Dis Juniemaand, Jeugmaand, en LiG het by jong gelowiges gaan aanklop om eerstehands hul geloofstorie te hoor. Eerste aan die beurt is RUMÉ BURGER, wat die rekords op die atletiekbaan behoorlik laat spat. Sy het reeds 61 medaljes op hoërskool-atletiekbyeenkomste ingepalm. Sy is ook, onder meer, die junior én die senior SA-kampioen in die 200 m. Maar haar voete is steeds plat op die aarde, en sy glo vas haar roeping is om God se ligdraer in die sportwêreld te wees.

1. Rumé, vertel ons asseblief jou geloofstorie.
Ek was jonk toe ek die Here leer ken het, hoofsaaklik deur my ouers se voorbeeld. In my hoërskooljare het ek Hom werklik persoonlik leer ken, nie bloot as ’n God “daarbo” nie, maar as Een wat naby is, wat omgee, wat ’n plan vir my lewe het. Ek volg Hom omdat ek gesien het hoe getrou Hy is, juis in tye wanneer dit moeilik gaan. Sonder Hom sou ek nooit die vrede en vreugde gehad het wat ek vandag ervaar nie. Sou ek nooit kon koershou nie.
LEES OOK: Silwermedaljewenner Jo-Ané: ‘God het my hartseertrane in vreugdetrane verander’
2. Wat, dink jy, is jou roeping in die lewe?
Ek glo my roeping is om ’n ligdraer in die sportwêreld te wees. Om Jesus se Naam te eer deur die manier waarop ek lewe, deur hoe ek hardloop en deur hoe ek ander mense behandel. Ek dink die Here gebruik my atletiekloopbaan as ’n platform om sy liefde te wys, ook aan dié mense wat nie noodwendig kerkgangers is nie.

3. Hoe leef jy nou reeds dié roeping uit?
Ek probeer om elke dag getrou te wees in die klein dinge: om nederig te bly; om ander aan te moedig; om altyd te onthou dat my talent van die Here af kom. Ek begin my dae met gebed, en ek vra Hom om my te wys hoe ek sy lig kan wees. Ek sal eendag graag ’n mentor vir ander jong atlete wil wees, en dalk ook my getuienis op ’n groter verhoog met ander deel. Ek wil graag ander mense bemoedig.
4. Watter oomblik(ke) op jou geloofspad was vir jou die betekenisvolste?
Een van die betekenisvolste oomblikke was toe ek besef het dat my identiteit nie in my prestasies geleë is nie, maar in Christus. Dié besef het gekom ná ’n besering wat ek in 2024 opgedoen het. Ek het ’n diep vrede ervaar. Dit was asof die Here toe vir my gesê het: “Jy is steeds my kind. Ek is trots op jou.” Daardie oomblikke het my geloof verdiep.
5. Wat is jou boodskap aan ander jong gelowiges?
Moet nooit dink jy is te jonk om ’n verskil te maak nie. Die Here gebruik ’n gewillige hart, nie ’n perfekte mens nie. Bly na aan Hom, vertrou sy tydsberekening, en onthou dat jy geskape is vir ’n doel groter as jouself.
6. Wie is jou rolmodel?
Ek bewonder ander Christen-atlete, mense soos die Amerikaner Sydney McLaughlin-Levrone. Sy is nie skaam om haar geloof openlik te bely nie. Sy wys my dat jy suksesvol én nederig kan wees. En dat God eerste bly, ongeag hoe groot en belangrik die podium is waarop jy staan.
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.




















