Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Search

Riana Nel: ‘Ek sal elke keer ewigheidswaarde bo gewildheid kies’

Foto: Laurensia Burger

Die sangeres en liedjieskrywer Riana Nel sê sy ervaar ’n dringendheid in haar hart om meer oor God te getuig. Daarom het sy vanjaar die lied Laat U Wil die lig laat sien, welwetend dat dit nie ’n groot treffer sal word nie. Sy het met LiG gesels oor haar daaglikse strewe na “meer van Jesus in my, en minder van die wêreld”. Asook oor hoe sy daagliks gekonfronteer word met ’n toutrekkery tussen ma wees en haar werk.

Vertel ons ’n ietsie meer oor die dag op die berg toe jy maar tien jaar oud was, daardie dag toe jou lewe vir altyd verander het.

Ek was saam met my pa by ’n jeug-kerkkamp. Op daardie spesifieke dag het ek ’n hoë kop daar naby gaan uitklim, al swoegend, tree ná tree. Toe ek bo kom, het ek gaan sit om te kyk hoe die son sak. En so, omring deur die landskap wat in die son se laaste rooi-oranje strale baai, het ek skielik diep bewus geword van die skepping se grootsheid, en van die Skepper. Dit was net ek en die son wat sak, ek met trane in my oë en ’n vaste wete in my hart: Hy is waarlik God!

LEES OOK: Aktrise en mamma Greteli fokus op dít wat werklik saak maak

Ek het eers later van God die Vader geleer, en van sy liefdevolle hart vir sy kinders. Maar van daardie oomblik af het ek geweet aan wie ek behoort, en wie ek as my hemelse Pa wou leer ken.

In jou nuwe liedjie Laat U Wil sing jy oor die lewe se kruispaaie. Wat het jy uit jou kruispaaie geleer?

’n Kruispad is, wat my betref, daardie keuse wat jy maak wat jou lewenskoers bepaal. Jare gelede het ek as ’n jong enkellopende ’n ruk lank alleen in Londen gaan bly. Ek het dit nie mooi deurdink nie. Dit was ’n paar aaklige, mistroostige maande. Om toe terug te kom huis toe, was een van my dapperste besluite.

Op ’n manier was dit ’n keerpunt in die manier waarop ek besluitneming sou aanpak. Vandag, met honderde Afrikaanse liedjies op my kerfstok, kan ek op alles terugkyk en met sekerheid sê: Volg die pad wat vrede in jou hart bring.

Wat is die grootste uitdagings waarmee jy tans worstel?

Ek word daagliks gekonfronteer met ’n toutrekkery tussen ma wees en my werk. En by die werk is daar dié stryd: Wil ek gewild wees, of relevant? As sanger en liedjieskrywer het ek besef dat ’n mens nooit gewild kan bly indien gewildheid jou mikpunt is nie. Maar as Jesus op jou lippe is, sal jy altyd relevant wees. Want Hy is.  

Om nuwe musiek te skep is ’n moeilike proses, veral as jy jou moet rig op wat die luisterpubliek wil hê. Soms voel ek soos ’n dominee wat in ’n kroeg instap en wat dan te lief is vir Jesus om Hom nié daarheen saam te neem nie. Ek ervaar vreugde wanneer ek sing oor wat in my hart is, en Hy eer sy Woord.

Ek het, byvoorbeeld, Laat U Wil die lig laat sien welwetend dat dit nie ’n groot treffer sal word nie. Ek was nietemin verbaas oor die publiek se positiewe reaksie. Dit blyk dat gelowiges ’n behoefte daaraan het om herinner te word aan hoe Jesus ons geleer het om te bid.

Ek ervaar ook al hoe meer dat die mense wat vir Jesus kies in die minderheid is. Daar is ’n dringendheid in my hart om nog meer oor Hom te getuig. Daarom sal ek elke keer ewigheidswaarde bo gewildheid kies, selfs al is dit vir die minderheid. Dit kom teen ’n prys, ja, maar dit maak nie saak nie want die Here is my groot prys. 

In watter seisoen bevind jy jou tans?

Hierdie is my mamma wees-seisoen. Dit was nog altyd my droom om vier seuns te hê – en nou leef ek daardie droom! Hulle is die rede vir en vreugde van my bestaan. Alles wat ek doen en nie doen nie is daarop gemik om meer tyd saam met hulle deur te bring. En as ek sing of optree, is dit om ’n voorbeeld vir hulle te wees van hoe dit is om onbeskaamd vir Jesus op te staan.

