19 Mei 2021
DEUR SIMONE GAUCHE
’n Domineevriend het my eenmaal vertel wat een van sy professore gereeld gesê het: “’n Goeie dominee loop altyd rond met sy notaboekie in sy sak.”
Ek dink hiermee wou die geleerde iets oor mindfulness sê. Iets oor ’n lewe waar jy nie bloot beweeg in die ruimte om jou nie, maar waar jy deel daarvan word, waar jy volledig bewus is van wat om jou gebeur. Altyd op soek na die volgende ding wat ons Here jou wil vertel of leer.
Mindfulness
Ek het self onlangs dieper gedelf in die mediese navorsing wat met mindfulness te doen het. (Dalk, het ek so tussendeur gewonder, kan ’n mens mindfulness met “bewustheid” vertaal, dalk met “aandagtigheid” … ).
LEES OOK: Die mense langs jou pad is belangriker as jou lysie
Hoe ook al, dié betekenisvolle woord kan só gedefinieer word: om op ’n bepaalde manier aandag te gee; doelbewus, op die huidige oomblik, sonder om te oordeel. Dié aksie maak jou los van die verlede, en selfs van wat in die toekoms kan gebeur. Dit maak jou meer bewus van “nou”, dit stel jou teenwoordig in hierdie “nou”.
Vanuit ’n Christelike oogpunt beskou kan ’n mens seker sê dat mindfulness jou bewus maak van God om jou. Jy soek – en vind – Hom in alles wat deur die loop van die dag gebeur. Jou aandag is só gefokus op wat “nou” gebeur dat jy daartoe in staat is om te hoor as Hy met jou praat.
Dink byvoorbeeld aan wat sou gebeur het as Moses nie opgelet het dat die brandende bos nie wou ophou brand nie. Hy het vir seker toe reeds verskeie brandende bosse in sy lewe gesien. Maar . . . iets aan dáárdie bos was anders. En Moses was aandagtig genoeg om daarna op te let.
Nee, mindfulness is nie vreemd aan die Bybel nie. Inteendeel. Dit het immers ’n noue band met *meditasie en *gebed. Dink maar aan hoe belangrik afsondering en gebed vir Jesus was. Onthou Daniël wat drie maal per dag voor God gekniel het.
*Meditasie
Meditasie (oftewel ’n bewuste stil word) word al langer as 2 500 jaar beoefen. Heel onlangs het dié gebruik herleef – en met goeie rede.
Daar is mense wat beweer dat angs (en nie die koronavirus nie!) die siekte van ons tyd is. Almal is op soek na ’n wonderkuur vir hul angs.
LEES OOK: ‘Daar is werklik engele om ons,’ vertel skrywer ná haar dogtertjie se dood
Meditasie hou inderdaad talle mediese voordele in. Daar is trouens toenemend sulke bewyse, wat uiteraard die gebruik van meditasiepraktyke in die behandeling van mediese toestande ondersteun.
Meditasie verlig onder meer angssimptome en spanning, en dit word vir die behandeling van depressie en slapeloosheid gebruik, asook by die onttrekking van verbode middels.
*Gebed
Daar is verskeie soorte meditasiepraktyke. In die Christelike geloof is daar iets soos toewydingsmeditasie. Dis ’n soort Christelike gebed, maar met die klem op meditasie, ’n verbintenis tot God in ’n oop en passiewe manier.
Hier kom die sogenaamde sentreringsgebede ook ter sprake. By dié gebede word spesiale aandag aan jou gebedshouding en jou asemhaling gegee, asook die ruimte wat jy in beslag neem. Die doel van dié gebed is nie om jou verstand “leeg” te maak nie; dit vra die bereidwilligheid om jou gedagtes te laat kom-en-gaan, terwyl jy ’n bepaalde woord gebruik om gefokus te bly. Sentreringsgebede verskil van ander vorms van meditasie, want die klem lê hier op jou “bedoeling” eerder as jou aandag of jou konsentrasie.
Die geheim
Dit voel dalk of dit teen alle logika indruis – maar dalk lê die geheim van meer aktief na God luister daarin om meer passief te wees.
Ek dink ’n mens kan dit eenvoudig só sê: Mindfulness kan jou help om meer gereeld stil te word, om minder te praat, om meer te luister.
Dis by hierdie dinge wat geloof en wetenskap se paaie kruis. En dit laat my in verwondering oor die menslike ontwerp.
Dalk moet ons doodeenvoudig met meer aandagtigheid begin lewe, elke dag. Ja, dalk moet ons almal maar ’n notaboekie aanskaf.
“Wees stil en weet Ek is God!” (Ps 46:11 – Nuwe Lewende Vertaling)
- Simone Gauche is ’n mamma, eggenote en ’n mediese dokter wat in die staatshospitaal in Mosselbaai werk. Sy het ’n passie vir vrouegesondheid en wil graag ’n gesonde liggaam, verstand en gees bevorder. Sy reken dat dié drie nie van mekaar geskei kan word nie. Sy stel ook in vroeëkinderontwikkeling belang, veral nadat haar twee seuns in onderskeidelik 2018 en 2020 gebore is. Sy is daarvan oortuig dat ’n gesonde, gelukkige mamma die grondslag lê vir ’n gesonde, gelukkige gesin met gesonde, gelukkige kinders.