DEUR SIMONE GAUCHE
Dis nou die tyd om vas te stel waar jy met nuwejaarsvoornemens staan. Diegene wat reeds sulke voornemens gemaak het, het met groot ywer op 1 Januarie weggespring.
Maar dalk het 2021 met al sy uitdagings jou so mismoedig gemaak dat jy jou gebruiklike voornemens links gelaat het. Dalk het jy gedink: Wat baat dit my om te beplan as ’n virus al my planne in die wiele kan ry?
Intussen is die sosiale media aan ’t gons oor die sogenaamde woord van die jaar. Dit is jou eie woord van die jaar, in plaas van ’n lys voornemens, wat sal verklap wat jou fokus vir 2022 is. Vanselfsprekend moet hierdie woord die hart van jou voornemens beskryf, en dalk ’n soort “sambreel”-woord wees wat die nuwe jaar vir jou akkuraat vasvang.
Ek het in Paulus se eerste brief aan die Korintiërs ’n klompie woorde gevind wat as ’n riglyn kan dien vir die jaar wat kom. Dié woorde kan jy op jouself van toepassing maak, en dis maklik om dit vir jouself toe te eien. Hier is vier daarvan:
Heilsaam
Dit kan omskryf word as enigiets wat tot goeie of beter gesondheid lei. Heilsaamheid is die toestand wat goeie gesondheid of geluk bring.
LEES OOK: God gaan haal sy kinders – selfs in ’n Hillbrow-stegie
Om jou leefwyse te verander, is sekerlik een van die mees algemene nuwejaarsvoornemens. Kyk maar in die eerste paar Januarie-weke: Die strate is vol stappers en die slaairak in die supermark is leeg. Die mense wat hiervoor verantwoordelik is, se idee van heilsaamheid het met gesonder eet te doen, met meer water drink, met alkohol beperk en met meer oefening.
Onthou ook dat heilsaamheid vir jou kan beteken om meer te mediteer, om aandag aan jou geestesgesondheid te skenk.
Paulus skryf: “Daar is mense wat sê: ‘Alles is geoorloof.’ Ja, maar nie alles is heilsaam nie” (1 Kor 10:23).
Opbouend
Opbouend fokus op selfverbetering. Is daar iets wat jy hierdie jaar moet doen om jou weer op te bou? Gaan jy op Bybelstudie fokus? Dalk wil jy ’n nuwe vaardigheid aanleer, dalk ’n nuwe taal. Wil jy meer lees?
Opbouend kan ook beteken dat jy besluit om negatiewe selfspraak te staak. Ons praat dikwels van opbouende kritiek, oftewel kritiek wat jou inspireer om te verbeter. Dalk is dit tyd om die stukkies op te tel en jou weer op te bou.
Jy kan natuurlik ook besluit om iemand anders op te bou.
Lees wat skryf Paulus: “‘Alles is geoorloof,’” sê hulle. Ja, maar alles is nie opbouend nie” (1 Kor 10:23).
Ander
Miskien is 2022 die jaar waarin jy jou fokus van jouself na ander verskuif. Indien wel, wat gaan jy vanjaar tot voordeel van ander doen?
LEES OOK: Rus is ’n vorm van aanbidding
Wat gaan jy doen om God se koninkryk te laat kom daar waar jy werk en leef? Wat het jy om aan die liggaam van Christus te bied? Waar kan jy bruikbaar wees?
Jy is uniek geskape om ’n baie bepaalde funksie op hierdie aarde te verrig. Weet jy al wat dit is?
Weer Paulus: “’n Mens moet nie sy eie voordeel soek nie, maar dié van ander. Maak soos ek: ek probeer om almal in alles tegemoet te kom. Ek soek nie my eie belang nie maar dié van baie ander, sodat hulle gered kan word” (1 Kor 10:23, 33).
Eer/eerbied
Aan wie behoort die eer in 2022?
Dalk wil jy besluit om jou lewe doelbewus ’n loflied aan jou hemelse Vader te maak. Miskien behels dit dat jy meer dikwels dankbaar wil wees, dat jy meer tyd in gebed wil deurbring. Dalk wil jy iets tot God se eer skep.
En dalk wil jy bloot meer bewus wees vir wie jy doen wat jy doen, vir wie jy éintlik leef.
Paulus: “Of julle eet en of julle drink of wat julle ook al doen, doen alles tot eer van God” (1 Kor 10:31).
Siedaar, my voorstelle! Vier eenvoudige woorde uit een van Paulus se briewe. Met elkeen wat ons heelwat gee om oor na te dink.
Nuwe jaar, nuwe jy? Dalk, ja.
Maar wat van … nuwe jaar, beter jy?
- Simone Gaucheis ’n mamma en ’n eggenote. Sy is ’n mediese dokter wat in die staatshospitaal op Mosselbaai werk.