Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

Om werklik te glo en met jou hele hart te vertrou

DEUR SIMONE GAUCHE

My jongste het, soos dit blykbaar met die meeste jongste kinders in ’n gesin is, die wonderlike talent om dinge te breek. Geen plastiek is te dik of metaal te hard nie. Waag jy dit om hom uit enigiets wat na glas lyk te laat eet of drink, klink dit gou-gou soos ’n Griekse partytjie.

Oor dié “talent” is al menige traan in ons huis gestort. Veral deur sy ouer boetie – oor ’n prentjie wat verwoes is, ’n toring wat omgestamp is, ’n karretjie wat gebreek is.

My seuntjie het inderdaad die vermoë om met die eerste oogopslag die swakplek in enige speelding te identifiseer.

LEES OOK: Vou jou kinders toe in ’n gebede-kombers

’n Fabriekswaarborg? Wat ’n grap!

En sy eerste reaksie wanneer iets aan skerwe om hom lê?

“Pappa moet dit regmaak!”

Hy sê dit met absolute sekerheid en ’n vaste oortuiging. Hy glo onwrikbaar daaraan dat sy pappa enigiets kan regmaak. Daar is niks wat sy vertroue in sy pa kan ondermyn nie.

My seuntjie se vertroue in sy pappa se vermoëns laat my egter wonder waarom grootmense, óns, so sukkel om op ons Pappa te vertrou. Ons Pappa wat inderdaad alles kan regmaak. Wat enigiets kan herstel, én enigiemand. Dalk weet ons verstand dit wel; dalk sukkel ons hart net om dit werklik te glo.

Hoor dan nou wat die Hebreërskrywer sê: “Om te glo, is om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie” (Heb 11:1). 

Hoe kan ek seker wees van die dinge waarop ek hoop? Hoe kan ek vertrou dat God alles vir my ten goede sal laat meewerk?

Omdat alles wat ek al in die lewe ervaar het, en alles wat ek van my Bybelse helde se lewe weet, daarvan getuig. Ek kán maar op God vertrou. Hy het my nog nooit teleurgestel nie. Ek kan Hom vertrou om reg te maak wat gebreek is, om reguit te trek wat krom is, om te genees wat seergekry het.

Dr Simone Gauche deel as LiG-rubriekskrywer haar daaglikse reis saam met God. Foto: Emily Bunting

Daarom kan ek ook vandag, soos my seuntjie, met groot oortuiging uitroep: “My Pappa kan dit regmaak!”

Want Hy het nog altyd, en Hy sal dit altyd doen.

In elke besluit wat ek neem om op God te vertrou, om op sy antwoord te wag, om te wag vir die verandering waarvoor ek bid; en elke keer as ek stilweg gehoorsaam is, as ek getrou bly te midde van ’n oorweldigende begeerte om moed op te gee, getuig ek dat ek dít glo: My Pappa kan dit regmaak.

Mag jy vandag weer in jou diepste wese besef en vas glo dat jou hemelse Pappa enigiets kan regmaak.

Die ou profeet het getuig: “Dit gaan goed met die mens wat sy vertroue in die Here stel, die mens vir wie die Here ’n veilige vesting is; so iemand is soos ’n boom wat by water geplant is en sy wortels na die stroom toe uitstoot, nie die hitte voel as dit kom nie en altyd groen blare het; ’n droë jaar raak hom nie en hy hou nie op om vrugte te dra nie” (Jer 17:7-8).

  • Simone Gauche is ’n mamma en ’n mediese dokter wat in die staatshospitaal op Mosselbaai werk.
No data was found

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF