Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Search

Op my eish! se Rachelle Fourie: ‘Ek wil graag by Jesus se voete wees’

Die pragtige Rachelle Fourie sê sy wil geken word aan haar opregtheid. En, vind ek gou uit, hierdie ster van kykNET se Op my eish! is báie lief vir gesels! Binne enkele minute weet ek dus nog iets van haar: Rachelle het ’n hart vir mense. Sy sal alles wat sy het aan ander gee, soms ten koste van haarself.

Rachelle is pas drie maande lank getroud met die liefde van haar lewe, Roubert Rousseau. Sy vertel hoe ’n gemeenskaplike vriend, pastoor Hennie van Vreden van die Nuwe Lewe Gemeente in Calvinia, hard gewerk het om hulle aan mekaar voor te stel.

Maar nadat die ontmoeting uiteindelik plaasgevind het, moes daar eers heelwat water in die see loop voordat die huweliksklokke vir dié paartjie gelui het. Rachelle vertel dat sy en Roubert perfekte pasmaats is, juis omdat hulle so totaal verskillend van mekaar is. Hy is die een, sê sy, wat vir haar vlerke gee om te vlieg.

En vlieg het sy gevlieg! Die afgelope twee jaar was vir haar ’n behoorlike mallemeule-rit. Een oomblik was sy nog ’n onderwyseres in Potchefstroom, en toe, asof in ’n oogwink, is sy Afrikaanse televisiekykers se gunstelingskoondogter, en ontvang sy ’n Silwerskerm-toekenning as TV-persoonlikheid van die jaar.

LEES OOK: Karlien van Jaarsveld: ‘Om op die Here te wag, het alles in my verander’

Deesdae is daar bykans 100 000 mense wat haar op sosiale media volg. En ongeveer 4 000 skakel in om na haar potgooireeks*, My hart klop só, te luister. Boonop toer sy die land vol om as motiveringspreker by veral damesoggende op te tree.

’n Lewe in die kollig

Rachelle sê sy het nooit daarna gestreef om aandag te trek nie; sy hou van die eenvoudige dinge in die lewe – koffie-afsprake, roomys, ’n Wimpy-burger saam met haar man. ’n Lewe in die kollig is nie altyd maklik om te hanteer nie – die uitdagings is soms enorm. Vir die mense wat die naaste aan haar is, bring hierdie soort lewe noodwendig aanpassings mee. Sy vertel van ’n keer toe sy en Roubert in ’n winkel was om koeksisters te koop, toe hulle agterkom iemand is besig om haar stilletjies af te neem. Hulle het dadelik die hasepad gekies. Alles was eensklaps net te veel vir haar.

Maar, voeg sy by, oor haar deelname aan Op my eish! sal sy nooit spyt wees nie. In dié werklikheidsreeks was sy deurentyd bloot wie sy is, sonder enige pretensie. Sy is dankbaar vir die platform wat dit vir haar geskep het.

Koninkrykswerk

Oor haar geloofslewe is Rachelle ’n oop boek. Sy vertel dat daar nie ’n spesifieke oomblik was toe Christenskap vir haar méér as ’n konsep of ’n tradisie geword het nie. Dit was trouens nooit eintlik ’n tradisie in haar grootwordjare nie.

Maar, sê sy, sy was nog altyd nuuskierig oor God. En wat sy oor Hom uitgevind het, het haar lewe verander. Reeds op skool was haar belangstellings en drome anders as dié van haar skoolmaats, en dit het haar soms soos ’n buitestander laat voel. Sy het egter tóé reeds gedoen wat sy nou doen: bemoedig en inspireer, en om mense van Jesus te vertel.

Vandag doen sy presies dit, net voor ’n baie groter gehoor. Sy vertel oor haar fokus met hierdie bediening: “Ek wil nie hê mense moet meer oor mý weet nie; ek wil hê hulle moet meer oor Jesus weet. God was nog altyd soos ’n skat waarna ek gesoek het, dis sy genade en liefde wat my dryf.”

In haar boodskappe op sosiale media verkondig sy hierdie Skat op ’n praktiese manier aan haar luisteraars, juis ook aan dié wat moeilike tye moet deurmaak.

Sy kry baie terugvoer, veral van mense wat getuig hoeveel haar boodskappe hulle help en troos en inspireer. Hierdie soort reaksie lê haar baie na aan die hart. Dit help haar, sê sy, om voort te gaan met haar Koninkrykswerk.

Mentors en leerlinge

Rachelle het die mentors in haar lewe nog altyd hooggeag, dit is die mense wat saam met haar droom en beplan en wat haar visie deel. Sy sonder twee uit: “My ma. Wanneer ek tyd saam met my ma kan deurbring, voel ek werklik tuis. Sy is my ‘travel buddy’, my veilige hawe. Sy verwag niks van my nie. By haar kan ek net wees wie ek is. Sy is snaaks en sy is lig, en ek is nooit te veel vir haar nie.”

Dan was daar ook ’n destydse onderwyseres, Lizette Schoeman, by die Laerskool Vastrap in Rustenburg. “Sy sou ander dinge opsyskuif om vir ons uit die Bybel voor te lees. Dit het my geïnspireer om meer oor Jesus te leer.”

Rachelle praat ook met deernis en dankbaarheid oor diegene wat saam met haar bid. Sy sê sy drink gereeld koffie saam met mense wat veel ouer as sy is. “Hulle beskik oor soveel wysheid en lewenservaring, en ek leer graag by hulle.”

So het een van haar groot passies ontwikkel: om met vroue, en veral tienermeisies, oor die lewe te praat. Vir hulle kan sy vertel van die foute wat sy gemaak het, wat hulle dan hopelik nie sal herhaal nie. In haar gesprekke met dié meisies probeer sy ’n eenvoudige boodskap tuisbring: Deur te wag op die regte geleenthede en op die regte man, en deur jou te omring met die regte mense, kan jy jou baie hartseer spaar.

Rachelle sê dis wel vir haar frustrerend om mense by ’n funksie toe te spreek en dan nie die geleentheid te hê om ná die tyd die gesprek voort te sit of om ’n pad met hulle te stap nie.

Dis nietemin hier waar haar droom oor ’n gereelde potgooi vlamgevat en My hart klop só gebore is. Elke episode draai om een vraag: “Hoe, of waarvoor, klop jou hart?” Hierdie vraag gee dan aanleiding tot betekenisvolle gesprekke oor geloof, verhoudings, groei en roeping.

Om gesnoei te word …

Rachelle is oortuig van die noodsaaklikheid om deurentyd in afhanklikheid van God te leef. Sy sê: “Geloof word so maklik ’n gonswoord, terwyl dit tog ’n hartsoortuiging is, ook wanneer dit nie goed gaan nie. Die Here sal vir seker aan ons snoei, en Hy sal dit nie doen as Hy nie beplan om ons in sy diens te gebruik nie.”

En nou, ná ’n bedrywige jaar wat sy as ’n “wilde snoei-jaar” bestempel, wonder ek hardop of sy alles op dieselfde manier sou doen as sy weer kon kies.

Sonder om twee keer te dink, sê sy ja. Sy het geleer dat elke goeie én slegte snoei-sessie haar bring tot waar sy op haar gelukkigste is: by Jesus se voete.

Daarom is sy opgewonde oor 2026. Sy en haar man stap die jaar vol dankbaarheid binne. Daar is nuwe projekte in die pyplyn, waaroor sy nie nou reeds te veel wil uitwei nie. Sy laat wel glip dat haar hart vol nuwe drome is, en ’n nuwe visie, met klaarblyklik nie baie tyd vir niksdoen nie.

Maar ja, haar oë blink reeds oor die nuwe jaar. Sy lewe immers op die ritme en in die genade van die Here, altyd op soek na God se wil.

*Volg Rachelle se potgooireeks op YouTube by @myhartklopso_podcast.

Geborg

Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.

No data was found

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF