Karlien van Jaarsveld maak haar kinders groot om vroeg-vroeg reeds te besef dat God ’n plan vir hul lewe het. Hulle moet weet wie hulle is en aan wie hulle behoort. Hul ma wys hulle ook hoe om te wag, want sy het geleer dat om op die Here te wag ’n deurslaggewende deel van ’n gelowige se lewe is.
Wanneer Karlien van Jaarsveld ’n vertrek binnestap, word daar gekyk, beoordeel en ’n mening gevorm. Dis die prys van popster-roem, ja, maar mense kyk ook omdat sy beeldskoon is, en komkommerkoel.
Dis maklik om haar van ’n afstand af te takseer op die lang blonde hare, die vol lippe, die tatoes. En die kurwes wat atleties verpak is in ’n petite-sonbruinlyf.
Maar kom ’n bietjie nader. Hoor Karlien se hart, en eers dan ontdek jy die diepte van haar geloof en die kompleksiteit van haar menswees.
’n Roeping vir elke dag
Karlien praat in ’n sagte, rustige stem oor haar groot liefde vir die Here en vir haar gesin. En oor die lesse wat sy, juis in die tye wat sy moes wag, geleer het en steeds leer.
“Eintlik weet ek nie hoe mense my opsom nie,” sê sy. “Wanneer hulle my wel ontmoet, hoor ek dinge soos: ‘Jy is heeltemal anders as wat ons gedink het. Jy is so geduldig en ontspanne. Jy is nie ’n mens wat voorgee nie.’

“Lýk dit of ek voorgee?”
Dis ’n retoriese vraag, wat sy sommer self beantwoord: “Ek wens ek kan saam met elkeen wat ’n mening oor my uitspreek ’n koppie koffie gaan drink. Dat ons kan gesels. Dan sal hulle ’n ander perspektief kry.”
In haar boek oor haar lewe en geloof, Riviere in die wildernis, wat heel onlangs verskyn het (Luca, 2025), beskryf Karlien haarself só: “Empath, ma, vrou, kind, sus, vriendin. Ek is ’n deel van God op die aarde uitgestort.”
Daar is ’n klompie belangrike dinge wat sy by haar kinders wil tuisbring, sê sy: “Om te onthou wie jy is, wie s’n jy is, waarvoor jy geskape is.”
LEES OOK: Regardt van den Bergh: ‘Deesdae gee ek meer en neem minder’
Sy vertel hoe sy en haar kroos – die tweeling Eliah en Daniël (12), haar dogtertjie Elah (8), en die jongste, Johannes Samuel (5) – op ’n dag op pad van die skool af hieroor gepraat het. “Die tweeling het iets gesê oor ’n bekende mens wat verander het. Dit word toe ’n diep gesprek oor roem en rykdom en hoeveel dit vir sommige mense beteken. Hoe dit hul innerlike wese verander, terwyl hulle eintlik moet sorg dat God hulle van binne af buitentoe verander.
“Ek probeer dit by die kinders tuisbring dat jy nooit moet verander om die wêreld tevrede te stel nie, of omdat mense jou naam begin ken nie. As God wil hê jy moet bekend wees, is dit om ’n spesifieke rede.
“Daar is ’n boodskap waarmee Hy ons aarde toe gestuur het. Wees dáárvan bewus, want dis eintlik waaroor die lewe gaan.”
Met watter boodskap is sy gestuur?
“Dis vir my die mooi ding: God is aaneenlopend ontvouend en openbarend. Sy planne kan nie vasgepen word nie.”
Karlien sê die meeste mense reken dat roeping een spesifieke opdrag is, maar soos sy dit verstaan, roep God jou elke dag. “In elke dag is daar ’n bepaalde doelwit wat vir jou gestel word. Dis iets wat die Heilige Gees op jou hart lê – iets om te doen, iets om te sê, iets wat jy vir iemand anders kan beteken.
Dis vir Karlien ’n ernstige saak as sy ’n mens sien wat pyn verduur. Sy vertel: “My man Joe weet dat ek gereeld vroue oplaai wat langs die pad met hul kinders staan en bedel. Dan bring ek hulle huis toe. Hulle kom bad, eet, en speel met my kinders, totdat ek hulle by hul eie huis gaan aflaai.”
Sy verduidelik: “Jou roeping is om elke dag aan jouself te sterf sodat Jesus in jou opstaan. Sodat jy met ’n nuwe oog, ’n hemelse perspektief, kan kyk. En God se agenda deur jou volbring kan word.”
Woestynroetes en wonderwerke
Karlien is uitgesproke oor haar geloof, en daarom het mense al dikwels gevra waarom sy nie ’n predikant word nie.
Sy lag. “Ek dink my kerk sal dan net twee gemeentelede hê! Want om die waarheid te praat oor God se Woord is nie maklik nie. Met die voorspoedteologie wat vandag in baie kerke verkondig word, word ons gepaai om te dink alles sal dadelik ten goede verander sodra jy Jesus aanneem. Sodra jy begin vra: ‘Wat kan Hy vir mý doen?’

“Maar wanneer jy saam met die Here begin stap, begewe jy jou op ’n woestynroete. Jesus het nie gekom om ons te inspireer nie; Hy het gekom om te wys wie en wat God is. En hoe ver verwyder die godsdiens wat ons beoefen daarvan is.
“Ons luister graag na preke oor hoe mense nie moet ly nie, terwyl Jesus se boodskap juis een van lyding is.”
Karlien het al ver en op vele lydensweë gestap. En op haar woestynroete het sy geleer om te wag dat dinge volgens die Here se tyd en op sy manier ontvou. “Dis belangrik om God te kan hoor,” sê sy. “En as jy Hom gehoor het, moet jy doen wat Hy sê, al is dit ook hoe moeilik.”
Sy dink terug aan die swaar tyd ná haar egskeiding van die eertydse rugbyliefling, Derick Hougaard. “Drie jaar lank is daar leuens oor my vertel. Ek wou die waarheid van die dakke af skreeu, maar God het gesê ek moet stilbly en wag.
“Dit was ’n lang wag, maar dit het ware vergifnis in my tot stand gebring. Die wagtyd het my geneem tot by ’n plek waar ek nie meer omgegee het of die waarheid seëvier of nie. Vandag maak mense se menings nie meer saak nie. Al wat by my gewig dra, is wat God van my dink.”
Sy het ook geleer wat die krag van oorgawe is. “Wanneer daar niks meer van jou oor is nie, kan jy Hom hoor, voel en sien. Om dan aan die einde van jouself te kom, dít is die begin.”
Elah se genesing is ’n sprekende voorbeeld. Karlien en Joe se dogtertjie is met portale hipertensie en trombose gediagnoseer. Sy het ’n vergrote milt.
“Die groot wonderwerk, ná ses jaar se wag, is dat die eintlike probleem onverklaarbaar verdwyn het. Dit was ’n bloedklont wat die bloed se pad na haar ander organe versper het.
“Dis alles God se werk. Nou kan Elah se are nuwe ‘paaie en riviere’ maak, soos die dokters daarna verwys, wat verligting en genesing vir haar lyfie sal bring.”
‘Wag is alles’
Dit was die donker tye in haar eie lewe, daardie kere toe sy moes wag, wat ’n deurslaggewende rol in die vorming van haar oortuigings gespeel het.
Sy sê sy het in daardie tyd geleer dat “wag op die Here” die moeilikste maar ook die belangrikste deel van geloof is. “Wag op Hom is nodig vir transformasie. Vir jou binneste om gesond te word sodat jy jou nie meer sal bekommer oor wat aan die buitekant gebeur nie.”
Waarop wag Karlien nog?
“Dit bly ’n groot stryd,” sê sy sag en sluk die trane weg. Dit is die wag en hoop dat Derick hom as ’n pa vir sy kinders kom aanmeld. “Ek weet nie hoe lank ek nog daarvoor sal moet wag nie. Maar ek het soveel genade en liefde vir hom …”
Sy en die tweeling bid gereeld dat hul pa se hart sal genees. “Ek herinner hulle daaraan om ’n plekkie daarvoor oop te hou.”
Karlien het grootgeword met ’n pa wat sy min gesien het. “My pa het dikwels gesê hy is nou klaar met drank … maar dan begin hy weer. Later het ek geglo dat dit nooit sal gebeur nie.
“En toe, in my matriekjaar, verander hy soos handomkeer.” Hy het vertel dat die Heilige Gees hom tydens ’n kerkdiens aangeraak het en dat hy daarna nooit weer na sy ou weë sou kon terugkeer nie.
“Ek was eers sinies hieroor, maar die verandering was drasties en blywend. Vandag het ek groot respek vir my pa. Ons verhouding met mekaar is volledig herstel.”
Karlien sê sy wens sy kan die pyn van haar twee oudstes se gemis aan hul pa van hulle af wegneem. “Ek weet egter dat die aard van hul roeping is om hierdie woestynpad self te stap, sodat hul voete sal weet hoe dit voel en hul oë sal weet hoe dit lyk. Eendag sal hulle goeie pa’s wees, hulle sal hul kinders koester en hulle dié dinge leer wat hulle by hul pa geleer sou wou word.”
Maar daar is baie om voor dankbaar te wees, beklemtoon sy. Joe maak die tweeling soos sy eie groot. “Prys die Here vir mense wat deur God in staat gestel word om jou op te tel en ’n ander roete te wys!”
Vir elkeen wat in hierdie lewe op ’n deurbraak hoop, wil sy sê: “Wag is alles. As jy nie nou kan swanger raak nie – wag. As jou kind siek is – wag. Wanneer die pa van jou kinders nog nie te voorskyn gekom het nie – wag.
“En terwyl jy wag, leer dan om te hoop, en om oor te gee ongeag die moontlike uiteinde. Want in God se koninkryk werk dinge dalk anders as wat jy jou voorstel. Laat toe dat dit jou manier van dink en kyk vernuwe, sodat jy Hom in elke situasie kan herken.”
Die kinders en hul geite
Een van Karlien se gunstelingskrywers, Kahlil Gibran, het eens gesê: “Jou kinders behoort nie aan jou nie. Moet hulle nie jou dinge leer nie; laat toe dat hulle jou leer.”
Dit was vir haar ’n openbaring, en sy is dankbaar oor die lesse wat haar gesin haar leer. “Hulle slyp my vermoë om te wag,” sê sy.
Karlien verklap: “Elah leef volgens haar eie ritme. By haar is daar nie iets soos ’n ding wat nóú moet gebeur nie. Sy gaan nie nóú bad, of nóú haar tande borsel, of nóú aantrek vir skool nie. Nee, sy wil eers die kat gaan groet, gaan kyk of die visse oukei is, gaan vasstel waar haar troetel-skilpad wegkruip.
“Sy leef inderdaad volgens haar eie idee van tyd. As ons saam huiswerk doen, wil sy drie wawiele maak tussen elke spelwoord. En dan moet ek wag. Sy leer my geduld!”
Haar ma en haar sus reken hoeka dat Karlien ’n strenger ma moet wees. “Maar dis nie in my aard nie,” sê dié mamma. “In dié opsig is ek baie meer soos my pa: rustig.”
Johannes Samuel, haar jongste, wil nog nie skool toe gaan nie. “Ek wag dus in hierdie stadium totdat hy reg is en sê hy wil gaan. Ek is nou al so rustig hieroor dat dit my nie meer bekommer nie. As hy dan uiteindelik tuisonderrig moet ontvang, is dit ook reg. Ek word nie meer gedruk en gejaag deur die samelewing se reëls nie.
“Ons weet nie hoe God sy pad beplan het nie. Dalk lyk dit totaal anders as enigiemand anders s’n. Hoe sal ék nou probeer inmeng met my mensgemaakte reëls?”
Sy leer die tweeling, Eliah en Daniël, om te wag totdat die tyd reg is dat hulle, soos hul maats, ’n selfoon kan kry. “My kinders moenie nou reeds fone hê nie. Daar is te veel gevare.
“Hulle kan maar vir my kwaad wees, of huil, of tantrums gooi … Hulle kan op hulle kop staan, maar ék kies sekere dinge om hulle te beskerm. Al ontstel dit hulle nou, weet ek dat ek hulle te lief het om hieroor toe te gee. Ek is daarvan oortuig dat hulle eendag wel sal verstaan.”
‘Só vier ons Kersfees’
“Ek het lank nie Kersfees gevier nie, want ons weet mos dat Jesus nie op 25 Desember gebore is nie. Later het ek begin besef dat dit ’n buitengewone gebeurtenis is dat God, in die Persoon van sy Seun, aarde toe gekom het.
“Jesus se geboortedag is ook die enigste viering van Jesus se verjaardag waarvan ek in die Bybel lees. Daar was geskenke: goud wat openbaringskennis en Jesus se Koningskap beklemtoon; wierook wat op ’n reukoffer en aanbidding dui, en ook Jesus se Goddelikheid en sy rol as hoëpriester onderstreep; mirre, ’n bitter krui, wat ons aan Jesus se menslikheid herinner, en sy uiteindelike oorwinning oor sonde en dood.
“Ons vier Kersfees as ’n familiebyeenkoms. Die kinders hou daarvan om die Kersboom te versier en om klein geskenkies te kry. Hulle verstaan ook hoekom ons Kersfees vier.
“My raad vir gesinne wat Kersfees op die regte manier wil vier, is om in dié tyd oor sake soos die volgende te gesels: Watter openbaringskennis het ek vanjaar ontvang? Wat het ek opgeoffer? Hoe kan ek God se geur in die wêreld versprei?
“En onthou om dankie te sê vir wat Jesus vir ons kom doen en kom leer het.”
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.

















