Ontwykende orgasme? Mans en vroue verskil baie van mekaar, ook wat betref hul belewenis van hul anatomiese en fisiologiese verskille. ’n Man weet van kleins af hoe sy liggaam op seksuele prikkels reageer. Hy kan byvoorbeeld sy penis se ereksie sien en hy is bewus van die ervaring van plesier. Wanneer hy ejakuleer, is dit ’n genotvolle ervaring waarvan hy bewus is.
Vroue, daarenteen, kan letterlik nie sien wat lekker is nie. Hul seksuele belewenis is waarlik ’n gebeurtenis wat in die, kan jy maar sê, binnekamer afspeel …
Lees gerus ook die artikel: ‘Ek wil vroue nou help om seksueel gelukkig te wees,’ vertel bekende ginekoloog
Orgasme by vroue
’n Vrou se liggaam verskaf min leidrade oor hoe dit gaan reageer wanneer seksuele prikkels na haar gestuur word. ’n Orgasme by vroue is nie iets wat sommer maklik gebeur nie, en dit word nie gesien nie.
Hoe moet sy weet waarna om te streef? Hoe moet sy weet hoe om haar liggaam toe te laat om ’n orgasme te bereik?
Die mees algemene verwagting is dat ’n vrou tydens penetrasie van die vagina ’n orgasme moet beleef. Tog beskik die vroulike liggaam oor ’n verskeidenheid erotiese areas: die borste, die klitoris en die hele vulva.
Vroue weet te min van hul eie liggaam.
Feite oor ‘n vrou se liggaam:
- Hoeveel weet byvoorbeeld dat die klitoris 8 000 senuweepunte het? Dis die orgaan in die menslike liggaam met die meeste sensasiepunte. Dis ’n besonderse deel van die vrou se liggaam, en veel meer as bloot die klein sigbare deeltjie bo by die aansluiting van die twee klein skaamlippe.
- Slegs een uit elke vyf vroue is daartoe in staat om ’n vaginale orgasme te ervaar, teenoor 85% van alle vroue wat genot deur ’n klitorale orgasme beleef.
- Die vorm van die vrou se bekken gaan bepaal of sy ’n orgasme deur penetrasie sal kry.
Soms dink vroue daar skort iets met hulle omdat “seks alleen” (dit wil sê penetrasie) hulle nooit ’n orgasme laat beleef nie. Dit het soveel onnodige druk en skuldgevoelens tot gevolg, en dit vanweë onkunde.
Vroue moet aangemoedig word om hul liggaam se “lekkerkry-plekkies” te ontdek en om hierdie geheime met selfvertroue aan haar geliefde te kommunikeer.
Waar begin ‘n orgasme?
Mans moet ontdek dat verleiding by ’n vrou se emosies en brein begin. As hy emosioneel beskikbaar is, gaan sy haar meer dikwels aan seksuele pret oorgee. Ek verwys gereeld na iets wat een van my gunstelingmentors, Esther Perel, gesê het: “Foreplay is not just the five minutes before penetration, it starts at the end of the last orgasm.”
Dus: Die wyse waarop ’n man sy geliefde gedurende die week koester, bepaal in ’n groot mate haar oorgawe in sy bed.
’n Goeie manier om jou seksuele repertoire uit te brei, is om ’n paar boeke daaroor te lees. Ek kan Emily Nagoski se Come As You Are vir vroue aanbeveel. En Ian Kerner se She Comes First vir mans.
Geskryf deur Marlena du Toit.