Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

Soos bome by ’n waterstroom

24 Februarie 2021


DEUR SIMONE GAUCHE

Die wilgerboom se arms hang slap
Hy trek sy vingers deur die water
Hy ril soos die bries deur hom trek
Skud die stof uit sy hare
Hy ruik rook wat oor die vlakte rol,
’n gloed kielie sy wange.
Hy sien die vlamme soos slange wriemel,
oor die koppie seil.

Dit is nie sy eerste brand nie,
die laaste was in 2017.
Om die draai staan die swart geraamtes van soetdoringbome
Hy skop sy wortels styf in die rigting van die plaasdam
Die water kielie sy tone
Hy rek uit met kreungeluide en krake

Voëls vlieg verskrik in geen rigting
Geen tak om op te rus, geen huis
Maar die wilgerboom wag onverpoos
Hy ken nie vrees nie
Hy vertrou op die water
Hy proe die genade

In sy lied “Sparrows” sing Cory Asbury: “A tree that’s planted by the water isn’t fazed by the fire.” Dié frase het by my vasgesteek. Ek het weer daardie bekende verse in Jeremia gaan naslaan (sien hieronder), en dit alles het my laat dink aan die vreemde tye waarin ons leef. Ek moes eenvoudig pen op papier sit.

LEES OOK: Nuwe rubriek: Die reuk wat mammas drá …

Water is noodsaaklik vir lewe. As mediese dokter word ek dikwels hiermee gekonfronteer. Alles wat lewe, het water nodig – 70% van die aarde word daardeur bedek, en 70% van jou en my liggaam bestaan daaruit.

Talle mediese toestande kan met vog behandel word. Die ou mense het nie verniet gepraat van iemand wat ontwater nie.

En ek wonder soms of ons nie dalk ’n bietjie geestelik ontwater het nie.

“Water” word 722 keer in die Bybel genoem, waarvan die eerste in Genesis 1:2 en die laaste in Openbaring 22:17. Ons lees hoe die dorstiges genooi word om te kom drink. Ons lees hoe Moses water uit ’n rots laat vloei, hoe die Here die see oopgekloof het, hoe ’n groot vloed die aarde oordek het. Jesus het op water geloop, Hy is met water gedoop, sy eerste wonderwerk was om water in wyn te verander. Uit sy kruiswonde het daar water en bloed gekom.

Daar is so baie vrees en onsekerhede om ons. Mense word lamgelê deur hul gevoel van beheerverlies, ten spyte van die feit dat ons toekomsplanne nog nooit in ons eie hande was nie. As daar een ding is waaraan die pandemie ons kom herinner het, is dit ons afhanklikheid van God.

Ek en jy is soos bome wat by ’n waterstroom geplant is. Die vlamme kan maar kom – of dit nou ’n virus, werkonsekerheid of die dood van ’n geliefde is. Ons blare mag dalk verskroei en val, maar ons wortels is in die bron van ewige lewe geanker. Ek neem my voor om my wortels na die water uit te stoot, en om vrugte te dra ten spyte van, ongeag, en al gebeur wat ook al.

LEES OOK: Leer jou kind selfdissipline

Die bekende prediker Andrew Murray het gesê: “Net soos water altyd die laagste plek soek en vul, so vloei sy glorie en krag op hierdie oomblik na waar God mense afgetakel en leeg vind, om hulle te verhef en te seën.”

Ten spyte van al die onsekerheid is daar soveel wat dieselfde gebly het en waaraan ons kan vashou: God se goedheid; sy liefde vir ons; sy liefde vir hierdie wêreld en vir sy kinders. Op Hom kan ons vertrou.

Jesus het belowe dat as ons van die water drink wat Hy gee, ons nooit weer dors sal hê nie. Mag ons berusting en vrede vind in die feit dat ons wortels stewig in sy lewegewende water geanker is.

Uit die Woord

“Dit gaan goed met die mens wat sy vertroue in die Here stel, die mens vir wie die Here ’n veilige vesting is;  so iemand is soos ’n boom wat by water geplant is en sy wortels na die stroom toe uitstoot, nie die hitte voel as dit kom nie en altyd groen blare het; ’n droë jaar raak hom nie en hy hou nie op om vrugte te dra nie” (Jer 17:7-8).

  • Simone Gauche is ’n mamma, eggenote en ’n mediese dokter wat in die staatshospitaal in Mosselbaai werk. Sy het ’n passie vir vrouegesondheid en wil graag ’n gesonde liggaam, verstand en gees bevorder. Sy reken dat dié drie nie van mekaar geskei kan word nie. Sy stel ook in vroeëkinderontwikkeling belang, veral nadat haar twee seuns in onderskeidelik 2018 en 2020 gebore is. Sy is daarvan oortuig dat ’n gesonde, gelukkige mamma die bousteen vorm vir gesonde, gelukkige kinders en ’n gesonde, gelukkige gesin.

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF

Kry
LiG

Jou daaglikse inspirasievennoot.

Die LiG-app is nou beskikbaar vir jou selfoon. Installeer dit vandag nog.