Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

Vertrou God met jou persoonlike oorlog

DEUR SIMONE GAUCHE

Psalm 20 is ’n psalm van Dawid waarin die koning verseker word dat die Here sy gebed verhoor nog voordat hy op ’n veldtog vertrek. Dit was trouens die destydse gebruik om voor ’n veldslag voorbidding te doen vir die koning. Hierdeur word erkenning gegee aan die Een wat die oorwinning gee.

Ons is almal, elke dag, besig met ons eie gevegte. Soms is dit ’n probleem by die werk; soms ’n poging om ’n gebroke verhouding te herstel. Daar is gevegte teen siekte, ’n sondige gewoonte, neerslagtigheid, en etlike ander dinge.

LEES OOK: Die vrae wat ons in krisistye vra

Wanneer sulke uitdagings hulle aanmeld, vergeet ons soms om daaroor te bid; ons spring sommer halsoorkop in en baklei dat die hare waai.

Dis eers wanneer dinge begin skeefloop dat ons ons tot God wend. Dat ons sê: “Here, help!”

Ons maak dit moeilik vir onsself. Pleks ons getuig soos Dawid dat dit slegs God is wat die oorwinning gee as ons in sy Naam oorlog voer … Pleks ons vertrou ook byvoorbaat ons persoonlike oorlog aan Hom toe.

Simone Gauche is ’n LiG-rubriekskrywer en mediese dokter in Mosselbaai. Sy deel weekliks haar geloofs- en ouerskapreis met lesers. Foto: Emily Bunting

Daar is wel ’n voorwaarde: Ons moet eers vasstel of dit ’n geveg is wat oor onsself gaan, en of dit ’n geveg is waarin ons God se wil soek. As ons dan voor so ’n geveg wil bid, moet ons eers tussen ons wil en sy wil onderskei.

As ons daarvan oortuig is dat dit oor God se saak gaan, weet ons dat ons die geveg werklik in sy Naam mag aanpak. Ons vyand is dan ook sý vyand.

Die uiteindelike oorwinning geskied dan tot sy eer, dit verheerlik sy Naam en laat sy koninkryk kom.

Bid dan nou saam met Dawid:

“Mag die Here jou gebed verhoor op die dag wanneer jou oorlog aanbreek. Mag die Naam van die God van gister, vandag en môre jou beskerm.

Mag Hy jou help uit sy heiligdom en jou bystaan deur sy Heilige Gees.

Mag Hy al jou offergawes in gedagte hou en al die tyd wat jy bestee het en werk wat jy gedoen het aanneemlik vind.

Mag Hy jou gee wat jou hart verlang

en al jou planne laat slaag.

Ons sal saam met jou bly wees oor jou sege en in die Naam van ons God die vlag van oorwinning hoog hou.

Mag die Here jou alles gee wat jy vra.

Dit weet ek: Die Here sal aan sy geliefdes die oorwinning gee!

Uit die heilige hemel verhoor die Here gebede;

die Here gee deur sy groot mag die oorwinning.

Sommige vertrou op rykdom en ander op mag, maar óns, ons vertrou op die Naam van die Here ons God.

Húlle sal struikel en val, maar óns staan op en bly staande.

Here, gee tog aan u dienaars die oorwinning!”

– na aanleiding van Ps 20:1-10

  • Simone Gauche is ’n mamma en ’n mediese dokter wat in die staatshospitaal op Mosselbaai werk.
No data was found

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF