10 Februarie 2021
“Die liefde is geduldig, die liefde is vriendelik; dit is nie afgunstig nie, is nie grootpraterig nie, is nie verwaand nie. Dit handel nie onwelvoeglik nie, soek nie sy eie belang nie, is nie liggeraak nie, hou nie boek van die kwaad nie. Dit verbly hom nie oor onreg nie, maar verheug hom oor die waarheid. Dit bedek alles, glo alles, hoop alles, verdra alles. Die liefde vergaan nooit nie …”
– 1 Kor 13:4-8
LEES OOK: Nuwe rubriek: Wat pak jý vanjaar aan?
Ek het ’n klompie joernaal-gedagtes neergeskryf wat dié gedeelte in Paulus se eerste Korintiërsbrief as uitgangspunt het. Dit verwoord waarna ek vanjaar streef, ten spyte daarvan dat ek skarrel om etlike balle tegelyk in die lug te probeer hou.
Hoor nou hier, my kinders:
Mamma is geduldig …
– as jy soggens jou pap self wil eet, al is ek haastig.
– as ons gaan stap en jy stadig drentel en elke klippie omkeer en elke vlinder jaag.
– as jy self jou klere wil kies en vyf keer van plan verander. Dis belangrik om te leer om klein besluite te neem, en ek wil jou eendag met groot besluite kan vertrou.
– as jy dieselfde boek vir die honderdste keer wil lees, en ek dit reeds kan opsê sonder om die boek by my te hê. Want ek weet herhaling is die manier waarop jy leer.
– as jy met iets sukkel wat vir jou moeilik is. Mamma doen dit nie namens jou nie, want jy moet sommige dinge self uitpluis. Só leer jy uithouvermoë aan, en só word jou selfvertroue gebou.
– as ek dinge oor en oor moet sê.
– as die beker rooi is – maar dit móét “blou” wees, en dan weer rooi, en dan weer “blou” . . .
Mamma is vriendelik …
– as jy ’n fout gemaak het.
– as jy sukkel met iets wat vir jou moeilik is, soos om te moet deel.
– as jy iets sê wat seermaak, en ek weet dat jy dit nie bedoel het nie.
– as jy jou bes probeer en nie slaag nie.
– as jy teleurgesteld is.
– as jou emosies jou oorweldig.
Mamma is nie afgunstig nie, is nie grootpraterig nie, is nie verwaand nie.
- Mamma stel jou eerste.
- Mamma wil nie wen nie.
- Mamma wag tot almal klaar is.
- Mamma het nie die laaste sê nie.
- Mamma laat jou eerste kies.
- Mamma deel met jou.
- Mamma bou ander mammas op en ondersteun hulle.
- Mamma is bly saam met ander mammas as hul kinders presteer.
LEES OOK: ‘My lewe is in ’n oogwink verander,’ vertel oorlede man voor sy dood
Mamma handel nie onwelvoeglik nie, sy soek nie haar eie belang nie.
- Mamma laat jou toe om jou eie, unieke mens te wees.
- Mamma gee jou ruimte om te groei.
- Mamma koester jou kreatiwiteit.
- Mamma laat jou toe om te eksperimenteer.
- Mamma projekteer nie haar eie begeertes op jou nie.
- Mamma weet dat jy nie aan haar behoort nie.
- Mamma luister meer as wat sy praat.
Mamma is nie liggeraak nie …
– al word jy kwaad.
– al druk jy doelbewus my “knoppies” om die grense te toets.
– al is ek moeg.
– al het ek ’n moeilike dag agter die rug.
Mamma hou nie boek van die kwaad nie.
- Mamma vergewe heelhartig.
- Mamma hou nie rekord van die verkeerde dinge wat jy doen nie.
- Mamma vergeet heeltemal.
- Mamma probeer om soos Jesus te wees.
Mamma verbly haar nie in die onreg nie, maar is verheug oor die waarheid.
- Mamma dissiplineer jou om die regte redes.
- Mamma wil jou op ’n gelowige manier grootmaak.
- Mamma wil hê dat jy Jesus ken, want Hy is die weg, die waarheid en die lewe.
Mamma bedek alles, glo alles, hoop alles en verdra alles.
- Mamma glo in jou.
- Mamma hoop op ’n goeie, vol lewe vir jou.
- Mamma is altyd aan jou kant.
- Mamma wil die beste vir jou hê.
Mamma se liefde vir jou vergaan nooit nie.
- Mamma sal altyd daar wees …
- ongeag …
- en vir altyd.
Simone Gauche is ’n mamma, eggenote en ’n mediese dokter wat in die staatshospitaal in Mosselbaai werk. Sy het ’n passie vir vrouegesondheid en wil graag ’n gesonde liggaam, verstand en gees bevorder. Sy reken dat dié drie nie van mekaar geskei kan word nie. Sy stel ook in vroeëkinderontwikkeling belang, veral nadat haar twee seuns in onderskeidelik 2018 en 2020 gebore is. Sy is daarvan oortuig dat ’n gesonde, gelukkige mamma die bousteen vorm vir gesonde, gelukkige kinders en ’n gesonde, gelukkige gesin.
Simone blog gereeld oor haar geloofsreis by: https://httpthemomwhochangedhermind.wordpress.com/