Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

Sing ’n loflied in die storm

DEUR SIMONE GAUCHE

Nkosi Sikelel’ iAfrika. God seën Afrika.

Daarom: Juig maar, Suid Afrika!
Wees vrolik en bly met alles wat in jou is, my Reënboognasie!
Die Here het ’n einde gemaak aan jou straf.
Hy het die koronavirus laat wyk.
Die Koning van Mzansi,
die Here, is by jou.
Jy hoef nie meer Covid-19 te vrees nie.
Daardie dag sal daar in Suid-Afrika gesê word:
Moenie bang wees nie, Reënboognasie!
Moenie jou hande moedeloos laat hang nie.
Die Here jou God is by jou,
Hy, die krygsman wat red,
Hy is vol vreugde oor jou,
Hy is stil-tevrede in sy liefde.
Hy jubel en juig oor jou.

Hy sê: Ek maak dié bymekaar wat treur,
ver van die feesvieringe af,
dié wat uit jou uit kom
en ter wille van jou die smaad gedra het.
Ek gaan nou optree teen die virus wat jou verdruk het,
Ek gaan die siekes help,
die weduwees bymekaarmaak
en die vernedering wat hulle moes ondergaan,
in eer verander,
in roem oor die hele aarde.

Wanneer die tyd daar is,
laat Ek julle kom,
maak Ek julle bymekaar
en gee Ek aan julle roem en eer
onder al die volke op aarde;
dit is die tyd wanneer Ek
julle lot verander,
julle sal dit met julle eie oë sien,
sê die Here. *

LEES OOK: ’n Brief aan die jong mens wie se lewe deur Covid-19 weggeneem is

Lofprysing tydens ’n storm voel dalk soos om ’n nuwe paar tekkies te kry. Dit sit aanvanklik ongemaklik, dit voel net nie reg nie. Maar namate jy aanhou en uithou, word dit ál gemakliker, ál meer nommerpas. Later wonder jy hoe jy ooit sonder dié tekkies reggekom het.

Lofprysing is ’n gewoonte wat aangeleer word. Dis ’n leefwyse; dis nie afhanklik van jou omstandighede nie.

Dis dikwels bitter moeilik om te dink dat die beproewings en swaarkry wat ons ervaar tot iets positiefs sal lei. Ons kan nie altyd die groei sien wat ons wel beleef terwyl ons getoets word nie. En ons kan beslis nie sien waarop alles afstuur nie.

Daarom is dit moeilik om God by voorbaat vir die oorwinning te prys. Maar die storie van die lewe, ons lewe, is waarskynlik die enigste storie waarvan ons die uiteinde reeds ken. Dis eenvoudig, want Christus het reeds oorwin.

LEES OOK: Die onsigbare las van Covid: Was dit mý skuld?

Ons weet dus hoe die storie eindig: Dit eindig altyd in oorwinning. Daarom kán ons God nou reeds vir die oorwinning loof. Ons doen dit nou – en later weer wanneer dit voor ons oë voltrek word.

Sing dus maar jou loflied, al loop die trane. Loof Hom!

*’n Verwerking van Sefanja 3:14-20.

  • Simone Gauche is ’n mamma, eggenote en ’n mediese dokter wat in die staatshospitaal op Mosselbaai werk.

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF

Kry
LiG

Jou daaglikse inspirasievennoot.

Die LiG-app is nou beskikbaar vir jou selfoon. Installeer dit vandag nog.