand. Maar jy het deurentyd hierdie stryd in jouself voordat jy kan rustig word.
“Sommige van die liedjies eindig met ’n minuut of meer se instrumentale mu-siek, sonder stem, byna soos ’n meditasie. Daarna, dink ek, het jy weer die krag om op te gaan, na die ander kant van die vallei.”
‘Om ons skoene uit te trek’
Kan ’n mens sy musiek “gospel” noem?
Hy antwoord: “God is groter as woorde en terminologie. Ek vind Hom oral – van die bome tot die mense. Eintlik is taal te beperk om Hom te beskryf.
“Ek is nie ’n Christen in die tradisionele sin van die woord nie; ek glo in God, en ek is lief vir Jesus, maar ek is versigtig vir woorde en etikette soos ‘Christen’ en ‘gospel’.”
Ek vra hom wat sy dryfveer in die lewe is – en om die een of ander rede skiet sy oë vol trane. Dis beslis ’n gewigtige saak. Oplaas antwoord hy: “Ek dink dis om die beste mens te wees wat ek kán wees. Hoe kan ’n vraag ’n mens dan nou so …?”
Hy hervat sy verduideliking. “Ek het ’n sêding wat ek die afgelope drie jaar gebruik: Die ‘ultimate’ godsdiens vir my is om goed te doen.
“Dís wat my dryf.
“As ek nie van musiek ’n loopbaan gemaak het nie, sou ek iets in of met die natuur gedoen het – ’n wildbewaarder, toerisme. Ek het ’n baie sterk verbintenis met die skepping. My pa was die soort mens wat, wanneer ons gekampeer het, ons aangesê het om ons skoene uit te trek om die grond onder ons voete te voel.”
Ek dink aan Moses en die brandende bos, aan heiligheid en veiligheid. Jacques sê-vra: “Onthou jy die ‘walkmans’ met die oorfone? Ons het ons gunstelingmusiek op kassette geplaas voordat ons ver sou ry. En daai ver ry, en in die natuur wees, en die musiek … Dit het met my menswees verweef geraak.
“My pa was aanvanklik ’n bietjie skepties oor musiek as loopbaan, maar teen die tyd dat ek my graad gekry het, het hy anders begin dink.
“Ek was baie gelukkig om dadelik werk te gekry het nadat ek geswot het. En ek het wonderlike mense soos Charl du Plessis en Jak de Priester ontmoet. Jak was die eerste musikant vir wie ek klavier gespeel het.”
‘Tog net meer genade met mekaar …’
Ek vra hom oor sy verhouding met Suid- Afrika.
“Ek dink dit sal so ’n groot verskil in ons land maak as ons almal ’n bewust-heid sou hê van waar ander mense vandaan kom. Ek dink as ek die mag gehad het om vir mense te gee wat hulle nodig het, ek dit sou doen.
“As ons tog net meer genade gehad het met mekaar …
“Kan ’n mens sê dat ons dankbaarder moet wees? En dat ons rassisme moet uitroei? Kan ons tog net besef dat ons almal mense is, en wegbeweeg van alles wat skeiding bring?”
Buite waai ’n ligte wind. Die dag se hitte begin wyk. Jy kan jou die groei verbeel wat uit die aarde spruit, kort ná die reën.
- Foto’s: Annemarie Wichmann