DEUR SIMONE GAUCHE
My seuntjies is skoon behep met die polisie. Hulle kyk ook graag ’n polisiestorie op televisie. Dis ’n Engelse program. Wanneer hulle dan polisie-polisie speel, wil hulle die “bad guys” vang. Trouens, tydens die hele speletjie word slegs Engels gepraat. Op my vraag waarom, was die antwoord eenvoudig: “Maar Mamma, polisiemanne ís Engels!”
LEES OOK: ’n Erflating met ewigheidswaarde
Ek reken dis ’n logiese afleiding. Die enigste polisiemanne wat hulle te sien kry, is dié op televisie. En hulle praat Engels. Dan ís polisiemanne mos Engels.
Ek het wel probeer verduidelik dat daar polisiemanne in alle lande is, regoor die wêreld. En dat elke land se polisiemanne daardie land se taal praat. Hulle moet mos die mense verstaan, en die mense vir hulle.
Maar my seuntjies glo my nie. “Huh-uh, Mamma, polisiemanne is Engels!” sê hulle. Ek kan sien hoe omgekrap hulle is. En ek besef ek gaan hulle nie oortuig nie. Hulle het klaar besluit wat is die waarheid.
Ek dink later: Is dit nie ook hoe ons met die Bybel omgaan nie? Ons maak ons eie afleidings oor wat ons gelees het – en dan staan ons gereed om onsself en ons standpunte te verdedig as iemand anders van ons verskil. Net soos in my seuns se geval, word ons verstaan dikwels deur ons eie ervarings gevorm.
Ons lees dieselfde boek en ons is in dieselfde rigting op pad – maar tog kan ons, nadat ons dieselfde tekste gelees het, tot uiteenlopende gevolgtrekkings kom. Dan wil ons weet: Wie is reg?
Ons lewe immers in ’n tyd waarin antwoorde gesoek word. Ons het toegang tot verskeie inligtingsbronne, en ons reken ons moet ál die antwoorde kan opspoor.
Ek dink toe sommer ook aan ’n groep mense wat dieselfde taal gepraat en dieselfde doel voor oë gehad het. Hulle was besig om ’n toring te bou wat tot teen die hemel sou reik sodat hulle gode kon word. Die taalverwarring by Babel skop af met dié sin: “Die hele aarde het een taal gehad en dieselfde woorde” (Gen 11:1).
Maar toe hulle eensklaps nie meer dieselfde taal praat nie en nie meer mekaar kon verstaan nie, loop alles skeef en word hulle oor die hele aarde versprei.
Só vertel die Genesisskrywer dit: “Die Here het afgekom om te kyk na die stad en die toring wat die mense vir hulle gebou het, en toe sê Hy: ‘Hier is hulle een volk en almal het een taal. Hulle het nog maar net begin om iets te doen. Hierna sal niks wat hulle beplan vir hulle onmoontlik wees nie. Kom laat ons afgaan en verwarring bring in hulle taal, sodat die een nie die ander verstaan nie’ (Gen 11:5-7).
Ons sukkel om die Bybel te verstaan. Daar was tye in die kerk se geskiedenis toe gelowiges sake geheel en al verkeerd geïnterpreteer het. Het dit intussen verbeter? Ons kyk immers steeds in ’n dowwe spieël en sien ’n raaiselagtige beeld.
Gelukkig vir ons is daar ’n klompie maniere waarop ons ons begrip van Bybelse waarhede kan toets:
* Ons kan tyd in die Woord deurbring, daaroor mediteer en bid.
* Ons kan ander gelowiges raadpleeg en met ’n oop gemoed luister na húl begrip en belewenis van God se Woord.
* Ons kan geleerdes en hul geskrifte raadpleeg oor dinge wat ons nie verstaan nie.
* Ons kan ons eie navorsing doen rakende die spesifieke teks waarmee ons worstel.
* Die Heilige Gees lei ons en help ons om die Bybel te verstaan.
Ek reken ook dis belangrik om in die onsekerheid wat ons beleef, te rus. Ons moet ons gereeld daaraan herinner dat daar altyd dinge sal wees wat ons nie sal verstaan nie. En dinge waaroor ons nie gaan saamstem nie. As ons dit kan onthou, sal ons ons medegelowiges met groter geduld en meer liefde behandel. En ook meer dikwels kan sê: “Jammer, ek was verkeerd.”
Onsekerheid is nie ’n sonde nie. Gryp dit eerder aan. En mag jy spoedig leer dat ons lewensdoel nie is om altyd reg te wees nie. Jy onthou tog wat Paulus geskryf het: “Nou kyk ons nog in ’n dowwe spieël en sien ’n raaiselagtige beeld, maar eendag sal ons alles sien soos dit werklik is. Nou ken ek net gedeeltelik, maar eendag sal ek ten volle ken soos God my ten volle ken” (1 Kor 13:12).
- Simone Gauche is ’n mamma met twee seuntjies, sy is ’n huweliksmaat en ’n mediese dokter wat in Mosselbaai-hospitaal werk.