Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

Waar om God te vind

DEUR SIMONE GAUCHE 

Daar is só baie oomblikke tydens ons ouerskapreis wat my laat besef waarom Jesus op ’n keer gesê het dat die koninkryk van die hemel aan kleintjies behoort, en aan mense soos hulle. Onlangs het een van mý kleintjies my weer verstom en my tot nuwe insig gebring.

My oudste, Lodewyk, speel in my kamer terwyl ek aantrek. Ek hou hom met ’n halwe oog dop terwyl hy sit en allerlei liedjies sing. Ek sê: “Mamma is baie lief vir jou. Weet jy dit?”

Sy antwoord aan my?

“Waar bly Liewe Jesus?” En hy wys na sy hart.

LEES OOK: Waar gaan die voetjies loop?

Dit was nie die eerste keer dat hy so iets sê nie. Die eerste keer wat dit gebeur het, het ek gedink hy het my nie goed gehoor nie; sy reaksie was tog onvanpas. Maar omdat dit nou weer gebeur het, het dit my aan die dink gesit.

Ek dink nou daar is iets in hom wat besef dat God liefde is. Wanneer ek dus met hom praat oor my liefde vir hom, is dit vir hom heel natuurlik om dadelik aan Jesus te dink.

Ek reken kinders het ’n ingeboude sensitiwiteit wat hul geloof betref. Hulle weet sekere dinge instinktief; daardie dinge wat ons vergeet wanneer ons ouer word. Ons kop is te vol en ons aandag is verdeel, en dikwels oorheers ons kop ons hart. Ons is geneig om net na God te soek wanneer ons hartseer is, wanneer dit moeilik gaan. Wanneer ons Hom nodig het.

Maar ons bely immers dat God liefde is; hoekom soek ons Hom dan nie in die liefde nie? Sulke liefdesvoorbeelde is baie: die kompliment van ’n vreemdeling; die glimlag van ’n kassier; die onverwagse goedhartigheid wat ons beleef. Wat van die omhelsing van vriende? Die oomblikke van uitbundige vreugde? Die gehaltetyd wat ons saam met ons geliefdes deurbring?

LEES OOK: Dankbaarheid is ’n soort lofprysing

Dié sensitiwiteit vir liefde beteken dat ons bewus sal wees van God se nabyheid in elke oomblik wat ons liefde ervaar, wanneer dié emosie ons hart vul. Liefde verklap so baie van wie God is. En die bewustheid van sy betrokkenheid in al die liefdesoomblikke in ons lewe gee ons ’n veel dieper geestelike ervaring as dié waaraan ons gewoond is.

Hoor wat skryf Johannes: “Wie nie liefhet nie, het geen kennis van God nie, want God is liefde. Hiérin is God se liefde vir ons geopenbaar: sy enigste Seun het Hy na die wêreld toe gestuur sodat ons deur Hom die lewe kan hê. Werklike liefde is dít: nie die liefde wat ons vir God het nie, maar die liefde wat Hy aan ons bewys het deur sy Seun te stuur as versoening vir ons sondes” (1 Joh 4:8-10).

En weer: “God is liefde; wie in die liefde bly, bly in God en God bly in hom” (1 Joh 4:16).

My gebed is dat ons gedagtes ook instinktief na Jesus sal draai wanneer ons liefde ervaar. Sodat ons uit volle bors kan sing: “God is liefde, juig ons harte en bedink wat liefde doen!”

  • Simone Gaucheis ’n mamma en ’n eggenote. Sy is ’n mediese dokter wat in die staatshospitaal op Mosselbaai werk.

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF