DEUR MILANIE VOSLOO
Ek is seker jy het ook al, soos ek, hard gewerk aan ’n krap-aan-mekaar-verhouding en regtig probeer om in vrede en goedgesindheid met ’n persoon om te gaan. Maar dan later, uit moedeloosheid gesê: “Ek gee op! Daar is geen manier hoe ek en X mekaar ooit sal vind nie. Ons is eenvoudig net té verskillend! En ek is moedeloos probeer!”
LEES OOK: God is nie ’n wiskundesom nie
Ondervinding het my geleer dat dit ’n jammerte kan wees om met iemand op te gee. Want, ás ons bereid is om saam met die Gees ’n pad saam met daardie mens te stap en bereid is om soms ook maar die minste te wees en met meer begrip na hom/haar te kyk, kán wonderwerke gebeur. Iewers kan die Gees in beide van ons se hart ’n skuif maak. Iets in ons vir mekaar laat oopbreek. Ons hart onverwags en op vreemde maniere verander.
Ek dink God wou al vele kere opgee met my! Tog het Hy nie. Wie is ek dan om op te gee met enige iemand anders?
’n Nié-opgee-hart
Here, ek’s nie meer lus om te probeer nie!
Hoeveel keer het ek al ’n reuse-poging aangewend om
dié mens te verstaan …
Brûe te bou …
Te versoen?
Nou’s ek nie meer lus nie, Here!
Tog weet ek dat daar ’n groter prentjie is
wat ek nie kan sien nie.
Dat U die onmoontlike kan doen.
Vandag vra ek:
Skep in my ’n wéér-probeer-wil.
Help my om ander te sien uit ú oë.
Na hulle te kyk met ú soort hart.
En dan te doen wat U vra.
Al is ek nie lus nie.
Bid sommer nou:
Laat u troue liefde ons oordek, Here, want ons hoop op U alleen (Ps 33:22).
- Milanie Vosloo is die eienaar van ’n bemarkingsmaatskappy, topverkoperskrywer van geestelike boeke en ’n gereelde rubriekskrywer in LiG.