Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

Waar deernis begin: Trek ’n ander se skoene aan

DEUR SIMONE GAUCHE

Ek het onlangs ’n boek gelees oor die kuns van gelukkig wees. Die skrywer, ’n sielkundige, voer ’n aantal gesprekke met die huidige Dalai Lama oor hierdie onderwerp.

Dié ou wysgeer is daarvan oortuig dat deernis (“compassion”) een van die dinge is wat ons gelukkiger maak. En hy reken dat as jy deernis wil omhels, jy die vermoë moet ontwikkel om dinge vanuit ’n ander mens se oogpunt te beskou.

Op pad …

Ons het die afgelope vakansie meer as 3 000 km afgelê. Ons het deur etlike dorpe gery – groot dorpe, klein dorpies. Op teerpaaie en grondpaaie, hoofweë, klein deurpaaie. Ons het meer as een keer ’n provinsiale grens oorgesteek.

LEES OOK: Die vrae wat ons in krisistye vra

Uiteraard het ons die pad met verskeie motoriste gedeel.

En ons het genoeg gesien om ons behoorlik te ontstel.

Ek wou die Dalai Lama se teorie uittoets en vasstel of ek dalk ook op ons land se besige paaie my stukkie geluk kan vind. Dus: In plaas daarvan dat ek my oor ander motorbestuurders se padgedrag verknies het, het ek probeer om sake vanuit hul oogpunt te beskou.

Op ’n keer het die ideale geleentheid hom voorgedoen: Ons kry uiteindelik die geleentheid om ’n stadige vragmotor verby te steek – maar eensklaps spring ’n ander vragmotor ons voor. Laasgenoemde was wel effens vinniger as die eerste een, maar het alles steeds langsaam gedoen.

Toe dink ek: Dis waarskynlik dié vragmotor se enigste kans om die bitter stadige een verby te steek.

Vou jou kinders toe in ’n gebede-kombers

En toe het ek vrede in my hart.

Toe ’n motor ’n ander een om ’n blindedraai verbysteek, het ek my verbeel daar is ’n gesin met ’n siek kind in die kansvatter se motor en hulle moes vinnig by ’n hospitaal kom.

Toe ’n onbeskofte bestuurder sy motor se neus voor ons s’n indruk en nie sy beurt afwag nie, het ek ’n sakeman gesien wat laat was vir ’n belangrike afspraak. Ek het gedink: Hy probeer ook maar net sy bes om sy sukkelende maatskappy te red en vir sy gesin te sorg.

Toe nog iemand versuim om sy flikkerlig te gebruik en ons amper in hom vasry, het ek my verbeel hoe die bestuurder, soos ons, twee peuters in die motor het. Een het dalk ’n pakkie skyfies op die sitplek laat uitval en die bestuurder se aandag afgetrek.

Toe ek nóg ’n oorlaaide motor op die pad sien, het ek gedink aan die prys van brandstof. En hoe almal maar hul sente probeer omdraai.

Om alles te weet …

Abraham Lincoln het eens gesê: “Moet hulle nie kritiseer nie, hulle is net wat ons in soortgelyke omstandighede sou wees.”

As ons die moeite doen om ander se omstandighede te verstaan, besef ons dat hulle, soos ons, maar net mense is. Mense wat hul bes probeer. Mense wat foute maak. Mense met sterkpunte en swakpunte. Mense wat, soos ons, drome droom en ideale koester.

Ewe skielik was daar nie meer padvarke op ons reis nie; slegs mense soos ek.

Probeer ek vir swak en onverskillige motorbestuurders in die bresse tree? Sê ek dat ons maar die padreëls kan ignoreer?

Nee, glad nie.

Maar ons moet die menswees van motorbestuurders, ons medemens, erken. Ek het dit reggekry om my fokus te verskuif van ons motor en ons gesin na ander se perspektief en ervaring.

Ek het dus nie meer kwaad geword as ek ’n verkeersoortreding bemerk nie. Ek het besef my woede help my niks, en dit verander nie die situasie nie.

Evelyn Waugh het gesê: “Om alles te weet, is om alles te vergewe.”

En natuurlik onthou ons Jesus se sterwenswoorde: “Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie” (Luk 23:34).

Jesus kon dit regkry om in sy moordenaars se skoene te loop. Hy het verstaan dat hul optrede deur hul kultuur, hul agtergrond, hul persoonlikheid en hul persoonlike ervarings beïnvloed is. En daarom kon Hy hulle vergewe. Hy het verstaan hoe hulle dink en waarom hulle so dink. En daarom kon Hy verstaan waarom hulle doen wat hulle gedoen het.

Om met deernis te leef

Die bekende agtiende eeuse Engelse skrywer dr Samuel Johnson het eens gesê: “God self, meneer, oordeel nie die mens tot aan die voleinding van sy dae nie. Hoekom moet ek en jy?”

Christene kan gerus die vaardigheid ontwikkel om dinge vanuit ’n ander se perspektief te beskou. Dis trouens noodsaaklik indien jy met deernis wil leef. Dit help ons om op ons ooreenkomste te fokus en nie op ons verskille nie. Al kom ons nie uit dieselfde plek nie, is ons almal in dieselfde rigting op pad: Ons almal wil gelukkig wees.

Wie kan dit beter as ’n Christen verstaan? Ons verstaan tog dat ons almal sondaars is, en dat genade ons geskenk is.

Mag jy hierdie week sagter oordeel en minder kritiseer, en beter verstaan en makliker vergewe.

  • Simone Gauche is ’n mamma en ’n mediese dokter wat in die staatshospitaal op Mosselbaai werk.

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF

Kry
LiG

Jou daaglikse inspirasievennoot.

Die LiG-app is nou beskikbaar vir jou selfoon. Installeer dit vandag nog.