DEUR SIMONE GAUCHE
Ons leef in ’n wêreld waar produktiwiteit geprys word. “Besig” is noodwendig gelyk aan “goed”. Rus is vir luiaards. Ons vertel trots hoe min ons geslaap het en hoe laat ons ná werk by die huis gekom het.
Ons word bewonder en selfs geprys as ons al ons projekte opnoem, en as ons verduidelik hoe min tyd ons vir onsself het. Boonop werk ons hard vir die skool en die kerk …
Dis ’n hele kultuur dié: Ons is bésig, ons jaag van die een verpligting na die ander.
Uitputting het niks minder nie as ’n statussimbool geword, en ons koppel ons eiewaarde aan produktiwiteit. Ons meet sukses aan hoeveel ons uitrig, en nie aan wie ons is of hoe ons is nie.
LEES OOK: Lockdown: Van jaag en oorleef na rus en leef
Ons sê gereeld vir onsself: As ek hierdie en hierdie afgehandel het, dan kan ek rus. Ons gebruik rus met ander woorde as ’n soort motivering om te werk en om meer produktief te wees.
Maar is dit die lewe soos God dit vir ons beplan het? Hoe lyk sý ritme vir ons?
Ons leer reeds vroeg in die Ou Testament hoe Hy ’n rusdag ingestel het. En in die Evangelies lees ons hoe gereeld Jesus Hom in stilte afgesonder het (vgl Mark 6:31; Luk 5:16).
Rus was nooit veronderstel om opsioneel te wees nie. Dis nie bedoel as ’n beloning vir harde werk nie. Reguit gesê: Rus is nie iets wat ons eers moet verdien nie.
Rus is ’n onontbeerlike deel van ons lewensritme. Soos ons werktyd, is ook ons rustyd niks minder nie as ’n prioriteit.
Maar hoe gaan ek te werk om rus ’n prioriteit te maak?
HIER IS ENKELE WENKE:
* Jy moet gesonde en duidelike grense trek tussen jou werk, familie, verhoudings en selfs jou kerk. Om dit te kan doen, moet jy eerlik met jouself wees oor hoeveel jy kan doen. Oor hoeveel “te veel” is. Jy moet jou persoonlike lewe na gelang van jou behoeftes reël. Jy moet weet as dinge te veel word, en jy moet hierdie behoeftes duidelik met jou geliefdes en ander belanghebbendes kommunikeer.
* Jy moet beplan om te rus. Dit moet ’n inskrywing in jou dagboek wees; dit mag nie bloot die afknyptydjies wees wat jy noodgedwonge moet vul nie.
* Jy moet na ’n gesonde werk-lewe-balans streef. Jy moet jou dae doelbewus vul en doelbewus struktuur daaraan gee. Veral as jy van die huis werk. En jy moet goed besin oor hoeveel verantwoordelikhede jy op jou skouers kan laai.
* Jy moet leer om “nee” te sê. Jy moet die volgende kan sê: “Nee, ek kan nie nou gesels nie.” En: “Nee, ek kan nie nou op die e-pos reageer nie.” Of: “Nee, ek kan nie nou saamgaan nie.”
“Nee” is belangrik in jou persoonlike lewe én in werksverband. Mense wat jou respekteer en liefhet, sal ’n opregte “nee” verstaan en waardeer.
* Jy moet genoeg slaap om optimaal te kan funksioneer. Sewe tot nege ure per nag is die ideaal. (Te veel slaap is ook nie goed nie!)
LEES OOK: Sabbatsrus
* Jy moet gesond eet om jou liggaam te voed en van die nodige energie te voorsien.
* Jy moet vra as jy hulp nodig het. Jy moet hulp aanvaar as dit aangebied word.
* Jy moet tyd maak vir lang vakansies so tussen jou werk deur – al werk jy vir jouself.
* Jy moet tyd maak vir oefen om jou energiereserwes op te bou en weer kontak met God se natuur te maak.
Jy moet dit weet: Rus is ook ’n vorm van aanbidding. Dis ’n sigbare teken dat ek God met al my take vertrou. Hiermee erken ek dat Hy in beheer van my lewe en al my planne is.
Hoor Jesus se uitnodiging:
“Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee. Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus kry vir julle gemoed. My juk is sag en my las is lig.” (Matt 11:28-30).
- Simone Gauche is ’n mamma en ’n eggenote. Sy is ’n mediese dokter wat in die staatshospitaal op Mosselbaai werk.