1 Maart 2021
DEUR LYNETTE STRYDOM
Vandag waai die wind vermakerig in ons vriendelike stad. Met byname soos PE, Baai, die Vriendelike Stad of die winderige stad is sy alombekend oor die wêreld.
LEES OOK: VIDEO: Vermoorde Charl Munnik se suster gesels oor sy nalatenskap
’n Paar dae gelede is haar rotsvaste fondasies geskud met ’n naamsverandering. Sy is verneder en beroof van haar jarelange doopnaam. Die nuwe naam is die grootste grap op sosiale media. Selfs teen die lamppale word dit uitgelag. ’n Opstand onder die stadsbewoners. Wie kan dit uitspreek?
Het iemand werklik somme gemaak en bereken wat die koste gaan wees om alles te stroop van die ou bekende geskiedkundige naam? En haar dan te laat met ’n kort, vreemde naam? Totaal onbekend.
Is daar nie meer behoefte daaraan om mense op te hef nie? Sedert die grendeltyd het ons gesien hoe nodig kospakkies is. Skole word gesluit weens geen staatshulp. Nou moet daar skielik naamsveranderings gemaak word. Miskien is dit werkskepping, maar teen ’n groot prys.
Die einde van die bekende naam stop gelukkig nie ons stad se geskiedenis nie. ‘n Geskiedenis wat sedert my kinderjare net mooi herinneringe inhou. Maar wat hou die toekoms in?
Gqebera sal jy nou genoem word. Maar vir mý sal jy sommer net Port Elizabeth bly.
- Lynette Strydom is \’n “gewone huisvrou en tuisbly-mamma” van Port Elizabeth met \’n passie vir haar gesin, die lewe en sy mense. Sy probeer die dinge rondom ons, wat ons soms miskyk, op papier vasvang.