Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

Naguilklub skryf ’n geestesgesondheidsboek vir ma’s

Die Naguilklub

DEUR ENGELA DUVENAGE

Wat gebeur as drie jong ma’s met ’n handvol kleuters op WhatsApp begin saamgesels?

Hulle lag baie. En hulle kla ’n bietjie oor ouerskap.

En Die Naguilklub word gebore.

Dié klub kom reeds uit 2018 en bied ’n veilige internetruimte vir Afrikaanse ouers. Die vroedvroue was daardie drie ma’s – Lente Swift, Suzanne Smit en Juanli Theron, en die stigting van die klub was die gevolg van ’n baie spesifieke behoefte: antwoorde op die vrae oor ouerskap wat hulle altyd graag wou vra.

Dit alles het intussen ’n boek geword: Meer as net ’n ma. Stories en raad uit die hart van Die Naguilklub (Tafelberg, R280).

Só vertel die drietal: “Vinnig-vinnig het WhatsApp-geselsies in ’n sosiale beweging verander, waaruit die boek gegroei het.” Nie net deel hulle op ’n gestroopte en eerlike manier hul eie ervarings nie; hulle klop ook by ’n magdom kenners, vriende en vriendinne aan vir raad oor enigiets – van borsvoeding, slaappatrone (of die gebrek daaraan), en babas se eerste vaste kos, tot die aanskaf van ’n eerste troeteldier.

Een afdeling praat met liefde met die ma van ’n vroeggebore baba wat haar dalk in ’n hospitaal se neonatale afdeling bevind, en ’n ander hanteer gemoedskwessies. Daar is die belewenis van rou in ’n gesin, en maniere om ’n nuwe ma te ondersteun. Asook alternatiewe ouerskap, byvoorbeeld enkelvaderskap.

Bo alles wil dié drie vroue, wat mekaar reeds op universiteit leer ken het, alle ma’s en pa’s help besef dat hulle goed genoeg is.

Wat het hulle self die afgelope paar jaar oor mawees geleer?

“Ons het geleer hoe om meer doelgerig met ons tyd om te gaan. Ons het seker ’n bietjie beter geword daarmee … Ons kon immers die skryf en samestelling van ’n boek met ons onderskeie gesinne, beroepe en leefwyses balanseer. Sommige dae is wel makliker as ander.”

Oor die boek sê die televisiepersoonlikheid Minki van der Westhuizen: “Onbeskaamd eerlik, opreg en propvol humor.”

Die boek bevat handige lysies, onder meer oor hoeveel kos ’n kind na verwagtiging op ’n bepaalde ouderdom sal eet, en wat alles in ’n noodhulptassie vir die huis behoort te wees.

Meer as net ’n ma is onder meer opgedra aan elke vrou, ongeag die afdraaipaadjies wat haar voete dalk mag volg. Dis gepubliseer met die wens dat die lesers nie net sal waag om dapper te wees en lief te hê nie, maar ook sal kies om sag te bly en hul stories te vertel – “en in die proses sal leer dat hulle merkwaardig is”.

ENGELA DUVENAGE het met die drie skrywers gesels.

Hoe sou julle die boek kortliks opsom?

Dis ’n geestesgesondheidsboek vir ma’s, geskryf om jou minder geïsoleerd en minder soos ’n mislukking te laat voel. Om ’n einde te bring aan die verwoestende kultuur van “mommy wars”. ’n Boek wat kan help om die uitdagings van mawees te normaliseer.

Ons doen dit deur die snaakse oomblikke met mekaar te deel, ook die soet en die swaarkry van moederskap. Sodat jy kan sê: “Ek ook!”

Vertel iets van julleself en jul leefwêreld.

Lente Swift woon in Durbanville in die Kaap.  

“The name pretty much says it all.” Ek is ’n 1980’s-baba, getroud met my Big Ginger, James. En ons is die trotse eienaars van Fleur (6) en William (4).

Ek is mal oor snuffelwinkeltjies, nou straatjies in veraf plekke, verrassings, musiek wat in golwe oor jou spoel, en enige verskoning om ’n aandrok te dra. En mense se verhale, veral as dit oor ’n glas rooiwyn vertel word.

Ek verpes filters en mure en “geslote boeke”, mense met wie jy net nooit weet waar jy met hulle staan nie. Ek is ’n wasgoedhanger, storieverteller, probleemoplosser, liedjiesinger en sonskynbringer. Ek is ook vuriger as wat ek klink. En diep uitgehol: sterker as wat jy dink.

Suzanne Smit woon in Centurion in Gauteng.

Ek is getroud met Wynand en ons het twee dogtertjies, Klaradyn (7) en Nina-Maria (5). Ek is lief daarvoor om saam met my gesin Suid-Afrika en die wêreld te verken, met my kamera byderhand. Dis vir my lekker om “nourish to flourish” in my lyf en siel te voel.

