Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

‘My nege wonderwerke, etlike verliese en my besoeke aan die hemel,’ vertel 87-jarige

DEUR LENÉ ANKER

Wanneer ek as 87-jarige terugkyk op my lewe is dit besaai met verlies, swaarkry en struikelbokke. Ek het twee van my vier kinders aan die dood afgestaan. Maar daar was ook vele wonderwerke, en ek glo die Here het my boonop toegelaat om meer as een keer na die hemel te reis nadat ek byna gesterf het.

LEES OOK: ‘Jy moet dapper wees in die laaste seisoen van jou lewe,’ vertel skrywer met terminale kanker

Ek is op 45 van my man geskei en ek het my vier kinders – Idelette, Deidre, Les en Nadine – alleen in Kabegapark in Port Elizabeth (vandag Gqeberha) grootgemaak. Deur die jare was ek van ’n bloemiste tot ’n eiendomsagent om die pot aan die kook te hou. Maar ek het vroeg in my lewe geleer dat jy God jou prioriteit moet maak. Hy sal jou deur die swaarkry dra.

Diabetes-dief neem twee kinders

Ek het self diabetes, wat ek deur die jare onder beheer kon hou. Maar twee van my kinders is as gevolg van dié siekte oorlede.

My dogter Idelette is reeds op 11 maande met diabetes gediagnoseer. Met ’n klein dogtertjie wat ’n diabeet is, moes ons leer om te alle tye haar toestand in ag te neem. Sy was heel dikwels in ’n koma as gevolg van lae bloedsuikervlakke. Sy moes vier keer per dag insulien kry. Sy was maar 12 toe sy haarself moes begin inspuit.

Haar jonger suster Nadine (vandag 58) was altyd haar versorger, veral op skool.  Saam met die onderwysers en hoof het hulle ’n goeie span gevorm om na Idelette om te sien, veral wanneer sy in ’n koma verval het.

Idilette is ná skool, op aanbeveling van ’n sielkundige, na Yonder in Kimberley gestuur. Yonder is ’n sentrum vir volwassenes wat nie die vermoë het om in die arbeidsmark te funksioneer nie. Sy was baie gelukkig daar en was veral lief vir brei, en sommer bak en brou. Sy is later na ’n tehuis in Uitenhage. Sy het gesterf toe sy 38 was nadat haar organe ingegee het.

My dogter Deidre Ross was ook ’n diabeet. Sy was maar 50 toe sy oorlede is. 

Ek beleef nege wonderwerke

Ek het die voorreg om van ’n klomp wonderwerke in my lewe te getuig:

  1. Ek het destyds, ná my dogter Deidre se geboorte, ’n bloedklont in my oog ontwikkel. Die dokters het gevrees dat ek die sig in daardie oog gaan verloor. Ek het gelukkig by ’n goeie dokter in Humansdorp beland, en wonder bo wonder is my oog totaal genees.
  2. Ek het ook weer liefde gevind en is in 1990 met Pienaar Anker getroud. Ons was daarna ’n gróót gesin omdat Pienaar self ook vier kinders gehad het.
  3. Op 55 het my dogter Nadine Joubert geval en haar been gebreek. Sy het bloedvergiftiging opgedoen, en ná baie trauma is haar been geamputeer. Hierna het sy alles wat vir haar belangrik is verloor: haar onafhanklikheid, haar huis, motor, honde en haar privaatheid. Depressie het baie hard aan haar deur kom klop. Ek het by God gepleit, en ná agt maande se gebede en versugtinge het Hy ons gebede verhoor. Sy het genadiglik weer in haar voorkoms begin belangstel, haar kleredrag, haar selfversorging en haar geldsake. In Januarie 2018 verhuis Nadine. Maar kort daarna brand die huis af waarin sy en nog ander huurders was. Een van die inwoners is oorlede. Dit was vir almal ’n uiters traumatiese tyd. Gelukkig het Nadine plek gekry in Cheshire Home, ’n tehuis vir mense met gestremdhede in Gqeberha. Sy is baie gelukkig daar.
  4. Nog ’n wonderwerk het in 1999 plaasgevind. Ek het agtergekom my hande het begin bewe. Die dokters het ’n breinoperasie aanbeveel. My kop is kaal geskeer en ek was reeds in die teater toe die spesialis inkom en my inlig dat hy besluit het om nie te opereer nie. Hy het ’n vorige pasiënt gehad wat ’n beroerte gehad het ná ’n soortgelyke operasie. Ek weet ek is van ’n moontlike beroerte gered.
  5. ’n Paar jaar gelede het nog ’n wonderwerk agter die stuur van ’n motor gebeur: My vriendin het my dié dag dorp toe geneem toe sy skielik ’n epileptiese aanval kry. Sy ry daarna oor ’n kruising en ek sien sy toon geen reaksie nie. Ek het die stuurwiel gegryp en probeer om die motor te beheer. Ek het die handrem opgetrek en die motor het reg voor ’n boom tot stilstand gekom. Ons was ongedeerd.
  6. In Julie 2018 het ek met ’n maagseer in die hospitaal beland. Ek het bloed ontvang, was baie swak en is uiteindelik na die hoësorgeenheid oorgeplaas omdat die dokters vir my lewe gevrees het. In hierdie tyd, glo ek, het ek die hemel besoek. En ek het beleef dat God vir my sê my taak op aarde is nog nie voltooi nie.
  7. In Oktober 2019 het ek tydens ’n vlug vanaf Kaapstad na Gqeberha in ’n diabetiese koma verval. Ek het ook erge septisemie opgedoen. Ná ’n week in die hoësorgeenheid word ek wakker nadat ek my lewe vanuit ’n ander plek gesien het. Ek weet ek was in die hemel; dit was egter nog nie my tyd om die aarde te verlaat nie. Die Here wil hê ek moet nog iets vir hom hier op aarde beteken.
  8. In November 2020 doen ek Covid-19 op, maar ek herstel goed.
  9. In Oktober 2021 skrik ek vir iemand in die badkamer en ek wil val. Ek besef oombliklik ek gaan waarskynlik my heup breek. Ek plaas toe my hand op my heup en bid: “Here, spaar asseblief my heup!” In die hospitaal sê twee spesialiste dat ek ’n té groot risiko vir ’n operasie is. Ek word na ’n rehabilitasiesentrum oorgeplaas en bring ’n week daar deur. Ek is daarna terug na my kamer in die tehuis. En ná heelwat oefensessies en fisioterapie kon ek ná ses weke met gemak loop, en sonder pyn.

Tydens my lewe was ek altyd bewus van God se bystand in alles wat oor my pad gekom het.

Ek beskou dit as my taak hier in die aftreeoord om ander te bemoedig. Wanneer ’n sieke se sterwensuur nader, bring ek meer tyd by haar of hom deur. Ek bid vir hulle en hou hul hand vas.

En verder probeer ek elke dag om God se liefde uit te leef.

  • Lené Anker (87) woon die afgelope 11 jaar in die CP Bradfield-aftreeoord in Gqeberha. Haar seun Les Joubert is 66 jaar oud, en haar dogter Nadine Joubert is 58.
Geborg

Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF