Regardt van den Bergh (73) is volksbesit. Hy praat openlik oor sy lewe, ook van die tyd voor hy die Here ontmoet het. Hy vertel van die ommekeer in sy lewe en hoe hy probeer om elke dag soos Jesus te leef.
Regardt vertel hoe hy een Sondagoggend sy dogtertjie by die Sondagskool gaan aflaai het terwyl hy nog nie nugter was ná die vorige aand se gekuier nie. Iets aan die onskuldige kind wat vir hom gewaai het toe sy by die lokaal instap, het hom aan die hart geraak. Hy sê hy het soos ʼn hond gevoel, en boonop geweet dat hy nie agter ʼn motor se stuurwiel hoort nie.
Daar is groot fout met sy lewe, het hy besef. Hy weet immers dat sy drinkery ook sy huwelik negatief beïnvloed.
Daardie einste oggend toe hy sy kind afgelaai het, het hy by die Rhema-kerk stilgehou. En ingegaan. Daar het hy, rug teen die muur, agter in die kerk gaan staan. Pastoor Ray McCauley was aan die woord en het gepreek oor die salm wat stroomop swem.
Regardt vertel dat hy homself dadelik herken het. Sy hart het gebreek, en ook sy weerstand. Hy het besef dat God hom raakgesien het, selfs in sy halfbeskonke toestand. Daardie dag het hy sy hart vir die Here gegee.
LEES OOK: Riana Nel: ‘Ek sal elke keer ewigheidswaarde bo gewildheid kies’
Die oorgang van ʼn ou na ʼn nuwe lewe was moeilik, vertel hy. Maar dis nou 38 jaar later, en sy geloof is sterker as ooit.
’n Verbrokkelde huwelik en ʼn outo-immuunsiekte
Die verbrokkeling van sy huwelik met die aktrise Jana Cilliers het hom baie hard geslaan, sê hy. Uit dié huwelik is twee kinders gebore: Lika (nou 45) ook ʼn aktrise, en Leán (nou 43) wat onlangs haar meestersgraad in filosofie met lof verwerf het.
In 1989 is Regardt met die outo-immuunsiekte alopecia gediagnoseer, wat in leketaal beteken dat jy al die hare op jou lyf verloor.
Regardt gesels openlik oor daardie slegte dae: “Ek is daarvan oortuig dat die stresvolle tyd wat ons in ons huwelik moes deurmaak ook tot die siekte bygedra het. Wyle Bill Flynn was die derde party in ons huwelik. Maar ek het hom, kort ná my bekering, in my hart vergewe. Ek het dit ook vir hom gesê. Daarna het ons ʼn goeie verhouding gehad en daardie hoofstuk afgesluit.”
Regardt is later met Hermien du Plessis getroud. “Sy is ʼn dierbare mens, maar ons moes nooit tot daardie stap oorgegaan het nie. Ons het baie baklei. Uiteindelik het ons agt jaar lank probeer om die nate bymekaar te hou, maar helaas … Ons is uiteindelik geskei.”
Regardt en Hermien het ʼn seun aangeneem, Tinus. Hy is nou 44 jaar oud en woon in Uniondale. Uit die huwelik is Dawid (nou 33) gebore. Hy is ʼn sendeling en lewensafrigter.
Regardt is die afgelope 13 jaar met Clara Joubert van den Berg (62) getroud, wat bekendheid verwerf het vir haar rol in die sitkom Orkney snork nie. By haar het hy vrede gevind. Hulle woon tans in Somerset-Wes.
Regardt die akteur, en die filmbedryf
Sy loopbaan in die filmbedryf het begin toe Jans Rautenbach hom genader het vir ʼn rol in die grensverskuiwende Die Kandidaat. Gevolglik het hy nooit sy tersiêre studies voltooi nie. Daarna het talle films gevolg, ook hoofrolle in onder meer Blink Stefaans en Eendag op ʼn reëndag.
Hy onthou sy vroeë lewe in die bedryf as een wat vol losbandige gedrag was. “Daar was doodeenvoudig nie brieke nie.”
Dan vertel hy: “My pa Gert en ma Dulcie was bekende akteurs. My pa was ʼn alkoholis, wat drank afgesweer het toe ek laerskool toe is.
“Ons was vier kinders. My broer Dirk was maar 15 toe hy, sewe jaar ná my pa se dood, verongeluk het. Sy dood het veral my ma baie swaar getref. Jare later, toe Agter elke man se verfilming verby was, het sy ʼn emosionele laagtepunt bereik. Sy wou nie soggens opstaan nie en het soms tot twaalfuur in haar bed bly lê.
“Ek het haar uiteindelik so ver gekry om saam met my kerk toe te gaan. Hier het sy ʼn boodskap ontvang dat Dirk in die hemel is. Daarna het alles verander. Sy was, na liggaam en gees, ʼn nuwe mens wat weer kruisbeen op haar bed sou sit met ʼn vonkel in haar oog.”
Hy onthou sy ma se kleurvolle menswees en haar wonderlike talent. Hoe hy en sy suster Linda moes luister toe sy geoefen het om die perfekte aksent baas te raak vir haar rol as tant Stienie in Agter elke man. Sy was geliefd onder haar aanhangers.
Linda is later as gevolg van alkoholisme se nadraai oorlede. Sy was ʼn begaafde skrywer en sjef voordat sy te vroeg gesterf het.
Flieks vol lig
Intussen het Regardt se rolprentloopbaan van koers verander, van voor die kameras na daaragter. En in ʼn tyd toe die plaaslike rolprentbedryf op sy knieë was, het die Here hom geseën met ʼn projek wat volledig befonds was, die fliek The sheltering desert.
Films waarmee hy sedertdien as regisseur naam gemaak het, sluit in: Tornado and the Kalahari Horse Whisperer, Circles in the forest, Faith like potatoes en Vyfster.
Dan was daar The gospel according to Matthew. Dis ʼn vier uur lange Christelike produksie wat destyds as die beste verkoper in die VSA aangewys is. Selfs nou, 15 jaar later, verkoop dit steeds uitstekend.
Uitvlug is ʼn fliek wat Regardt en Clara na aan die hart lê. Hulle het saam aan die draaiboek geskryf en Clara het daarin gespeel.
“Ek is 73 en kan steeds nie stilsit nie,” bieg Regardt. “Kyk dan nou hoe Clint Eastwood op 95 steeds rolprente maak! Ek skryf tans aan ʼn draaiboek oor Chester Williams en die rugbywêreldbeker. Ek sal ook die regie waarneem.”
Regardt se nuwe projek gaan hom en Clara vir ʼn onbeperkte tyd na Nashville in die VSA verplaas. Hier sal hy by ORI International betrokke wees as inhoudvervaardiger van Christelike televisie en rolprente. ORI is die Hebreeus vir “my lig”.
Die ‘nuwe ek’
Regardt glo onvoorwaardelik en sonder oordeel. “ʼn Mens kan nie sonde selektief beoordeel nie. Sonde is sonde. Dit maak jou soms geestelik én liggaamlik siek. Die wonderlike ding is dat Christus reeds daarvoor gesterf het sodat ons die ewige lewe kan beërwe.
“My daaglikse uitdaging is om soos Jesus te lewe. Opreg en sonder vrae. Om in die oomblik van totale oorgawe te dink en te leef.
“Die ‘nuwe ek’ is ʼn dinamiese ontwikkeling van God. Vroeër was dit vir my baie belangrik om deur mense aanvaar te word. Nou gee ek meer en neem minder. Die basis van Christenskap is immers hoe jy jou medemens behandel.”
Regardt is nie meer die salm van jare gelede wat stroomop swem nie. Sy kompas is nou akkuraat op sy Verlosser gerig.
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.

















