Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

‘n Christen Paasfees wat my van moets en moenies bevry het

7 April 2021


Deur Simone Gauche

Ons oudste het net voor Paasfees drie jaar oud geword. Ons het besluit dis ’n goeie tyd om ’n Paastradisie te begin vestig wat op Christus fokus – ‘n Christen Paasfees, dus. Iets wat meer as paaseiers behels.

Om mee te begin, het ek besluit om reeds in die voorafgaande lydenstyd twee dinge prys te gee: Ek het opgehou TV kyk en ek het suiker afgesweer. Ek het ook besluit om, soos Daniël in die Bybel, drie keer per dag in stilte op my knieë te gaan.

LEES OOK: Mamma, wie hou jou arms in die lug?

Ek het die eerste twee voornemens maklik reggekry. ’n Mens raak gou aan bitter koffie gewoond. En ek het die TV hoegenaamd nie gemis nie.

Die derde een was aansienlik moeiliker. Ek het dikwels bloot vergeet om stil te word. En ek het opnuut besef hoe die lewe jou kan insluk. As jy nie doelgerig daarop fokus om stil te word nie, gaan dit eenvoudig nie gebeur nie.

Van begrip na gevoel hierdie Paasfees

In die Groot Lydensweek het ons elke aand ’n kers aangesteek en saam ’n gedeelte uit die Bybel gelees. Ons het probeer om geloof prakties en verstaanbaar vir ’n driejarige te maak. Ons het simbole gebruik, en rollespel, en lekker gesing.

Ek het geleer dat dit moeilik is om geloofsbegrippe na ’n driejarige se vlak te bring. En ek het ’n nuwe respek vir die skrywers van kinderboeke ontwikkel. Ek dink ek verstaan nou ook beter hoe Jesus elke dag moes voel wanneer sy dissipels nie verstaan het wat Hy vir hulle gesê het nie.

Christen Paasfees

Ons fokus het doelbewus verskuif – van begrip na gevoel. Ons het probeer sorg dat ons kinders, wanneer hulle aan Paasfees dink, die liefde en vreugde daarvan onthou. Almal weet vreugde is aansteeklik. As jy sien hoe iemand lekker lag, lag jy gou-gou saam, al weet jy nie noodwendig wat so snaaks is nie. Ons het besef dat ons vreugde oor wat Jesus vir ons aan die kruis gedoen het, aansteeklik moet wees. Al weet ons kinders nog nie wat Jesus se offer beteken nie, weet hulle nou dat dit ons bly maak.

Ons kinders het die skep van die rituele saam met ons geniet. Hulle het liefde ervaar in die spesiale gesinstyd wat ons saam deurgebring het – liefde vir God en liefde vir mekaar.

Christen Paasfees: Soos ’n kind

Niemand is te jonk om liefde te ervaar nie. Ek dink ek verstaan ook nou beter waarom kindertjies na Jesus wou kom. Hul wou na aan Hom wees, hulle wou die gevoel daarvan beleef.

LEES OOK: Doendinge vir Paasfees

Die afgelope Paastyd het vir my baie beteken. Dit het my onder meer van allerlei moets en moenies bevry, dit het my iets anderkant die tradisionele en konvensionele laat beleef. Ek kon op my uitbundige vreugde oor Jesus se offerdood fokus. Ek kon sy liefde soos golwe oor my voel spoel wanneer Hy ons elke aand ontmoet het. Daar, saam met my kinders, kon ek weer soos ’n kind word.

  • Simone Gauche is ’n mamma, eggenote en ’n mediese dokter wat in die staatshospitaal in Mosselbaai werk. Sy het ’n passie vir vrouegesondheid en wil graag ’n gesonde liggaam, verstand en gees bevorder. Sy reken dat dié drie nie van mekaar geskei kan word nie. Sy stel ook in vroeëkinderontwikkeling belang, veral nadat haar twee seuns in onderskeidelik 2018 en 2020 gebore is. Sy is daarvan oortuig dat ’n gesonde, gelukkige mamma die hoeksteen vorm vir ’n gesonde, gelukkige gesin met gesonde, gelukkige kinders.

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF

Kry
LiG

Jou daaglikse inspirasievennoot.

Die LiG-app is nou beskikbaar vir jou selfoon. Installeer dit vandag nog.