Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

Ons kan saam praat

As die lewe (en moederskap) maar agtergrondmusiek gehad het ... Tog hou ons aan droom. Ons kom dit soms nie eens agter nie, want drome-wat-waar-word is dikwels vermom in alledaagsheid.

DEUR FRANCINE PRINS

Die winter se flou sonskyn, dink ek dikwels, is spesifiek geskep om op die blare van ’n laatherfsboom te skyn. Daardie sagte glans wat die dieprooi blare kompleet laat lyk asof dit in vlamme opgaan, laat my telkens in verwondering staan.

Maar dan dink ek ook die flou winterson is gemaak om ’n kar lekker warm te bak, sodat iemand wat uit die ysige koue in die kar klim behaaglik kan terugleun in die warmte van die kar se binneste. Die wintersonnetjie is natuurlik ook gemaak om in op te krul in die sonkamer, en om vrolikheid te bring tussen dae wat grou en reënerig is. Dit is ook gemaak om te speel op die kaal takke van bome wat reeds al hulle blare afgeskud het, én op die tapyt van daardie einste blare wat strate en sypaadjies en grasperke vol lê.

Die wintersonskyn is inderdaad perfek geskep vir dié tyd van die jaar.

LEES OOK: Kom sit ’n bietjie by My

Maar ek weet dié soort sonskyn is vir meer gemaak as hierdie pragtige wintertonele. Dit is deur God geskep vir óns.

Ja, vir ons wat soms wonder Wie God is. Vir ons wat sy Woord lees, en nie aldag kan uitpluis hoe God werk en waar ons in die prentjie pas nie.

Dan kom sê daardie sagte wintersonskyn dat God almagtig is. Dit getuig van sy kreatiewe vermoëns, sy liefde vir skoonheid en die uitnemendheid waarmee Hy alles ontwerp en geskep het.

LEES OOK: ‘God voorsien,’ vertel ma wat 18 jaar lank bid dat seun nuwe longe kry

God sorg en Hy maak mooi. Hy laat seisoene draai en bring verandering. Hy laat doodgaan, maar Hy laat ook uitspruit. Hy snoei en hark en ruim op. God bring warmte en rus, maar Hy gee ook soms die koue sodat ons kan weet hoe nodig ons hitte het. Hy bring reëndae vol somberheid, maar uit sy hand ontvang ons sonskyndae wat vrolik maak en geleentheid bring om te speel, te ontdek, te ontdooi.

Hy wat die son en die rooi blare en die seisoene geskep het, het ook in ons die vermoë geskep om hierdie dinge te waardeer. Meer nog, Hy het aan ons die kapasiteit gegee om oor al hierdie dinge te getuig. Tot lof van Hom, die Skeppergod.

Wanneer ons sy beeldskone natuur ervaar, voel ons ook sy hand daarin. En kan ons nie anders as om saam met die son en bome en blare te getuig van God se almag en sorg nie.

  • Francine Prins is redakteur van LiG se gedrukte tydskrif en sosiale media. Volg haar skryfwerk by #weeslig en #francineprins
No data was found

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF