Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

Vergeet van al die doendinge dié Feestyd: Rus by God

DEUR MILANIE VOSLOO

Die jaar 2022 se uurglas loop leeg – en dis Feestyd. Advent, Kersfees. Asemskeptyd. Rustyd. 

Dis die rustyd wat jy na liggaam, siel en gees só nodig het. Ons weet dit, en tog is dit nie altyd so maklik om werklik tot stilstand te kom nie. Dalk is dit omdat ons ons lewe te vol prop met allerhande dinge; moontlik ook omdat ons sukkel om onsself toestemming te gee om werklik te rus. Om alles wat ons moet doen, te laat vaar. Om die vrede van bloot “wees” te geniet. 

Ek wil jou uitnooi, nee, mooi vra, om in dié tyd jou ritme te verander. Om jou vooropgestelde idees van wat jy veronderstel is om te doen en te wees prys te gee. Om God se geskenke aan jou te ontvang. 

Ja, ruim tyd in om onder sy Kersboom te gaan sit en al dié dinge by Hom te kry: 

  • Hoop. Dis die wete dat, ongeag jou omstandighede en ongeag al die wêreldse hoop-dinge wat toe nie ’n werklikheid geword het nie, die Immanuel altyd by jou is. Sien vandag die Baba in die krip raak, die Man aan die kruis. Maar kyk dan ook na die leë graf en weet: Hy was hier. Sy Gees van hoop en waarheid is in jou. Vestig daarom jou hoop (soos die digter van Psalm 131:3) op Hom. Hy sal jou altyd veilig laat voel; jou versorg op die regte tyd; jou moed gee wanneer jy dit nodig het; jou sterk maak as jy uitgeput is; en jou lei waarheen jy ook al gaan. 
  • Sy vrede. Drink dit in. Dis ’n vrede wat weet dat, ten spyte van die geroesemoes om jou, jy rustig jouself kan wees omdat jy weet aan wie jy behoort. En daarom, selfs al verloop alles nie noodwendig seepglad in jou lewe nie, kan jy die diepe vrede ervaar dat God jou vashou. Dat sy plan met jou lewe volmaak is. En dat jy, al verstaan jy nie alles nie, kan bly vashou aan die Een wat in beheer is. Weet ook dat Hy altyd die ruwe hoogwater in sagte uitspoelbranders kan verander. 
  • Vreugde. Maak in hierdie dae tyd om stil te word voor die God van vreugde. Skuif jouself opsy en laat toe dat Hy jou met sy soort denke en wysheid vul, met sy soort nabyheid en sorg omhels, en met sy soort diepe sonskyn-genademomente vul. Hou sy hand vas en vind dan vreugde in Psalm 37:34, waar belowe word dat Hy op die regte oomblik jou hoog bo al jou probleme sal uitlig. 
  • Onvoorwaardelike liefde. Ontvang veral die Kripkind – die Man aan die kruis – se onvoorwaardelike liefde vir jou. Dis ’n liefde wat sê dat Hy nie iets van jou verwag nie, behalwe die gee van jou hart. Ontvang dan ook hierdie geskenk vir jouself in die wete dat jy oukei in Hom is, ongeag. En die wete dat jy ook hierdie sonder-voorbehoud-liefde wil aangee aan die mense om jou. 

Ek bid jou ’n geseënde Feestyd en nuwe jaar toe. Mag jy werklik God se soort hoop, vrede, vreugde en liefde ervaar, en daarom régtig rus.

Onder u Kersboom 

Vandag kniel ek voor U, Kripkind, 

U wat ware hoop en vrede kom bring het. 

Ek kniel voor U, Here Jesus, 

U wat aan ons ware vrede gebring het. 

Ek kniel voor U, Heiland, 

U wat elke dag u soort vreugde in my hart kom lê. 

Ja, ek kniel voor U, Man-van-die-Kruis, van die leë graf, 

U wat u hart van liefde – die léwe – 

vir ons kom gee het. 

Dankie, Here, vir die vier pakkies vol hoop, 

vrede, vreugde en liefde 

wat elke dag onder u Kersboom-van-lewe lê. 

Vandag maak ek hierdie geskenke oop 

en vind ek rus, ware rus, 

omdat ek dit my eie maak. 

En wil aangee. 

Ja, Here, maak my in hierdie dae, 

en in die jaar wat voorlê, ondanks myself, 

so ’n klein bietjie soos U. 

Asseblief.

  • Dié artikel verskyn in die Someruitgawe 2022/2023 van die gedrukte LiG. Klik hier om op die tydskrif in te teken.
  • Milanie Vosloo is ’n topverkoper-skrywer van verskeie geestelike boeke. Sy is die stigter en besturende direkteur van Uppe Marketing. Haar passie is om mense te inspireer. Sy wil deur die krake van haar eie menswees iets van God se lig aangee. Sy hou baie van skryf, fietsry en die buitelewe. Sy onderneem gereeld fietstoere saam met haar man. Kontak haar by mv@uppe.co.za

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF