In Standerd 2 het my wetenskaponderwyser ons op ’n klasuitstappie geneem. Ons het in so ’n klofie gestap wat welig begroei was met varings en ander donkergroen plante. Bokant ons laerskool-lyfies het reusebome uitgetroon. Die reuk van grys bloekomblare het versny met dié van die klam grond onder ons voete.
Eensklaps het ons by ’n afgesaagde boomstomp gekom. Meneer het met sy vinger die lyne van ’n sirkel op die growwe oppervlak nágetrek. “Dít noem ons jaarringe,” het hy gesê. “As jy hulle tel, weet jy hoe oud die boom is.”
Daar het ’n wonderwêreld vir my oopgegaan. Ek kon my verbeel hoe die boom stadig-stadig in die winter gegroei het – daardie dun, donker ring in die stam. Ek kon my toe die uitbundige somerse groei verbeel – van takke en blare wat soos handjies in die wind klap. Daarvan het die ligter, groter ring op die stam getuig.
Al die somers en winters, al die donkerrooi herfse en die opwindende lentes, álles was in daardie een stam opgeteken.
In ons redaksiekantoor staan daar 932 tydskrifte in bundels gebind – 80 jaar se Die Voorligter en LiG. In allerlei strepies staan dit daar, die tipiese prentjie van styfgepakte tydskrif-rugkante.
Ek laat my oë dikwels daaroor gly, amper soos my onderwyser se vinger destyds oor die jaarringe. Dan besef ek opnuut dat ons tydskrif ’n leeftyd se seisoene agter die rug het. En dat daar in elkeen van daardie tydskrifte ’n rykdom aan kennis en vreugde lê, hande vol raad en emmers vol wysheid.
Ons is diep dankbaar dat God ons tydskrif gebruik om die evangelie in huise in te dra. Dat Hy mense se stories gebruik om jou, die leser, te inspireer en jou geloof te verryk. Dat ons reeds 80 jaar lank gesinne en gelowiges kan ondersteun in hul verskillende verhoudings en in die manier waarop hulle hul kinders grootmaak.
Ek weet dus dat hierdie 932 tydskrif-strepies op LiG se boekrak ook deel van jóú storie is, liewe leser. Dat jy saam met LiG deur ’n leeftyd se seisoene is – of jy nou destyds al deel van Die Voorligter-familie was, of die afgelope dekade en ’n half ’n lid van ons LiG-gesin is.
Wat ’n voorreg dat ons nou saam hierdie seisoene van menswees, gesinwees, Christenwees kan vier!
In dié uitgawe – so tussen die Kersfeesvrolikhede en ’n winkende nuwe jaar deur – vier ons die afgelope 80 jaar met groot dankbaarheid. Ons bid dat LiG nog lánk lig sal bring. En dat Jesaja 61:3 altyd waar vir ons tydskrif sal wees: “Hulle sal genoem word: Bome van Redding. Die Here het hulle geplant om sy roem te vermeerder.”