Vriendskap is die vernaamste eienskap in ’n gesonde huwelik. Dié waarheid kom nie van gister af nie. In die Bybelboek Hooglied word die Hebreeuse woord raya gebruik om liefde te beskryf. En raya beteken “vriendskap”.
Dr John Gottman, ’n bekende Amerikaanse sielkundige, sê: “’n Gelukkige huwelik is op ’n diep vriendskap gegrond.”
Volgens die Gottman-instituut is ’n paartjie wat mekaar as beste vriende beskou in staat om konflik suksesvol te hanteer en ’n diep emosionele band te hê. ’n Ander studie hieroor het uitgewys dat mense wat hul huweliksmaat as beste vriend beskou dubbel soveel lewensbevrediging ervaar as dié wat dit nie doen nie.
Dis die laasgenoemdes wat ons aandag opeis, en ter wille van hulle moet ons doodeenvoudig vra: Hoe word jy en jou huweliksmaat (weer) mekaar se beste vriend? Anders gestel: Hoe kweek julle ‘n gesonde huwelik?
Die ou Griekse filosoof Aristoteles was vas oortuig daarvan dat ’n vriendskap uit een siel bestaan wat in twee liggame gehuisves word. Daar is dalk groter waarheid in dié vreemde beskouing as wat ’n mens dink …
En dalk herken jy iets daarvan in die onderstaande nege praktiese maniere waarop die vriendskap in jou huwelik herbou kan word.
1 In ‘n gesonde huwelik maak maats tyd vir mekaar
Geen vriendskap kan herbou word as jy en jou huweliksmaat nie tyd vir mekaar maak nie. En onthou: Tyd met jou huweliksmaat moenie verwar word met tyd saam met jou kinders of gesin nie. Hier is dit die enkeling wat saak maak, die huweliksmaat.
Die raad is eenvoudig: Skep ruimte. Kies mekaar, al is dit bloot een keer ’n week. Begin klein: Drink koffie saam. Gesels, lag, deel stories met mekaar. Moenie oor die huishouding praat nie, ook nie oor die kinders nie. Bêre die fone en tablette. Dis slegs julle twee.
En namate die weke maande word, verleng doelbewus hierdie tydjies. Beplan spesiale afsprake, onderneem spontane uitstappies. Vriendskap lewe immers in die doodgewone, asook in die vlietende onthou-oomblikke.
’n Ander moontlikheid is om ’n vriendskap-datum te kies en dit elke maand te vier, byvoorbeeld: Ons besluit die 11de van elke maand is dit ek en jy, ons twee. En kom wat wil, ons maak iets moois van daardie dag.
2 Nuuskierigheid oor mekaar kweek ‘n gesonde huwelik
Onthou doelbewus die beginjare, daardie tyd toe julle die brug tussen vriendskap en romanse oorgesteek het. Hoe julle daarna gehunker het om mekaar elke dag te sien. Hoe jou gedagtes gereeld by jou maat was. Hoe julle gewonder het wat die ander een op daardie oomblik dink of doen.
Bring nou dié gevoelens terug na jou huwelik toe. Wees nuuskierig. Jy mag dalk dink jy ken jou maat al lank genoeg, maar mense verander, soos die lewe. Vra jou maat interessante vrae, dinge soos: Wat sou jy doen as jy vandag hoor jy het ’n maand vakansie gekry? Watter liedjie beskryf jou bui vandag? Wat het jou vandag laat glimlag?
In die 1999-rolprent The Story of Us het die Jordans, Ben (Bruce Willis) en Kate (Michelle Pfeiffer), mekaar elke aand aan die etenstafel gevra wat die hoogtepunt en laagtepunt van hul dag was. Hulle wou dit weet, want vir hulle was dit ’n teken van hul vriendskap. Dis in hierdie soort alledaagse nuuskierigheid waar emosionele intimiteit gedy.
3 ‘n Gesonde huwelik onthou hoe alles begin het …
Liefde is nie ’n gegewe nie; dis ’n voorreg. Keer terug na waar alles begin het, na die oorsprong van jul liefdesverhaal. Kyk weer na ou foto’s, herleef die hoogtepunte van jul vriendskap. Dink doelbewus terug aan daardie eerste ontmoeting en deel die herinnering daaraan (weer) met mekaar. Dink aan die eerste soen, aan daardie snaakse insident tydens jul wittebrood.
En as julle wil, beleef weer daardie “eerstes” saam. Kyk weer die eerste fliek wat julle saam gekyk het en besoek weer die plek waar julle die eerste keer saam vakansie gehou het. Eet weer die gereg wat op tafel was nadat julle die eerste keer saam kosgemaak het. Dans weer saam met daardie eerste liedjie.
Wanneer julle die oorsprong van dit alles onthou, onthou julle hoekom julle gekies het om saam te wees.
4 Maats in ‘n gesonde huwelik speel saam
Ja, speel. Dis een van die kernbestanddele in enige vriendskap, daardie ligte, sorgelose oomblikke wat die lewe so mooi inkleur. Speel ’n bordspeletjie. Gaan stap saam in die buitelug. Maak ’n speellys met musiek uit jul studentedae en pak die langpad aan. Dans in die kombuis terwyl die kospotte prut. Lag saam. Geniet mekaar. Vriendskap groei nie net in diep gesprekke nie, maar ook in daardie alledaagse, spelerige saamwees wat ons so maklik geringskat.
Speel sorg vir ’n onmiddellike verbintenis tussen “ek” en “jy”; dit word ’n band tussen “ons”. En dis ’n geskenk wat te veel volwassenes hulleself ontneem.
5 ‘n Gesonde huwelik is ‘n veilige plek
’n Huwelik is die span wat jy elke dag kies. Maak dus seker die span is veilig vir al twee. ’n Vriendskap floreer juis wanneer jy voel jy kan jouself wees – met al jou foute, jou vrese, jou vreugdes.
Wanneer jy jou maat se veilige plek is, beteken dit dat jy aandagtig luister wanneer hy/sy met jou praat. Dat jy nie korrigeer of oorreageer nie. Nie luister terwyl jy ’n antwoord uitdink nie. Dat jy dáár is, in die oomblik en met jou hele hart. En wanneer jou maat voel jy verstaan hom/haar, groei die vriendskap op ’n natuurlike manier.
6 ‘n Gesonde huwelik ondersteun mekaar se persoonlike groei
Vriende ondersteun mekaar, hulle klap hande vir die ander een se mylpale, hulle troos en moedig mekaar aan. Hulle verf mekaar se lugkastele. Hulle skep vir mekaar die ruimte om te droom en om persoonlike en professionele ideale te koester. Hulle vier mekaar se suksesse.
Hierdie “ek glo in jou” en “ek sien jou raak” dra by tot ’n gesonde vriendskap en ’n gelukkige huwelik.
7 Kry professionele hulp as jou huwelik nie gesond is nie
Wanneer jy, ná vele probeerslae en planne wat nie uitwerk nie, agterkom die vriendskap-vlammetjie bly beteuterd, oorweeg ’n afspraak by ’n sielkundige, berader of terapeut. Professionele hulp kan julle van die nodige hulpmiddels voorsien om jul huwelik te versterk.
Onthou, professionele hulp vir jou huwelik verteenwoordig nie die een of ander skulderkenning nie en is nie ’n teken van swakheid nie. Inteendeel, julle is juis sterk omdat julle kans sien om die tekortkomings in jul huwelik daadwerklik aan te pak.
8 In ‘n gesonde huwelik geniet maats ’n stokperdjie saam
’n Vriendskap bevat vele gemene delers; dis daardie sake waarby albei belang het en waarvan al twee hou. Identifiseer dié dinge en ontgin die moontlikhede wat dit julle bied.
En wat van iets nuuts? Kookklasse, staproetes, fotografie, voëlkyk, tuinmaak? Wat ook al, tye waarin jul onderlinge verbintenis gekoester word, lei tot nuwe stories en kosbare herinnerings.
9 Verwoord julle waardering vir mekaar
Sê gereeld vir jou huweliksmaat hoe jy hom/haar waardeer. Lê klem op dié dinge wat hy/sy aan die huwelik toevoeg. ’n Doodgewone “dankie” is ’n goeie begin, en elke ander soort bevestiging kan jul vriendskapsband versterk. Deur dit elke dag toe te pas sê jy vir jou maat: “Ek sien jou, ek kies jou.”
Daar is meer as agt miljard mense op aarde – en julle twee het mekaar gekies. Susan Sarandon se karakter Beverly sê in die 2004-fliek Shall We Dance: “Jy trou omdat jy ’n ooggetuie vir jou lewe wil hê. En met jou huwelik belowe jy dat jy alles sal raaksien en oor alles sal omgee.”
Ten slotte: ’n Huwelik sonder vriendskap is soos ’n huis sonder ’n fondament. Liefde mag dalk daardie huis se mure wees, maar vriendskap is die grondslag waarop alles gebou is.
Ja, ware vriendskap is die geheim vir elke gelukkige, gesonde huwelik. Dit gee kleur aan die liefde in daardie verbintenis.

