Ek is verlief op die Vrystaat se wye vlaktes, goeie wyn en lekker geselskap. En om ons naby-mense om ons kuiertafel op die stoep te hê. Ek verpes dinge-in-’n-warboel (oftewel “clutter”), chaos, skinderstories en ’n wêreld sonder parfuum. Ek is ’n ewige optimis wat glo dat wêreldvrede moontlik is.

Ek is ook ’n lewensmaat, ’n lysieskrywer, ’n ensiklopedie vir ons kinders, ’n avontuurmaker en skeidsregter – van sport tot hoeveel saffraan per kilogram kos (regtig!).

Juanli Theron woon in Stellenbosch en is die hoof van die tolkdiens by die Universiteit Stellenbosch se Taalsentrum.

My naam is Juanli (met ’n lang “aah” en ’n Engelse uitspraak; dus nie “Johanli” nie, ‘seblief tog). Ek is reeds tien jaar getroud met Tim, die pappa van sy twee identiese kloontjies, Sophia (7) en Migael (4).

Ek is baie lief daarvoor om ure lank in ’n vuurwarm bad boek te lees. En koue Chenin op ’n warm dag in die Boland. Stilte en ruimte om my introvertbatterye te herlaai. En “carbs”, met my hele hart.

Ek verpes swak diens, oneerlikheid/valsheid, die geluid van iemand wat oopmond kou, slange, en mense wat stadig voor my op die sypaadjie loop. Ek is altyd haastig en altyd laat, ‘skuus. “Make way, please!”

Ek is ook ’n liedjiesinger, ’n ensiklopedie, ’n drukkiegewer, ’n vrye denker, die huisdokter – maar glad nie ’n juffrou of ’n koekiebakker nie. Ek is ook vriendeliker as wat ek lyk as jy my nog nie ken nie. Ek is ’n realis met ’n romantiese streep.

Ek is “complicated” kwadraat. En gewoonlik honger. As ek dus frons, voer my maar net ’n ietsie.

Wil julle deur die boek die leser laat besin of laat beweeg?

Ons wil hê mense moet leer om hul geestesgesondheid pro-aktief te prioritiseer.

Kan ’n mens te veel weet voordat jy moederskap beleef? 

Gooi eerder alles wat jy gedink het jy van ouerskap weet by die deur uit, en leer en groei saam met jou eie baba.

Wat moet ’n ma sommer vroeg-vroeg heeltemal vergeet?

Vergeet van die strewe om die perfekte ouer te wees. Ons leuse #ouerskapsonderoordeel geld ook vir jou. En noudat jy nie die perfekte ouer is nie, kan jy bloot ’n werklik goeie een wees.

Julle maak nie net op jul eie insigte staat nie, maar ook op dié van kundiges soos die kliniese sielkundige Gerda Kriel, die kliniese pediatriese dieetkundige Kath Megaw, die arbeidsterapeut Lizanne du Plessis, die dieetkundige Welma Janse van Rensburg, die sielkundige Zelda Language en die pediater dr Angela Colquhoun. Hoekom is dit vir julle belangrik om ook dié mense se raad in te sluit?

Ons stel dit baie duidelik dat ons nie ouerskapkenners is nie; ons is drie doodgewone ma’s, met ons foute en ons goeie oomblikke. Ons deel ons stories met mekaar en met ander, want niemand se storie is verkeerd nie. Ons het dus ook kenners in ons lewe nodig.

Dink julle dat vroue hulleself deesdae te hard oordeel? En dat hulle dit ook met ander vroue doen?

Dit gebeur nie net deesdae nie; dit was nog altyd so. Ons reken wel dat sosiale media dit sowel beter as slegter maak, afhangende van wat jy lees en wie jy volg. Kies dus doelbewus in dié verband.

Wat is die beste raad wat jy ooit by jou eie ma ontvang het?

Suzanne: “Maak klaar wat jy begin het!”

Juanli: “Anything one’s mind can perceive, one can achieve.”

Lente: “Gee ’n man baie om te eet en min om oor te dink.”

Vertel iets oor die skryfproses.

Die skryfproses het reeds drie jaar gelede begin, maar ons het daadwerklik aan die boek begin werk toe ons die kontrak by Tafelberg gekry het. Daar was baie kommunikasie en ellelange Zoom-vergaderings, aangesien ons in drie verskillende stede woon. Die boek is geskryf teen vieruur in die oggend voor die wêreld wakker word, voor die werkdag aanbreek, in die 15 minute in die geparkeerde motor voor ’n skool, en in elke ander afknypkansie wat ons kon vind.

Hoe was die reaksie tot dusver?

Een ding wat nog altyd by ons lesers uitgestaan het, is hoe uiters ondersteunend hulle is. Ons ervaar dit tans met die boek ook so. Die reaksie is oorweldigend positief en ons is báie dankbaar daaroor.

  • Bestel Meer as net ’n ma. Stories en raad uit die hart van Die Naguilklub hier.

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF

Kry
LiG

Jou daaglikse inspirasievennoot.

Die LiG-app is nou beskikbaar vir jou selfoon. Installeer dit vandag nog.