Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

My verwerking van Psalm 19

DEUR SIMONE GAUCHE

Die hemel vertel ons
God se mag is oral om ons.
Die maan en die sterre fluister.
God het hulle met sy eie hande gemaak.
Ek wil saam met die natuur u lof besing:
Vandag dra sy geheime oor aan môre;
vannag deel sy kennis met die aand wat kom,
sonder om iets te sê, sonder woorde.
Niemand hoor enigiets nie,
en tog versprei die boodskap
oor die hele wêreld.
Soos die internet
bereik dit die uithoeke van die aarde.
Die boodskap bereik
selfs die mees afgeleë plekke.

LEES MEER: Bestuur jou angs en kommer met dié Bybelse raad

Die son se huis is in die hemel.
Hy volg stralend sy baan,
soos ’n bruidegom wat uit sy slaapkamer kom.
Hy is vol blydskap,
’n held wat sy weg gevind het.
Aan die een kant van die hemel kom hy op,

en aan die ander kant sak hy weer af.
Niks op hierdie aarde
word nié deur hom verwarm nie.

God se woorde is perfek,
dit gee lewe.
Wat God ons leer,
is betroubaar.
Dit gee wysheid wat jy
nie uit ervaring kan leer nie.
Ons weet watter pad om te volg
as ons luister na wat die Here sê.
Slegs dan sal ons waarlik vreugde vind.
Die Here se gebod is helder,
dit gee insig.
Ons sien dit wat vir ander verborge is.

Die Here se versoeke
is goed vir ons en vir die mense om ons.
Hy bly altyd dieselfde.
Die Here se bepalings is reg
en regverdig.
Dis meer werd as bitcoin.
Ja, selfs baie bitcoin.
Dis soeter as Illovo-stroop,
soeter as die goue druppels wat aan die bottel se bek klou.
Ek wil uit dié woorde leer, want

as ek dit kan onderhou,
sal my beloning groot wees.

Ek sukkel om my eie foute raak te sien.
Help my sien!
Moet my asseblief nie straf
vir die verkeerde dinge wat ek onwetend gedoen het nie,
en help my ook om nie aspris te sondig nie.
Mag sonde nooit my baas wees nie.
Ek sal my bes probeer om heilig te lewe,
onskuldig en sonder sonde.
Maar ek bly net ’n mens …

Mag dit wat ek sê en dink
en die dinge wat my hart oorheers
tog vir U goed wees,
Here, my Rots!
U is die Een wat my gered het.

God se Woord is lewend en dis opwindend. Dit was nog altyd relevant en dit sal altyd relevant bly. Maar soms, as ek bekende gedeeltes in die Bybel raak blaai, lees my oë – maar my hart hoor nie meer nie. Dan is dit vir my goed om te mediteer oor wat hierdie gedeelte vandag beteken en waar dit vandag op my van toepassing is.

Dis daarom dat ek daarvan hou om Bybelgedeeltes in ander woorde oor te skryf, sodat my brein ’n slag op ’n laterale manier daaroor kan dink. Met jong kinders in die huis is dit ook vir my belangrik om die Bybel soms uit ’n ander hoek te benader. Ek staan dikwels verstom oor hoe kinders dit regkry om Bybelgedeeltes vanuit ’n heel ander perspektief te beskou.

Psalm 19 is ’n skeppingspsalm wat ons daaraan herinner dat God se woorde oral is. Ja, dis in sy Boek geskryf, maar ons kan ook sy woorde oral om ons hoor. As ons met aandag na God se skepping kyk, kan ons hoor hoe dit ons van God se karakter vertel. As ons so in verwondering staan, besef ons dikwels hoe nietig en sondig ons is. Maar as ons na Hom luister en sy woorde verander ons, word ons heilige offers. En ons hemelse beloning sal groot wees.

Mag jy hierdie week opnuut na God se skepping kyk – en hoor hoe dit jou van
Hom vertel.

  • Simone Gauche is ’n ma en ’n mediese dokter wat in die
    staatshospitaal op Mosselbaai werk.

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF

Kry
LiG

Jou daaglikse inspirasievennoot.

Die LiG-app is nou beskikbaar vir jou selfoon. Installeer dit vandag nog.