Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

Verandering: Van moeite na morsig na die moeite werd

DEUR SIMONE GAUCHE

Ons het onlangs besluit om verbeterings aan ons huis aan te bring. Enigiemand wat al deur so ’n proses is, sal begrip hê met die frustrasies wat daarmee saamgaan. Dis stof orals. Jou besittings is in bokse toegeplak en jy het geen idee waar enigiets is nie. En, as jy weet, lê dit wat jy soek waarskynlik in die heel onderste boks, in die heel agterste kamer! My kinders is met hulle skoolkossies in plastieksakke skool toe, omdat hul tassies nog weggepak is. En ek kan nie onthou wanneer ek laas geoefen het nie, bloot omdat ek nie weet waar my oefenklere of -toerusting is nie.

LEES OOK: Ons lig bring hoop in die duisternis

Ek het ’n boek gelees van Robin Shwarma waarin hy skryf dat alle verandering moeilik is aan die begin, morsig in die middel en die moeite werd aan die einde. Ek dink daar is baie waarheid in die stelling en nie net as dit by verbouings kom nie.

’n Groot deel van my werk is om mense te motiveer om leefstylveranderinge te maak; groot veranderinge wat verreikende gevolge kan dra. Uit ervaring kan ek sê dat in die meeste gevalle is die moeilikste deel van verandering om die besluit te maak om te verander. Dit is ook die deel waarmee ek die minste kan help, want ’n mens kan nie vir iemand besluit om te verander nie. Jy moet sélf wil verander. Om te wil verander, moet jy eerlik met jouself kan wees en jou eie denke en optrede objektief ondersoek. Om te wil verander, moet ’n mens ’n rede hê om te verander. Iets moet gebeur om jou te oortuig dat die manier wat jy oor dinge dink of dinge doen, verkeerd is. En dit is moeilik om te erken.

Ek dink dis hoekom wanneer daar in Romeine van verandering gepraat word, daar staan: “Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is” (Rom 12:2).

Vou jou kinders toe in ’n gebede-kombers

Verandering begin by jou denke. Om jou denke te verander is moeilik. Dit is ’n langsame proses en aanvanklik lyk dit van buite asof daar niks gebeur nie. Soms lyk dit selfs nog erger as tevore, net soos met verbouings. Alles is deurmekaar en dit voel of daar geen vordering is nie. Om jou denke te verander en te erken dat die manier wat jy voorheen gedink en geredeneer het verkeerd was, verg baie moed.

En hierna lê die morsige middeldeel nog voor, wanneer jy probeer toepas wat jy wysgeraak het en die verandering stadig sigbaar word, maar die proses is uitgerek en ver van perfek. Dis nog probeer-en-tref en telke male faal jy, selfs al weet jy in jou kop en met jou denke wat moet gebeur. Die morsige middel is frustrerend, maar ook hieroor is daar geen onduidelikheid in die Bybel nie. Ons kan nie stop by ons denke vernuwe nie, ons moet doen ook. Ons moet ons geloof uitleef.

“Julle moet doen wat die Woord sê en dit nie net aanhoor nie, anders bedrieg julle julleself. Iemand wat altyd net die woord aanhoor en nooit doen wat dit sê nie, is soos een wat na sy gesig in ’n spieël kyk: hy bekyk homself, gaan van die spieël af weg en vergeet dadelik hoe hy gelyk het. Maar iemand wat hom verdiep in die volmaakte wet wat ’n mens vrymaak, en hom daaraan hou en nie vergeet wat hy hoor nie, maar dit doen, hy sal gelukkig wees in wat hy doen” (Jak 1:22-25).

Gelukkig was die bedoeling vir ons as gelowiges nooit om alleen te probeer verander nie. Ons het ’n helper gekry wat ons bystaan tydens die moeilike, morsige en deurmekaar proses van verandering. Die Heilige Gees staan ons by en gee ons krag en deursettingsvermoë om uiteindelik by ons einddoel uit te kom. “Maar die Trooster, die Heilige Gees, wat die Vader in my Naam sal stuur, Hy sal julle alles leer en sal julle herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het” (Joh 14:26).

Is dit nie wonderlik nie! Met die Heilige Gees se hulp kan ons uiteindelik by die einde uitkom waar alles mooi lyk en alles die moeite werd was. Die projek is afgehandel. Die nuwe gewoonte is gevorm. Die bouvalle is vergete.

Jy staan vir ’n oomblik terug en bewonder die eindproduk en jy wonder hoekom jy nie al lankal die besluit gemaak het om te verander nie.

  • Simone Gauche is ’n ma en ’n mediese dokter wat in die staatshospitaal op Mosselbaai werk.

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF

Kry
LiG

Jou daaglikse inspirasievennoot.

Die LiG-app is nou beskikbaar vir jou selfoon. Installeer dit vandag nog.