Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

Silwermedaljewenner Jo-Ané: ‘God het my hartseertrane in vreugdetrane verander’

Hooffoto: Charmaine Sisterwood Visser

Toe die spiesgooier Jo-Ané van Dyk se 63,93 meter haar ’n podiumplek by die onlangse Olimpiese Spele besorg het, het Suid-Afrikaners gejuig. Maar foto’s en ander beeldmateriaal het gewys dat dié silwermedaljewenner, haar ouers en haar verloofde eers behóórlik gehuil het voordat daar feesgevier is. 

Vra jy ons jongste spiesgooikoningin uit oor al dié trane, gaan haal sy die storie by vroeër vanjaar – by 20 Januarie, om presies te wees. In ’n stemboodskap wat sy uit Praag stuur, haar basis wanneer sy in Europa deelneem, vertel Jo-Ané hoe sy daardie dag rondgestap het in die kompleks in Potchefstroom waar sy toe gewoon het. Sy was bitter hartseer, sê sy. Dit was vir haar, ’n familiemens, ’n groot opoffering om toe reeds twee jaar lank alleen in dié dorp deur te bring.

Jo-Ané het, ná die voltooiing van haar gemeenskapsjaar, eers halt geroep met haar werk as dieetkundige sodat sy voltyds saam met haar afrigter, die bekende spiesgooikenner Terseus Liebenberg, in Potchefstroom kon oefen.

LEES OOK: Gouemedaljewenner Anruné oor uitdagings: ‘Ek moes my andersheid en ons IVF-pad vir God gee’

Jo-Ané en haar pa Johan op daardie triomfantelike dag in Parys. Sy vertel sy raak altyd bewoë as iemand haar oor haar ouers uitvra. Sy sê ook: “My ouers is die rede waarom ek steeds lief is vir die sport.” Foto: Charmaine Sisterwood Visser

Haar verloofde, Johan du Plessis, woon tans in die Kaap. En haar ouers, Johan en Marjo van Dyk, boer tussen Swellendam en Heidelberg.

Op daardie dag in Januarie, vertel sy, het God se stem haar getroos. Hy het vir haar gesê: “Ek gaan jou hartseertrane in vreugdetrane verander.” En sy het daaraan bly vashou. Sy sê sy besef nou hoe haar eensaamheid haar nader aan die Here gebring het.

Jo-Ané se trane het sowat ses maande later weer gevloei, dié keer saam met haar geliefdes s’n. Hulle was saam in Parys op daardie triomfantelike dag. En hulle het saam gehuil net voor sy haar medalje op die podium ontvang het. Sy vertel sy het tussen die trane deur gedink: “Ja, die Here hét toe ons hartseertrane in oorwinningstrane verander …”

Kersie op die koek

“Die medalje was eintlik die kersie op die koek van ’n besonder geseënde jaar,” vertel sy. “Ek dink nie dit het al behoorlik ingesink nie …

“Ek, my afrigter, my ouers, Johan … ons weet weet hoeveel harde werk dit geverg het. Watter opofferings gemaak is. Dit maak die medalje sekerlik die lekkerste ‘well done’ wat jy kan kry!”

Sy vertel ook van die groot teleurstellings wat sy te bowe moes kom. By die vorige Olimpiese Spele in Tokio, sowel as die 2023-Wêreldkampioenskap, het sy nie na verwagting presteer nie.

Vreugde na vele trane vir Suid-Afrika se jongste spiesgooikoningin. Foto: Charmaine Sisterwood Visser

Maar van moed opgee was daar beslis nie sprake nie. Nie met Johan, “my grootste ondersteuner”, en haar ouers aan haar sy nie. “Ek dink nie ek kan in woorde sê wat Johan vir my beteken nie. Hy is altyd ondersteunend, en ons is regtig ‘beste maatjies’. Ons kan enigiets vir mekaar sê.

“My ouers is die rede waarom ek steeds lief is vir die sport. Hulle het my nooit ‘gedruk’ nie. Toe ek op skool was, het hulle my gelos om self te besluit wat ek wou doen; hulle het my net ondersteun. Én gesorg dat ek gekom het waar ek moes wees. Boonop het hulle my die afgelope twee jaar finansieel ondersteun.”

Al dié opofferings het uiteindelik vrugte afgewerp. “Ek moes net die proses vertrou. Dit het 15 jaar geduur om tot hier te kom. En as ek nou daarop terugkyk, sien ek dat ek elke jaar ’n klein bietjie verbeter het.”

En op 10 Augustus 2024 in Parys het al daardie bietjies báie geword.

Braai en bruilof

Jo-Ané sê daar is nou net twee dinge waarna sy uitsien: “Om saam met my familie en vriende te braai. Ek kan nie wag om my voete op Suid-Afrikaanse bodem te sit nie.”

Dan is daar haar en Johan se troudag in Oktober. Sy vertel dat hulle dit eens is dat hul grootste oomblik dié jaar beslis haar Olimpiese medalje was. “Maar dalk, as ons voor daardie kansel in Robertson staan, sal ons anders voel …”

’n Emosionele oomblik vir Jo-Ané en haar ma Marjo. Foto: Charmaine Sisterwood Visser

En dan is dit tyd om te gaan nesskop in hul huis in Kaapstad.

Jo-Ané se toekoms lyk blink. Daar is etlike dieetkunde- en afrigting-aanbiedings. Maar, sê sy, sy wil die volgende vier jaar darem ook voltyds atleet wees. Sy moet in elk geval eers haar seisoen vanjaar afsluit met ’n Goue Liga-byeenkoms in Kroasië op 8 September.

Sy sê sy wil ook graag iets teruggee aan die sport wat haar so baie gegee het.

Sy wil haar mede-atlete, en eintlik enige mens wat hard werk om ’n doelwit te bereik, met dié woorde aanspoor: “Wees geduldig. En vertrou op die Here in alles wat jy doen. Hy het ’n plan met jou lewe.”

Geborg

Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF

Kry
LiG

Jou daaglikse inspirasievennoot.

Die LiG-app is nou beskikbaar vir jou selfoon. Installeer dit vandag nog.