DEUR SIMONE GAUCHE
Daar is ’n Afrikaanse gesegde wat lui: “Goeie wyn het nie ’n krans nodig nie.” Oftewel: Iets wat goed is, hoef nie geprys te word nie.
My man is nie regtig ’n wyndrinker nie, maar hy sê gereeld dat hy baie nuuskierig is om te weet hoe die wyn gesmaak het wat Jesus by die bruilof in Kana gemaak het. Dalk was dit die lekkerste wyn ooit.
Uit die seremoniemeester by daardie troue se reaksie blyk dit dat dit inderdaad lekker was: “’n Mens sit gewoonlik eers die goeie wyn voor, en as die mense goed gedrink het, dié van swakker gehalte; maar jy het die goeie wyn tot nou toe teruggehou” (Joh 2:10).
Gelukkig, as ek die Bybel reg verstaan, sal ons wel eendag van dié wyn by ’n groot feesmaal kan drink . . .
Nie toevallig nie
Ek het al baie gewonder waarom Jesus se eerste wonderwerk juis dié was om water in wyn te verander. Dink net aan al die ander wonderwerke wat Hy gedoen het – blindes wat sien, lammes wat loop, dooies wat opgewek word. Maar, ja, sy eerste wonderwerk was om wyn te maak by ’n bruilofsfees.
Ek dink nie dit was toevallig nie. Ek reken dit was ’n goedberekende besluit. Hoor wat sê die Evangelieskrywer Johannes: “Hierdie eerste wonderteken het Jesus in Kana in Galilea gedoen. Hy het daardeur sy heerlikheid laat blyk, en sy dissipels het tot geloof in Hom gekom” (Joh 2:11).
Dit het my aan die dink gesit:
- Dalk wou Jesus ons daaraan herinner dat ons die lewe voluit moet geniet. Gelowiges hoef nie met somber gesigte deur die lewe te gaan nie. Die Here se genade vir ons is oorvloedig en oordadig; Jesus maak immers by daardie troue nie minder nie as ses honderd liter wyn! Nee, ons hoef nie skuldig te voel om die gawes uit God se hand te geniet nie.
- Dalk wou Hy ons daaraan herinner dat ons die spesiale tye saam met ons geliefdes moet waardeer en dit nie as vanselfsprekend aanvaar nie. Ons moet dit in gedagte hou wanneer ons die feesseisoen betree, juis in ’n tyd soos dié.
- Miskien wou Jesus beklemtoon hoe belangrik rituele vir ons geloof is. Die huwelik is immers deur God ingestel. Daar is baie spesiale dae op die Christelike kalender, elk met ’n eie karakter en eie rituele. Ons moet dit koester en deel maak van ons lewensritme voor sy aangesig.
- Dalk was ’n troue vir Jesus so spesiaal omdat dit een van die beste metafore bied om ons verhouding met God te verduidelik. Die kerk is tog Christus se bruid.
- Dalk bied elke troue aan ons ’n voorsmakie van die feesvieringe wat op ons wag by die bruilofsmaal van die Lam, aan die tafel wat God vir ons voorberei.
- Miskien het dit alles te make met die feit dat wyn ’n produk van die wingerdstok is. Jesus het gesê dat Hy die wingerdstok is en dat ons in Hom moet bly.
- Miskien wou Hy dit hiermee duidelik stel dat Hy by ons is wanneer ons feesvier. Dat ons Hom tydens ons feestye moet eer, net soos ons Hom roep wanneer ons krisisse beleef.
Goeie wyn het dalk nie ’n krans nodig nie. Maar die een wat die goeie wyn gemaak het, die vlekkelose Lam, het wel ’n doringkrans gekry. Uiteindelik word die sirkel voltooi wanneer Jesus by die laaste ete saam met sy dissipels die beker met die wyn neem en sê: “Dit is my bloed . . .”
My wens vir jou, waar jy jou ook al in dié feesseisoen bevind, is dat jy sal feesvier soos Jesus dit bedoel het. Dat jy voortdurend van God se teenwoordigheid by jul feesvieringe bewus sal wees.
Geniet die groot dae met oorgawe! Dit is ’n gawe uit God se hand.
- Simone Gauche is ’n mamma en ’n eggenote. Sy is ’n mediese dokter wat in die staatshospitaal op Mosselbaai werk.