Ons almal gaan eendag sterf – en die meeste van ons se finansiële en verwante sake is nie in orde nie. In ’n vreemde tyd soos dié is dit ’n skrikwekkende gedagte. Maar die waarheid is dat baie paartjies steeds nie weet waar om te begin orde skep nie. Hier is raad.
DEUR ANDRÉ P ELOFF
Dis nie so moeilik om jou sake betyds in orde te kry nie. Maar dan sal jy en jou maat so gou moontlik daaroor moet begin gesels.
Praat oor begrafnisse, oor jul testament, die bereddering van die boedel, die onmiddellike kontant wat ná die dood benodig gaan word. Praat oor die toekoms van die sakeonderneming en die trusts waaroor julle dalk beskik.
LEES OOK: My aftrede: Sal ek dit finansieel oorleef?
En wat van die inkomste wat verval wanneer die verdiener daarvan sterf?
Ja, praat met mekaar terwyl julle al twee nog leef. Die dae dat die vrou sulke sake aan haar man oorgelaat het, is lankal verby.
Begrafnis
Hoe werk dinge prakties nadat jou maat gesterf het? Hoe hanteer jy die liggaam by die huis? Wat gebeur met die liggaam as jou geliefde byvoorbeeld in ’n hospitaal of in ’n motorongeluk gesterf het?
Wie moet almal in kennis gestel word? Weet jy en jou maat of julle begrawe, veras of gebalsem wil word? Wat van ’n gedenkdiens, en wat van almal wat daar betrokke moet wees?
In al hierdie sake – ook wat ’n geldige begrafnispolis betref – is ’n goeie begrafnisondernemer ’n groot hulp.
Belangrike mense
Ná die begrafnis is die volgende van belang: die testament; die eksekuteur vir die boedel se bereddering; die finansiële adviseur wat die polisse en beleggings behartig; die prokureur; die ouditeur wat die inkomstebelastingopgawes indien.
Soms het die langslewende (veral as laasgenoemde die vrou is) nog nooit die bogenoemde persone ontmoet nie …
Onthou die volgende oor jou testament:
- ’n Testament moet uitvoerbaar wees, en beskikbaar wees vir die Meester van die Hooggeregshof.
- Geskeides reken dalk dat hul vorige testament wat hulle saam met die gewese eggenoot opgestel het nie meer geld nie. Dis nie waar nie.
- Pasop vir sogenaamde “gratis” testamente. Sorg dat jou testament deur behoorlike finansiële beplanning ondersteun word.
Die boedel en kontant
Terwyl die boedel in die proses is om beredder te word, sal die oorlewende kontant benodig. Sorg dat julle nou reeds weet waar om dit in die hande te kry.
Die eksekuteur benodig al die relevante dokumente ten einde die bereddering te begin, en dit kan nou reeds georden word. Wat die eksekuteur tydens bereddering doen en wat die koste vir die bereddering sal wees, behoort ook nou reeds vasgestel te word.
Sakebelange en trusts
Die risiko’s betreffende ’n sakeonderneming en trust van ’n geliefde wat sterf, moet nou reeds bepaal word en aan die langslewende bekend wees. Sulke risiko’s is gewoonlik met die beredderingsproses vervleg en moet ondervang word ten einde, te midde van rousmart, boonop groot finansiële hartseer te vermy.
Saamwoon-verhoudings
Baie paartjies verkies, om ’n verskeidenheid redes, om liefs nie te trou nie. Dit bring allerlei komplikasies mee indien een sterf.
LEES OOK: Ek verdien ’n groter salaris as my man …
Wees daarvan bewus dat daar verskeie stukke wetgewing is wat julle in so ’n situasie negatief sal raak. Daar is sake soos die nievrystellling van boedelbelasting en skenkersbelasting. En die moontlikheid dat die oorlewende nie die gestorwene se pensioen gaan ontvang nie – al het hulle 30 jaar lank saam gewoon.
Dis dus uiters belangrik dat so ’n paartjie gouer eerder as later ’n saamwoon-kontrak laat opstel ingevolge die Wet op Burgerlike Verbintenisse.
Gevolgtrekking
Terwyl albei nog leef, moet ’n paartjie die moeite doen om hul finansiële sake in orde te kry. Hulle moet oop kaarte met mekaar speel en sonder skroom oor dood en die gevolge daarvan praat.
Indien daar ’n trust of ’n sakeonderneming ter sprake is, moet die toekoms daarvan uitgepluis word voordat een van die huweliksgenote sterf. Kom betyds op die hoogte van al die prosesse en prosedures in dié verband. Moenie ná ’n sterfte die slagoffer van ’n onaangename verrassing word nie. Moenie dat jy in ’n tyd wat jy hartseer en broos is, verplig word om groot besluite te neem as jy dit nou reeds kan doen nie.
WENKE rakende albei partye in ’n huwelik
- Maak seker dat julle weet waar elkeen se ID-dokument is.
- Maak voorsiening vir begrafniskoste.
- Orden nou reeds alle dokumentasie in een laai. Dit voorkom ’n soektog wanneer die boedel beredder moet word.
- Kry die testament reg en uitvoerbaar. En bêre dit tuis of by ’n bank of soortgelyke instelling.
- Geskeide persone moet so gou doenlik ’n nuwe testament opstel.
- Sorg dat julle weet waar die trustaktes (indien van toepassing) en ander relevante dokumente is.
- Praat oor die risiko’s in die sakeonderneming (indien van toepassing) en ondervang dit.
- ’n Saamwoon-paartjie behoort betyds ’n saamwoon-kontrak te sluit.
Kontak ons kenner
André P Eloff is ’n boedelbeplanner en die skrywer van Finansiële gemoedsrus.
Kontak hom by andre.eloff@hotmail.com of 082 446 8079.