Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

Vou jou kinders toe in ’n gebede-kombers

DEUR SIMONE GAUCHE

Ouerskap bly een van die grootste voorregte in die lewe, en terselfdertyd een van die mees vreesaanjaende reise wat ’n mens kán aanpak.

Elke nuwe fase wat jou kinders betree, gaan met nuwe uitdagings en nuwe vrese gepaard. ’n Mens besef gou hoe hulpeloos jy is wanneer die lewe se golwe oor jou spoel – en veral as dit jou kinders tref. Want alles wat jou kinders tref, tref mos ook vir jou …

Maar al wil jy hoe graag beheer uitoefen oor dit wat met jou kinders gebeur, is dit ’n onbegonne taak. Jy kan hulle regtig nie teen alles en almal beskerm nie.

LEES OOK: God se troue liefde agtervolg jou

Daar is wel een moontlikheid: Bid vir hulle. Gebed is die suiwerste uitdrukking van jou afhanklikheid van die Een wat in beheer is.

As die vrees my beetpak en my gedagtes met my op hol gaan, vind ek vertroosting in een van die oudste seëninge in die Bybel. God se mense van wie ons in die Ou Testament lees, het baie waarde geheg aan die seën van hul kinders. Dit was ’n plegtige en ’n baie ernstige saak. Die ou stamvader Jakob was selfs bereid om sy pa te bedrieg en sy broer Esau se seën te steel.

Bid gerus saam met my die ou seënbede uit Numeri 6:24-26 oor ons kinders:

Die Here sal julle seën …

… met alles wat julle nodig het. Hy sal voorsien in jul fisieke behoeftes: kos, klere en ’n dak oor jul kop. Hy sal voorsien in jul emosionele behoeftes, jul behoefte aan aanraking, betekenisvolle verhoudings en liefde. Hy sal ook voorsien in jul geestelike behoeftes, en Hy sal ’n pad met julle stap, net soos met my.  

… en julle beskerm.

Hy sal julle beskerm teen die aanvalle van die Bose en teen die woorde en dade van mense. Hy sal julle beskerm teen misdaad, ekonomiese onstuimigheid en politieke onluste. En teen julleself, wanneer julle jul eie grootste vyand is.

Die Here sal tot jul redding verskyn …

… as julle in die moeilikheid is. Of as julle foute gemaak het. En selfs wanneer dit voel asof daar gee uitkomkans is nie.

… en julle genadig wees.

LEES OOK: Hoe skakel ek die lig aan?

Hy sal julle sondes vergewe en julle help om weer te begin. Hy sal julle oortredinge skoon was en dit so ver verwyder soos die ooste van die weste is.

Die Here sal jul gebede verhoor …

… en luister as julle om hulp roep. Hy sal verheug wees oor jul dankgebede. Hy sal hoor as julle sy lof besing, Hy sal vergewe as julle om vergifnis smeek, en Hy sal ’n klankbord wees as julle ’n vriend nodig het.

… en aan julle vrede gee.

Die vrede wat Hy aan julle gee, is daardie vrede wat alle verstand te bowe gaan.

En daarom kan ons met vrede in ons hart gaan slaap, al het ons geen beheer oor wat ons kinders beleef of wat met hulle gebeur nie. Ons kan hulle saggies toevou onder ons gebede-kombers, en hul lewe in ons Vader se hande laat.

  • Simone Gauche is ’n mamma en ’n mediese dokter wat in die staatshospitaal op Mosselbaai werk.

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF

Kry
LiG

Jou daaglikse inspirasievennoot.

Die LiG-app is nou beskikbaar vir jou selfoon. Installeer dit vandag nog.