Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

’n Gesonde selfbeeld of ’n gesonde God-beeld? Wat is die beste vir my kind?

12 Mei 2021

DEUR SIMONE GAUCHE

Daar word deesdae baie klem daarop gelê dat jy jou kinders só moet grootmaak dat hulle ’n gesonde selfbeeld ontwikkel. Ek hoor gereeld dat kinders selfvertroue nodig het om suksesvol te wees in die tye waarin ons leef.

LEES OOK: ‘Ons moes alles aan Hom oorgee …’ sê LiG-leser na korona pa, sussie eis

Daar lê sekerlik ’n stuk waarheid hierin. Maar ek het eendag iets gehoor wat ’n geweldige indruk op my gemaak het. Dit het die manier waarop ek oor my rol as ouer dink, geheel en al verander. So klink dit: Kinders het nie selfvertroue en ’n gesonde selfbeeld nodig nie, maar God-vertroue en ’n gesonde God-beeld.

Ons kinders moet weet wie hulle in God is. Hulle is nie bloot toevallig op aarde nie. Hulle is sorgvuldig geskape – om ’n rede. Hul doel in die lewe is om God te verheerlik.

Daar word reeds so baie klem op “self” gelê. Oral sien en hoor ons dit. Op sosiale media word ons kinders gereeld aan selfverheerliking blootgestel. Die boodskap is duidelik: Hou jou oë op jouself en hoe jy vir ander lyk. God is nie in dié prentjie nie. Die klem word geplaas op wie ék is, en nie aan wie ek behoort nie.

Wat beteken dit alles vir my, die ouer van kinders wat hieraan blootgestel is? 

Ek moet weet my kinders is uniek. Alle mense deel 99,9% van hul DNS. Tog sal jy nie twee mense vind wat eenders is nie. Die Here het my kinders noukeurig beplan, Hy het hulle gemaak soos wat hulle is en nie soos wat ek wil hê hulle moet wees nie. Hy het hul talente bepaal, en ’n unieke persoonlikheid aan hulle gegee. Hulle is ontwerp vir die doel wat Hy vir hulle voor oë het.

Wat is hierdie doel? 

Uiteindelik is dit om God te verheerlik. Presies hoe dit gaan gebeur, is nie vir my om te besluit nie; dis dalk nie eens vir my om ooit te weet nie. Daarvoor moet ek God se plan vertrou. Dis my werk om my kinders daaraan te herinner dat hul vir iets veel groters as hulleself geskep is.

En dat hulle geliefd is. Deur my ja, maar ook deur ’n hemelse Vader wat so lief vir hulle is dat Hy lank gelede sy enigste Seun vir hulle prysgegee het. Hy is die Herder wat 99 skape sal agterlaat om die een skapie te gaan soek.

Hoe gaan my kinders hul lewensdoel ontdek? 

Nie deur my nie. Ek kan hulle ondersteun, hulle aanmoedig. Maar slegs deur ’n verhouding met Jesus gaan hulle hul lewensdoel ontdek.

En waar gaan hulle sien hoe só ’n verhouding lyk?

By hul ouers, natuurlik! Daarom moet ek in my verhouding met Jesus belê as ek wil hê my kinders moet dieselfde doen.

Wat beteken dit alles vir my kinders se selfbeeld? 

Dis nie moeilik om te begryp dat as jy ’n gesonde God-beeld het, daar niks met jou selfbeeld gaan skort nie. As jou God-beeld gesond is, kan jy nie anders as om te besef hoe spesiaal jy is nie. Elke haar op jou kop is getel. Jou naam is in sy handpalms gegraveer. Hy het jou in die moederskoot aanmekaargeweef. Jou lewe maak sin, want jou lewe hét sin.

…………………………

Selfvertroue sê ek is in beheer. Die uitkoms is van my afhanklik, van wat ek dink en doen.

’n Gesonde God-beeld leef van die wete dat God in beheer van my lewe is. Ek gee my lewe in sy hande oor.

LEES OOK: Geseënd is die taalkunstenaars

Ek kan my kinders baie angs en teleurstelling spaar as ek hulle bloot kan leer om op die Jesus wat saam met my in die skuit is, te vertrou. Die Jesus wat die storm met sy stem stil maak. Die Jesus wat weet hoe dit voel om mens te wees. Die Jesus wat pyn ken, wat weet hoe dit voel as verhoudings verbrokkel, wat weet hoe dit voel om alleen te wees. Die Jesus wat versoek is, maar nie geswig het nie.

Liewe Mamma, mag jy hierdie week berusting vind in die feit dat Hy vir jou kinders voorspoed beplan en nie teenspoed nie. Hy wil vir hulle ’n toekoms gee, ’n verwagting.

  • Simone Gauche is ’n mamma, eggenote en ’n mediese dokter wat in die staatshospitaal in Mosselbaai werk. Sy het ’n passie vir vrouegesondheid en wil graag ’n gesonde liggaam, verstand en gees bevorder. Sy reken dat dié drie nie van mekaar geskei kan word nie. Sy stel ook in vroeëkinderontwikkeling belang, veral nadat haar twee seuns in onderskeidelik 2018 en 2020 gebore is. Sy is daarvan oortuig dat ’n gesonde, gelukkige mamma die grondslag lê vir ’n gesonde, gelukkige gesin met gesonde, gelukkige kinders.

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF

Kry
LiG

Jou daaglikse inspirasievennoot.

Die LiG-app is nou beskikbaar vir jou selfoon. Installeer dit vandag nog.