Ek maak foute, maar ek probeer my bes om dit nie te doen nie. Een vriendin se woorde hieroor is vir my ’n troos. Sy sê: “Jy kan maar ’n paar balle laat val, maar tog net nie dié wat van glas gemaak is nie.” As ek dus een van die seuns se kosblik vergeet of nalaat om hul hare te kam is dit nie so erg nie. Solank ek net die “glasballe” – dinge soos geloof en gesinstyd – in die lug probeer hou.

Van ons gunsteling-ma-en-seuns-oomblikke is lekker eierbroodjies en tee vir ontbyt. Of die saamgesels en saamswem iewers deur die loop van die dag. Of die tye wanneer ’n warm lyfie op my skoot kom sit en ek my kan verlustig in al die stories, troetelwoordjies en soentjies. Die feit dat hulle hier is en asemhaal is my grootste seën.

Jy is nou in jou veertigs. Wat leer jy deesdae oor jouself?

Ek is maar ’n gewone meisie wat moet bly veg teen vergelyking. Ek het die geneigdheid om myself met ander mammas te vergelyk, met hoe oulik hulle is en hoe hulle skynbaar altyd weet wat by die skool gebeur. Hoe ek lyk, en hoe ek ouer word en plooie bykry, is ook deel daarvan.

Gelukkig kom daar wysheid met die ouderdom. Ek het nou meer geleef en meer gesien, ek het nou meer om te sê en ek weet meer om oor die Here se goedheid te kan getuig. Ek leer om my minder oor my verhoogoptredes te bekommer en om eerder te fokus op hoe ek mense behandel en benader. My man Cornel herinner my graag aan dié waarheid: Die gehoorlede gaan nie onthou hoe jy gesing of gelyk het nie. Hulle gaan onthou hoe jy hulle laat voel het.

Wat beskou jy as die grootste les oor geloof wat jy geleer het?

Met ons derde babatjie het ek ’n miskraam gehad. Tydens die vierde swangerskap het die dokters gesê die kind sal dalk nie normaal wees nie. Ek was platgeslaan, hartseer en rasend van bekommernis.

In daardie tyd het ek na ’n preek van die bekende Derek Prince geluister. Hy het onder meer gesê: “Moet tog nie, in jou desperaatheid, na ’n profetiese woord of boodskap gryp nie.” Dit was wyse woorde wat op die regte tyd na my toe gekom het. Ek en die orkes was op die lughawe toe ek opmerk dat Brian Houston, die stigter en voormalige senior pastoor van Hillsong Australië, oorkant ons sit. Ek het na my tromspeler gedraai en gesê: “Ek gaan nié vir Brian vir gebed vra nie.” Al wou ek dit so graag doen!

’n Paar dae later kom daar, uit die bloute, ’n oproep van ’n man wat ek lank tevore by ’n manne-konferensie ontmoet het. Hy het die volgende gesê: “Moenie bekommerd wees nie. Alles sal oukei wees.” En net ná sy oproep kry ek die dokter se WhatsApp: “Wees gerus. Alles aan die baba is normaal.” 

Dit was weer eens ’n bevestiging van dié waarheid: Met jou oë op die Here gerig kan jy rus in die wete dat Hy jou pad ken en jou koers bepaal.

Wat leer jy by die vier klein manne in jou lewe?

Die vier seuns laat my besef dat roem en sukses nie in die dinge lê wat ek doen of behaal nie. Hulle is my rykdom, en ek is suksesvol as hulle Jesus ken.

Hulle hou my nederig, hulle laat my twee keer dink oor my woorde en dade. Ek weet daar is vier pare oë wat my dophou … Ja, hulle hou my op my tone. Die een help my onthou om my beloftes na te kom; ’n ander lê op my bors en herinner my daaraan hoe belangrik dit is om saam met hóm te wees. En as ek vergeet om vir hulle uit die Bybel te lees, herinner hulle my daaraan.

Hulle leer my hoe om jammer te sê, hoe om te glo, en dat dit goed is om vrae oor geloof te vra. Hulle vra soms moeilike vrae, onder meer: “Hoekom is God nie gemaak nie?” En: “Hoekom het die duiwel gedink hy kon God wees as God hom gemaak het?”

Natuurlik het ek nie al die antwoorde nie en ek is ver van “uitgesorteer wees”, as ma en as mens. Maar ek het geleer ek hoef die lewe bloot dag ná dag aan te pak, en dat ek dit biddend moet doen.

Geborg

Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.

Getuig saam met LiG

Geloof, hoop, getuienis – Ondersteun LiG vandag en word deel van die getuienis…

Vertel my meer

Skep getuienisse saam

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF
LiGland Kyk nou ►